Deur Melindi Fourie

Ek hoop die getuienis bemoedig enigiemand, wat soos ek, nie werk het nie of wat nie weet wat om te doen nie. Hou vas aan die Here, met alles wat jy het en as Hy jou roep om iets groots te doen: Doen dit!

Ek is 26 jaar oud en is ’n Engels-onderwyseres in China. Ek geniet my werk baie en ek wil graag my storie deel oor hoe ek hier gekom het.

“Om op die vliegtuig China toe te klim was een van die scaryste, braafste, tog beste besluite van my hele lewe,” sê Melindi. Foto verskaf

Ek het ’n graad in Sielkunde en Linguistiek. Tydens my honneursjaar het ek ’n internskap gekry by ’n uitgewersmaatskappy. Ek het baie vinnig besef dat om heeldag agter ’n rekenaarskerm te sit en te lees nie vir my was nie. Ongelukkig het ek in ’n baie groot depressie verval en ek het geen idee gehad wat om volgende te doen nie. Ek het nogtans besluit om aansoek te doen vir werk in Suid-Afrika. In totaal het ek vir 46 poste aansoek gedoen en nie één gekry nie. Die depressie het al erger begin word. Almal om my het begin werk kry en begin planne maak vir hulle toekoms. Net ek het nie geweet wat om te doen nie.

My vriendin, wat in Suid-Korea skoolhou, het my gekontak en my vertel van haar TEFL-kursus (Teach English as a Foreign Language) wat sy gedoen het. Dit is ’n kursus wat ʼn mens aanlyn kan doen en op jou eie pas kan klaarmaak. Sy het voorgestel dat ek dit moet doen en dan saam met haar in Korea gaan werk. Ek het met die kursus begin in Oktober 2016 (amper aan die einde van my honneursjaar). Ek het my opdragte en toetse November- maand vir hulle gestuur en ek het ’n e-pos ontvang wat gesê het dit sal omtrent drie weke vat voor ek my resultate kan kry. Ek het egter elke dag my e-posse dopgehou en na vyf dae het ek my resultate gekry. Ek het begin kyk waar ek kan aansoek doen vir werk en het natuurlik heel eerste gaan kyk na werke in Suid-Korea.

God het egter ander planne met my gehad. As enige iemand my vra hoe ek in China opgeëindig het, is my antwoord altyd dieselfde. China het my gekies, of dalk was dit God se absolute doel met my om in dié land te woon. Ek het in ’n week ses onderhoude met skole in China gehad en al ses het aan my ’n werksaanbod gemaak.

My keuse was ’n skool met die naam EF (English First) in ’n stad Shijiazhuang (’n stad net suid van Beijing). Die skool en ondervinding was absoluut wonderlik. Ek het baie gou geleer hoe om op my eie voete te staan en hoe om baie uitdagings te oorkom.

Om in ’n land soos China te bly het baie uitdagings. Om byvoorbeeld dokter toe te gaan het ek altyd ’n Chinese kollega nodig om saam met my te kom, want die dokters kan nie Engels praat nie. En hulle manier van dinge doen is net heeltemal anders. As ek ’n keelinfeksie het, trek hulle my bloed om te kyk wat fout is. Ek kan ook nie “gou” winkel toe gaan om iets soos suiker te koop nie, want dit vat baie lank om seker te maak dat dit suiker is wat ek koop en nie iets anders nie. Bittermin goed hier is in Engels en ek moet gewoonlik my beste Chinese poging gebruik om die karakters te ontsyfer. China word ook geken aan sy lugbesoedeling en ek sal nooit weer vars lug as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek kan baie goed onthou hoe ek een dag gesien het wat ek inasem, omdat die lug so vuil was.

Ten spyte van die uitdagings sal ek my lewe in China vir niks verruil nie. Die mense hier is baie, baie vriendelik en is altyd bereid om met enigiets te help – selfs al kan hulle nie Engels praat nie. Dit is so veilig hier en die misdaadsyfer is so te sê nul.

Intussen het ek nou na ’n ander stad getrek met die naam Qingdao. Dit is ’n pragtige stad met ’n sterk Duitse invloed teen die kus. Ek het wonderlike vriende van regoor die wêreld: Amerika, Kanada, Meksiko en Engeland. Met my salaris is dit baie maklik om geld te spaar en te reis. Ek was al in Ierland, Rusland, Thailand en Suid-Korea en dit bly vir my wonderlik om al die nuwe plekke te kan beleef.

As ek terugdink aan wat alles gebeur het kan ek nou God se hand in alles sien. Sy prentjie van my lewe was anders as wat ek gedink het dit sou wees, maar ek sal dit op geen ander manier wou gehad het nie. Ek doen ’n beroep wat ek nooit gedink het ek sou nie en bly in ’n land waarvan ek nooit eers sou kon droom nie. God is goed en in beheer. Sy plan is beter as myne.

Om op die vliegtuig China toe te klim was een van die scaryste, braafste, tog beste besluite van my hele lewe.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail