“Hoe weet ‘n mens jy is oud?” vra die bejaarde man wat selfs skaars meer kan loop en sy vrou in ‘n rolstoel stoot.

Hulle soek ‘n sitplekkie in die lang ry van die X-strale wagkamer.

“As jou kinders op pensioen is,” antwoord die vrou langs wie hy te lande kom.

Vir ‘n oomblik word die somber stilte van siekte, pyn en wag-vir-slegte-nuus wat die kamer vul, verdryf deur ‘n spontane lagreaksie van almal wat binne hoorafstand sit.

My wederhelf (68) se moeder is 88 en reeds geruime tyd immobiel in ‘n ouetehuis.

Eendag op besoek aan haar, sê hy: “Nou ja, Ma, hier sit ons nou, twee ou mense vir mekaar en kyk.” Of sy verstaan het, is te betwyfel, want sy kyk haar blou-oog seuntjie met net soveel bewondering aan as die dag toe hy gebore is.

Hy is nog nie afgetree nie, maar “oefen solank”. Van pensioen in die outydse sin van die woord, is daar in elk geval nie sprake nie, dus werk jy maar tot jy omval.

‘n Paar dinge het wel al verander. Hy neem elke middag ‘n middagslapie indien moontlik. Hy verkies om meer tuis te wees as voorheen. Hy skaf nuwe stokperdjies aan en ontwikkel nuwe belangstellings. Hy begin homself oplei in digitale en IT-kennis en kunsies. Hy raak selfs kreatief, en begin teken en dig. Hy ontdek talente op plekke waar ander ouens nie eers plekke het nie. Al die dinge waarvoor ek hoegenaamd nie kans sien nie. Lankal alles beproef, misluk en laat vaar. Ekself doen maar nog net wat my hand vind om te doen, sit elke dag die een voet voor die ander en kook nog steeds die kos.

Miskien het die groot bohaai oor kookkuns iets daarmee te doen (hoe kry gevierde chefs, mans en vroue, dit reg om rietskraal te bly?), maar ek bemerk al hoe meer dikwels hoedat mans, op aftree-fase en wat nooit ‘n voet in die kombuis gesit het nie, ‘n skielike belangstelling in kookuns ontwikkel. Miskien het hulle gesien hoedat vroue met bewondering staar na Jamie Oliver in sy voorskoot.

Aaa, dink vroulief, ten minste sal hy van nou af baas in die kombuis ook wil wees, en kan ek ook “aftree” uit 50 jaar se getroue diens.

Die harde werklikheid is egter dat jy jou enigste area van onafhanklikheid en superioriteit, ook nou verloor: Jóú KOMBUIS.

In plaas daarvan dat jy die een is wat die kitaar slaan soos jy gewoond is, moet jy nou begin dans.

My man was sy lewe lank baas in die teater waar hy geopereer het. Hy het bevele rondgegooi en almal moes spring. Hy steek net sy hand uit en brom: Skalpel! Depper! Naald! Pinset! En dit beland in sy hand. Met hierdie ritueel het hy baie sukses gehad en baie lewens gered.

Sy nuutste prestasie is egter toe nie ‘n hartoorplanting nie, maar ‘n pot regte, egte, Indiese Kerrie (resep en speserye van die plaaslike Indiër-handelaar met met wie hy lang filosofiese gesprekke aanknoop), en wat baie oee’s en aaa’s aan tafel ontlok deur mense wat verstom is deur nog ‘n onwaarskynlike talent van hierdie veelsydige man wat alreeds soveel ysters in die vuur het.

Verlos van my pligte in die kombuis? Aftree as hoofstoof?

Moenie glo nie.

Teen die tyd wat hy gereed is om sy nou beroemde en befaamde Kerriepot te begin, staan die groente en vleis en alles wat hy nodig het reeds netjies in bakkies opgekap. Voorskoot op die regte plek, begin hy gooi en roer en steek sy lang arm instinkmatig uit na die assistent met 45 jaar ondervinding in die kombuis: Houtlepel! Spaan! Olie! Uie!

Dan moet die geurende konkoksie vir 20 minute lank prut. Ek gaan solank deur die koerant blaai…sal jy bietjie loer dat dit nie brand nie? Maar moenie te veel roer nie, gooi nog water by, en moenie die deksel te veel oplig nie.

So tussen die loerdery en potverpleging, maak ek rys, slaai, twee groentes, dek tafel en ruim op.

Van heinde en verre kom mense inloer: Wat ruik so lekker? Die kinders en ander familie daag in volsterkte op: Pa maak weer Kerrie!

En nadat almal hul lepels en lippe finaal afgelek het, manlief se eie kommentaar (kromgetrekte skouers van baie opereer sommer weer fier en regop): “Selfs mense wat nie Kerrie eet nie, het twee maal kom skep!”

Maar nou ja, van Kerrie alleen kan mens nie lewe nie, en die nuutste gier is geposjeerde eiers.

Weereens word die internet, Google, Jamie en al sy mooi maatjies-in-voorskoot geraadpleeg. Na baie moeë, vroeë oggende, verskillende grootte potjies, pannetjies, met of sonder sout en/of asyn, roer of nie roer nie: die perfekte twee geposjeerde eiers. Die sewentig slymerige floppies wat ek maar moes afsluk omdat mens nie met kos mors nie, skoon vergete.

Hierdie keer kry ek darem ‘n kompliment: “Kyk hoe vinnig het jy geleer! Nou gaan ék die gastehuispersoneel wys hoe om dit te doen. Ons kort net ‘n nuwe pannetjie en ‘n lepel met ‘n gat in.” (Ja, hy het nog ‘n gastehuis ook wat hy self bestuur.)

Ek het níé gou geleer nie. Na 45 jaar wéét jy sekere dinge reeds sonder om dit te beproef. Wat gaan werk en wat nie. Maar sien is mos glo, kom ons luister liewer na Jamie Oliver.

Maar, gun elkeen sy oomblik van glorie. So het die omroeper sowat 30 jaar gelede gêse toe Patricia Lewis eerste op die treffersparadelys beland.

Gun die nuutgekroonde Kerriekoning sy welverdiende roem. Vir hom is dit welkome afleiding van ‘n andersins, jarelange stresvolle werk met moeilike ure.

As jy nog die titel “Eierkoning” ook daarby kan verwerf, hoekom nie?

As jy moet aftree om te kan optree of moet begin optree om te kan aftree, is dit seker beter as om in hoek te sit en wag op die einde.

 

Deur Milda Stanton

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail