“Moedig kinders aan om dié dinge te geniet wat geld nie noodwendig kan koop nie: die natuur, kultuur, boeke, musiek, vriendskap, kreatiewe spel en handvaardighede.” – Willem Nicol

Indien jy die media moet glo, is kinderopvoeding iets wat jy nie sonder ’n stewige bankbalans kan aanpak nie. Die beraamde koste om een kind vir die lewe gereed te maak, beloop derduisende rand per jaar.  Daarom is dit geen wonder nie dat ouers gemaan word om vroegtydig voorsiening vir skoolgeld te maak, en vir skoolklere, en ’n verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite en uitstappies. Om nie van allerlei elektroniese speelgoed en toerusting te praat nie. Laasgenoemde is immers ook vir opvoedkundige doeleindes …

Wat ons wysgemaak word
“Alhoewel finansiële beplanning belangrik is, gebeur dit maklik dat ons in die proses te veel klem op geld en besittings plaas,” sê dr Willem Nicol, teoloog en skrywer van Rykdom in eenvoud (Lux Verbi, 2012).

“Ons moet ons kinders leer dat ons waarde nie in mooi en duur besittings lê nie,” sê Willem. “Daar is dinge wat veel belangriker is. Wanneer ons klem lê op ’n eenvoudige leefstyl, is daar plek vir die mooier, menslike dinge in die lewe. Christene wat doelbewus vir God en sy wil kies en daarom anders met hul besittings omgaan, lewer ’n kragtige getuienis met hul lewenswyse.”

Dr Jannie le Roux, predikant en skrywer, sluit hierby aan. Hy sê: “Die media vertel ons hoe afhanklik ons van dinge is wat ons kwansuis móét koop. Ons is dus knaend ongelukkig omdat ons die hele tyd voel asof ons, en ons kinders, nóg iets kortkom.

“Dit staan in regstreekse teenstelling met Jesus se boodskap in sy bekende bergpreek: ‘Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel’ (Matt 5:3). Ons verhouding met God is die sleutel tot ’n lewe van volheid en oorvloed.

“Terselfdertyd is ons verhouding met die mense vir wie ons lief is belangrik. In een van die mees omvattende studies oor emosionele welstand kom prof Robert Waldinger van die Harvard Mediese Skool tot die volgende gevolgtrekking: ‘Goeie verhoudings hou ons gelukkiger en gesonder.’ En dit verwys alles terug na Jesus se bekende uitspraak dat jy jou naaste soos jouself moet liefhê.”

’n Eenvoudige leefstyl
Ouers moet bogenoemde waardes by hul kinders inskerp. Die beheptheid met geld en besittings het dikwels ’n negatiewe uitwerking op kinders se verwagting van sukses en die wyse waarop hulle betekenis aan hul omstandighede kan gee.

“Dit gebeur veral wanneer ouers self in die spiraal van selfbeheptheid vasgevang is,” sê Jannie. “Kinders het nie ’n lys besittings nodig om gelukkig te wees nie. Hulle moet eerder binne ’n liefdevolle en sorgsame vertrouensverhouding leer om te verstaan hoe lief God hulle het. En hoe belangrik dit vir hul geluk is om ook lief te hê.

“’n Eenvoudige leefstyl help ons om weer terug te keer na die essensie van geluk en oorvloed: ’n liefdevolle en betekenisvolle verhouding met God en met mekaar. Dit help ons kinders verstaan dat om méér te hê, jou nie noodwendig gelukkiger gaan maak nie.

“Eenvoudig leef sê nie ‘ja’ vir alles nie.”
Willem gee praktiese raad. “Moedig kinders aan om dié dinge te geniet wat geld nie noodwendig kan koop nie: die natuur, kultuur, boeke, musiek, vriendskap, kreatiewe spel en handvaardighede.

“Baie kinders gaan soek hul vermaak nie veel verder as die naaste skerm nie. Ouers moet hier die regte voorbeeld stel deur self nie so baie tyd voor die rekenaar, televisie of met hul selfoon deur te bring nie.”

Jannie sê: “As ouers maar hul kinders wil leer ‘minder is meer’ … Dat hierdie beginsel jou vryheid gee: Jou kamer is nie so vol geprop nie en jou dagboek nie so vol geskryf nie.

“Leer jou kinders om gereeld hul kaste reg te pak en uit te pak – en om klere, boeke en speelgoed wat hulle nie meer gebruik nie aan dié te gee wat dit nodig het. Om op te hou opgaar.

“En leer hulle om dikwels in hul spore te stop … en te begin waardeer. Die kuns van waardering help ons om positiewe emosies te ervaar, om ‘in die oomblik’ betrokke te wees en dit in te drink.

“Indien jy dit boonop met iemand anders kan deel, is dit selfs meer betekenisvol. Sulke ervarings gee sin aan jou lewe omdat jy in beheer van jou keuses is en nie uitgelewer aan ander se menings nie. Jy voel vervul, want jy waardeer bewustelik wat jy het, en jy geniet wat jy bereik het.

“Ouers kan hul kinders leer om hul sintuie in te span om die mooi in elke dag te sien en te waardeer – hetsy ’n mooi natuurtoneel, die geluid van voëlsang of die geur van varsgebakte brood.”

Probeer gerus hierdie:

  • Skep ’n eenvoudige maar betekenisvolle roetine waarna kinders kan uitsien – stories vertel, ’n teepartytjie in die tuin, tuisgemaakte pizza op Vrydae of mooi musiek wanneer julle saans saam eet.
  • Hou uiteet en geskenke vir spesiale geleenthede. Moenie in die gewoonte kom om “gou te gaan uiteet” omdat dit makliker en vinniger is nie, of omdat julle in elk geval by die winkels is nie.
  • Bederf jou kinders met gehaltetyd eerder as geskenke. Beplan ’n kampeernaweek saam, ’n besoek aan ’n wildtuin of akwarium, of ’n daguitstappie na ’n natuurtuin. Gee soms ’n “belewenis” – soos ’n teateruitstappie – as verjaardaggeskenk. Leer jou kinders om tuisgemaakte geskenke te gee en met waardering te ontvang.
  • Kinders verwag dikwels onmiddellike bevrediging. Leer jou kinders om “stadiger” aktiwiteite te geniet. Bou legkaarte, speel bordspeletjies of plant jul eie kruie.
  • Koop wat julle nodig het en nie omdat dit ’n statussimbool is nie. Laat jou kinders spaar vir daardie spesiale speelding of stuk toerusting wat hulle graag wil hê. Moenie sommer net koop omdat dit op hierdie tydstip vir jou kinders lekker sal wees om dit te hê nie.
  • Leer jou kinders dat jy nie iets hoef te besit om dit te kan geniet nie. Geniet dus DVD’s wat julle by die biblioteek uitgeneem het, en ruil speelgoed of bordspeletjies met vriende uit.
  • Hergebruik! Snuffel in tweedehandse winkels rond of op aanlynplatforms op soek na ’n fiets of visstok. Herstel gebreekte goed eerder as om dit summier te vervang.
  • Leer jou kinders om met werkies in die huis te help – selfs wanneer julle iemand het wat die huis help skoonmaak. Die kinders kan self vir die netheid van hul kamers verantwoordelik wees, hulle kan help om inkopies uit te pak en troeteldiere te versorg. En hulle kan naweke help om kos voor te berei en skottelgoed te was.
  • Maak soms ’n eenvoudige ete met net twee of drie bestanddele. Eet dit buite in die tuin uit ’n papierbord.
  • Kweek ’n dankbare lewensingesteldheid. Dankbaarheid vir wat jy het, is ’n uitstekende teenvoeter vir selfsug en ontevredenheid. Gesels saans oor drie dinge waarvoor julle op daardie dag dankbaar kan wees. Reik uit na mense wat minder as julle het.
  • Omring julle met mense wat soos julle dink. Dit is baie moeilik om ’n eenvoudige leefstyl na te streef indien jul vriende elke naweek wil uitgaan.
  • Leer om jul eie huis te geniet, sodat dit nie nodig is om iewers heen te ry vir vermaak nie. Rig dit in sodat julle stokperdjies kan beoefen, jul tuin kan geniet en sinvol saam tyd daar kan deurbring.
Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail