Die afwesigheid van ʼn pa het ʼn geweldige impak op jou menswees en manier hoe jy die lewe benader. Maar daar is hoop – God kan selfs die diepste wonde genees.

RENÉ BADENHORST

 Elke mens het ʼn pa nodig. In die mondering van jou lewe en welsyn is daar ʼn belangrike deel wat net deur ʼn liefdevolle pa gevul kan word. Pa’s is nie opsioneel nie.

Dr Ken Canfield van die Fuller-universiteit in Amerika, praat in sy boek, Forming a lifelong bond (1998), oor die vrug van pa-kind-verhoudings. Kinders wat baie veilig in hulle verhouding met hulle pa’s voel, is gewoonlik meer van ʼn ekstrovert, buigbaar, hulle huwelik is meer positief en die interaksie in hulle werk en gesin is meer positief.

Navorsing het egter bevind dat 60% van Suid-Afrikaanse kinders se vaders afwesig is. Hierdie afwesigheid het so ʼn ingrypende invloed op hulle kinders se ontwikkeling dat kenners dit as normatiewe ontwikkelingstrauma beskryf.

 Gewonde harte lei tot mank lewens

John Eldredge skryf in Wild at heart dat die meeste mans iets van ʼn pa-wond ervaar in die grootwordproses. In sommige gevalle is dit nie die fisiese afwesigheid wat die emosionele leemte veroorsaak het nie, maar eerder ʼn onbetrokke of emosioneel afwesige pa. Of gevalle waar die kind geestelik en emosioneel verwerp en misbruik is. Wat ook al die oorsaak – hierdie leemte lei tot ʼn diep gewortelde pa-hongerte wat tot in volwassenheid ʼn geweldige impak op ʼn mens se totale lewenswyse het.

Die kinderpsigiater, dr James Schaller, noem moontlike tekens van pa-wonde en pa-hongerte:

  • Wanneer ek aan my pa dink raak ek emosioneel – onseker, hartseer of kwaad.
  • Wanneer ek by my pa is, is ek gewoonlik nie myself nie; ek tree óf kinderagtig óf onnatuurlik/voorbarig op.
  • Ek beskou my pa as wonderlik, maar ander dink dat ek myself bedrieg.
  • Ek ervaar ʼn gevoelloosheid teenoor my pa.
  • Ek is sterk kompeterend en dit lei soms tot probleme.
  • My moraal is laag, en ek voel soos ʼn bokser wat in die kryt uitgeslaan is.
  • Ek ervaar probleme met die vestiging van verhoudings.
  • Ek beweeg gewoonlik te vinnig in nuwe verhoudings in.
  • Ek is verward oor my identiteit – my pa het my nooit goed laat voel oor myself nie.
  • Ek voel nie soos ʼn regte man nie./Ek het ʼn gebrek aan vertroue in my vroulikheid.
  • Ek voel onaantreklik en onvoldoende.
  • Dit is vir my moeilik om te ontspan.
  • Ek het probleme met my seksualiteit.
  • Dit is moeilik om selfgeldend op te tree.
  • Mense blyk die gevoel te hê dat ek hulle grense oorskry.
  • Ek is bang om te naby aan ander te beweeg.
  • Ek ervaar vrees vir verwerping.
  • Outoriteit laat my ongemaklik voel.
  • My pa se kritiek het baie pyn veroorsaak – nou het ek ʼn probleem om kritiek te aanvaar.
  • God voel dikwels oneindig ver.
  • Ek het min belangstelling in spiritualiteit.
  • Ek en my pa praat nie openlik en eerlik oor ons lewe nie.
  • Ek poog voortdurend om almal gelukkig te hou – veral pa-tipes of mentors.
  • Ek hardloop op ʼn kompulsiewe wyse na dinge en mense om myself te vertroos (self-medikasie).
  • Ek word moeilik tevrede gestel.
  • Ek lewe daagliks met ʼn vae algemene vreesagtigheid.
  • Soms voel ek soos ʼn weeskind.

 God, die liefdevolle Vader

Mans en vroue wat worstel met ʼn negatiewe vaderbeeld het dikwels ook ʼn verdraaide godsbeeld, sê prof Wentzel Coetzer van die Teologiese Fakulteit van die Noordwes-Universiteit. Die waarheid is dat geen pa volmaak is nie. Slegs God, ons Vader is.

Om ʼn helder en duidelike beeld van God die Vader te verkry (as die volmaakte ouer), sal daar egter eers ontslae geraak moet word van al die gebroke “vader-filters” wat ʼn mens saamdra.

Die helingsproses begin wanneer ʼn mens vir God vra om jou eie wonde uit te wys en dit dan te erken. In Lukas 4:18 sê Jesus dat die tyd van die Here gekom het om gevangenes vry te laat, blindes te laat sien en onderdruktes te bevry. God spesialiseer in die heelmaak van gebroke harte en die afgooi van laste.

Wanneer ons ons oë op Hom rig vir die antwoorde en groei in intimiteit met Hom, openbaar Hy wie Hy is. Hy wys jou die waarheid: wie Hy jou gemaak het om te wees en hoe Hy jou sien. Slegs dan is dit moontlik om ʼn pad te stap van vergifnis en heelwording.

Indien ons self diep verwond is, is dit bitter moeilik om liefdevol rigting te gee sonder om ons kinders se harte te verwond en hulle weg te stoot. Laat God die Vader Homself aan jou openbaar as die Vader van die vaderloses. Hy is die God van die onmoontlike!

  • Lees ook in die Julie 2017-uitgawe van LiG hoe ma-wonde ons lewe affekteer en hoe ons genesing daarvoor kan vind.
  • ʼn Mens het soms begeleiding nodig om die pad van genesing te stap. Die “The World Needs a Father”-bediening het ʼn wye verskeidenheid materiaal en kursusse om dié behoefte aan te spreek. Besoek www.theworldneedsafather.com of skakel 021 975 0985 vir meer inligting.
Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail