Kinders staar deesdae vele uitdagings in die gesig, en daarom is die meeste ouers nie altyd dik van die lag nie. Maar is pret en grappies nie juis nou ’n belangrike deel van ouerskap nie?

DEUR SUSAN GOOSEN

Ja, die lewe is deesdae ’n doodernstige saak. Lang werkure, finansiële druk en ’n onseker toekoms stel toenemend hoë eise aan gesinne. Dit voel asof daar nie juis tyd is om leeg te lê, te lag of sommer net laf te wees nie.

“Inderdaad,” sê Lianna Morrison, ’n opvoedkundige sielkundige in Hermanus, “die lewe is ’n dolle gejaag. Die meeste ouers is in ’n beroep wat op vele vlakke eise aan hulle stel. En dit het op sy beurt weer ’n enorme invloed op die beskikbare tyd – en die hoeveelheid gehaltetyd! – wat ouers saam met hul kinders kan deurbring.

“Dié wat die tydsdruk besonder erg ervaar, is daartoe geneig om dissipline te probeer handhaaf deur te raas en te skree. Wie het immers tyd vir vrolikheid of lawwe grappies wanneer almal reeds laat is vir skool?

“Einste die skool en die gepaardgaande buitemuurse bedrywighede speel ook ’n groot rol hierin. Die ouers wil graag die beste vir hul kinders hê, en daarom kies hulle skole en aktiwiteite wat die beste moontlike geleenthede aan hierdie kinders sal bied. Op sy beurt verhoog dié keuse die aard en die hoeveelheid eise. Dink maar aan die geld wat dit kos, die prestasiedruk, die moeite wat doeltreffende tydsbestuur vra.”

Joanne Jacobsz van Hluhluwe, ’n kleuterskoolonderwyseres en self ma van twee, wys op die rol wat tegnologie in dié verband speel. Sy sê: “’n Paar dekades gelede het mense selde ná vyfuur in die middag tuis gekom. Deesdae maak die tegnologie dit vir jou moontlik om jou werk huis toe te bring. Om 24 uur per dag beskikbaar te wees.

“En werk is skaars. Daarom moet mense noodwendig die ekstra myl loop. Dit beteken meestal minder familietyd en meer stres.”

 

Pret en plesierigheid?

“Om te midde van al die spanning regtig tyd te maak om saam met jou kinders te lag en pret te hê, is nie net belangrik nie, maar ook absoluut noodsaaklik!” Só sê Marietjie Strydom, ’n spelterapeut en maatskaplike werker in Durban.

“Kinders het onvolwasse, ontwikkelende breintjies wat besonder vatbaar is vir die spanning wat hier ter sprake is,” sê sy. “Die enigste teenmiddel vir die lewe se aanslae op ons en ons kinders is om saam te lag en saam pret te hê.

“Wanneer ons gespanne is, bring die brein die hormoon kortisol voort, wat meebring dat ons gespanne voel en ander onaangename simptome ervaar. Neurotransmitters, daarenteen, oftewel endorfiene, is daarvoor verantwoordelik dat ons gelukkig voel. Dit help ook om die impak van spanning teen te werk.

“Om pret te hê en saam te lag, verlaag die kortisolvlakke en stel endorfiene vry wat negatiewe gedagtes verminder. Hoe meer endorfiene in die brein vrygestel word, hoe groter is die moontlikheid om by die huis of skool te kan leer. Gunstige omstandighede in dié verband, dit wil sê wanneer die brein ontspanne is, sorg daarvoor dat ons baie makliker tot buigsaamheid, kreatiewe probleemoplossing en beplanning in staat is.”

Maar dit is nie die enigste voordeel nie, sê Marietjie. Lag hou ook definitiewe gesondheidsvoordele in. “Wanneer jy lag of selfs glimlag, kom daar ’n aantal fisiologiese veranderinge in jou liggaam voor – meestal sonder dat jy daarvan bewus is.

“Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar,” sê sy. “Kinders met verhoogde kortisolvlakke kla dikwels van maag- en hoofpyn, verminderde eetlus en slaapversteurings.”

Bloot die tyd wat ouers en kinders saam deurbring om te lag en pret te hê, sal natuurlik ook ’n positiewe uitwerking op hul onderlinge verhouding hê.

Lianna sê: “Om tyd saam deur te bring, is die grondslag van enige intieme verhouding. Wanneer dit hier gebeur, stuur dit ’n boodskap aan die kinders dat hulle belangrik en geliefd is. Dit bied ook aan die ouers die geleentheid om hul kinders se belangstellings en hul sterk- en swakpunte beter te leer ken, en hulle dus doeltreffender te ondersteun.”

 

Wat nou van dissipline?

Joanne is daarvan oortuig dat ’n goeie dosis pret en ’n ligter benadering tot ouerskap geensins beteken dat die ouers dissipline of roetine hoef in te boet nie. “Trouens,” sê sy, “ek beleef dit in myself dat ek makliker kan dissipline handhaaf en krisisse hanteer wanneer ek nie gespanne is nie. Dit is buitendien ook goed vir die kinders om te kan sien dat hul ouers nie altyd doodernstig is nie. Dat hulle ook pret kan hê.”

Lianna sê: “Kinders is geprogrammeer om te speel. En baie van hul leer gebeur letterlik speel-speel. Indien jy dit dus kan regkry om ’n bietjie pret by daaglikse sleurtake en roetine te voeg, gaan jy waarskynlik beter samewerking van jou kinders kry.

“Vanselfsprekend beteken dit nie dat hul verkeerde dade nie gevolge moet hê nie. Daar kom beslis tye wanneer die kinders die gevolge van hul verkeerde optrede moet verstaan én ervaar.”

Hiermee is Marietjie dit eens. “Om doelbewus meer pret te hê, bevorder juis dissipline,” sê sy. “Kinders is baie meer inskiklik wanneer die brein ontspanne is en hulle ’n intieme verbintenis met die ouer beleef.

“Ons verhouding met ons kinders is die enigste manier waarop ons samewerking kan bevorder, gehoorsaamheid kan vergemaklik en uiteindelik ons geloofsoortuigings en morele waardes kan oordra. Kinders (en ouers) met hoë kortisolvlakke sukkel dikwels met selfregulering. Só kom hulle voor as rigied, ongehoorsaam en buierig.”

Lees gou hier!

  • Grappies en speletjies wat fisiese kontak bevorder, bring baie endorfiene voort, die sogenaamde goedvoel-hormoon. Stoei maar op die mat, trek snaakse gesigte, dans badkamer toe om te gaan tande borsel, of loop op ’n “interessante” manier in die gang af.
  • Maak roetine pret. Kyk of julle die kamer kan opruim (of jul klere kan aantrek) voordat die liedjie klaar is. Of vra in ’n “robotstem” aan jou onwillige kleuter om sy tande te borsel. Kies elke oggend ’n kleur – en laat jou jong kind ’n broek en hemp uitkies wat daarby pas. Of gaan staan in die middel van die kamer en begin die klere wat rondlê na die betrokke slonskouse toe te gooi. Gee punte vir akkurate en waaghalsige vangskote.
  • Dissiplineer prettig! Wys ’n geelkaart as ’n waarskuwing en ’n rooikaart om te wys dat bepaalde gedrag onaanvaarbaar is en dat die oortreder die gevolge sal moet dra. Of kies ’n beloning wanneer jou kinders dit vyf keer reggekry het om die speelgoed op te ruim. Of wanneer almal skoene aan het voordat die aangeduide tyd verby is. Dit is tog báie lekkerder om vinnig te maak omdat jy die wekker probeer klop, as wanneer jy dit doen omdat jou ma andersins met jou gaan raas …
  • Sing en dans saam as julle na jul gunstelingmusiek luister. Die neurowetenskap leer ons dat om saam met ander mense te sing, bevorderlik is vir binding en die vrystelling van endorfiene. ’n Vrolike liedjie op pad skool toe kan wonders verrig. Of tel tot by drie … en laat almal in die kar sy of haar eie liedjie begin sing. Kyk wie die langste daarmee kan volhou.
  • Vertel stories en rympies, of maak jul eie stories en rympies op wanneer julle reis of met sleurtake besig is. Verander bekende gunstelinge se lirieke om by jul werkies te pas.
  • Breek so af en toe die reëls. Eet soms die poeding eerste.

 

KONTAK ONS KENNERS

  • Lianna Morrison praktiseer as ’n opvoedkundige sielkundige in Hermanus. Sy kan gekontak word by 028 313 1669.
  • Marietjie Strydom is ’n spelterapeut en maat­skaplike werker by ’n privaatpraktyk in Durban. Besoek haar by www.marietjiestrydom.com
    Sy is ook die medestigter van die Attachment Foundation, ’n organisasie wat waardevolle
    inligting oor bindingsteorieë en -praktyke aan ouers en opvoeders verskaf. Besoek gerus
    www.attachmentfoundation.org
Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail