Paasfees is ’n tyd waarin ons Jesus se lyding baie intens en persoonlik ervaar. Maar dit is ook ’n tyd van vrolikheid en vreugde. Jesus se oorwinning oor die dood word saam met Christene wêreldwyd gevier – én saam met jou huismense.

Deur Susan Goosen

“Paasfees is die hoogtepunt van die kerklike jaar,” sê dr Nico Simpson, predikant en publikasiehoof by Bybel-Media. “Hier fokus ons op die groot wonder van die opstanding. Tydens Paasfees word ons daaglikse pogings en plannetjies om te oorleef heeltemal oorskadu deur die vreugde en feestelikheid van dit wat God deur sy Seun vir ons gedoen het.

“Die skok van die kruisiging en die stilte van die graf word weggevee met die deurbreek van God se lig. Daarom is Paasfees ’n vreugdefees.”

Ds Janlu Kuyler, predikant by die Moreletapark-gemeente, sluit hierby aan en sê: “Die verbruikerswêreld beskou Kersfees as die hoogtepunt van die jaar, en dan vergeet almal hoe belangrik Paasfees is. Ek dink dit is noodsaaklik dat ons Jesus se lyding baie intens ervaar – sodat ons sy opstanding met oorgawe kan vier.”

Feesplanne

Nico sê dat gelowiges deur die eeue heen verskillende rituele gehad het om Paasfees te vier. Christen-gesinne kan steeds sulke rituele gebruik om Paasfees te vier en om opnuut na te dink oor die blywende vreugde en vrede wat God aan sy kinders deur Jesus gee.

Daar is heelwat moontlikhede, onder meer:

  1. Vier sáám fees

Met Paasfees dink ons terug aan dit wat God deur Jesus vir ons gedoen het, en ons jubel saam met ander gelowiges oor ons redding. Dit is soveel lekkerder om die lewe saam met ander mense te vier – moenie dit alleen doen nie! Nooi vriende en familie oor en kuier saam met hulle. Oorweeg hierdie jaar ’n partytjie vir die Pase, of ’n straatbraai.

Fokus op die lig wat tydens Paasfees deurbreek. Kuier saam wanneer die son opkom, of versier julle huis met liggies en kerse en praat met mekaar oor die betekenis van hierdie lig in julle lewe. Lees teksgedeeltes soos Matteus 5:14-16 en Efesiërs 5:8.

 

  1. Maak geraas!

Wat maak kinders as hulle gelukkig is? Hulle raas! Ons kan gerus ook ons vreugde op hierdie manier uitdruk. Vir baie jare reeds breek gelowiges die stilte van die kruisiging met trompetgeskal op Opstandingsondag.

Julle kan op Paassondag harde musiek speel, wat julle gesin aan oorwinning, lewe en vreugde herinner. Lees ook teksgedeeltes soos Psalm 100, Psalm 150 en Efesiërs 5:19.

Die Bybel is vól musiek: In die Psalms lees ons dikwels hoe gelowiges met trompette, fluite en harpe die Here loof. En wanneer die Israeliete uiteindelik uit Egipte bevry is en droogvoets deur die Rietsee getrek het, lei Moses en Miriam hulle mense om tot God se eer te sing en te dans.

 

  1. Lag saam

Lag is ’n wonderlike gawe wat God ons gee. Dit help ons om ligter te lewe en om onsself nie so ernstig op te neem nie. In die Middeleeue was daar ’n gebruik by gelowiges om tydens Paastyd grappe oor die dood te vertel. Julle gesin kan gerus in hierdie tyd ’n boek met grappe aanskaf, of sit een hele aand opsy om vir mekaar grappe te vertel.

Herinner mekaar gereeld daaraan dat ons vreugde daaruit spruit dat ons aan Jesus Christus behoort, en dat ons eendag vir altyd by Hom sal woon. Gesels ook oor die betekenis van Filippense 4:4.

 

  1. Speel met kleur

Teenoor die somber kleure van die Lydenstyd, is Paasfees vrolik en helder – en selfs uitspattig. Janlu sê dat hulle gesin die gebruik het om tydens Lydenstyd rooi doeke om die boomstamme in hulle tuin te bind. Dit is vir hulle ’n simbool van Jesus se bloed. Met Opstandingsondag word dit dan deur wit doeke vervang.

Christengesinne kan gerus hierdie soort voorbeeld volg. En bring blomme in die huis in, en versier julle huis se mure met kleurvolle prente.

Lees Psalm 103 saam, en vra mekaar wat dit vir julle in hierdie Paastyd beteken.

 

  1. Waardeer mekaar

Geniet mekaar se talente; dit is immers ’n gawe uit God se hand. Doen moeite om in hierdie Paastyd weer na julle kinders se kunswerke te kyk, of na hulle musiekvertolkings te luister. Belê tyd en energie in mekaar. Julle gesin se gesamentlike feesvierings sal die band tussen julle bevestig en versterk.

Nico vertel dat hulle vriendekring graag tydens die Paastyd ’n Paasete hou. Dit is ’n safari-ete, met die verskillende geregte wat by verskillende huise geniet word. Elke gasvrou hou haar spyskaart geheim, en dit sorg elke keer vir ’n heerlike verrassing wanneer die kos uitgepak word. By die onderskeie huise ruil hulle ook klein geskenkies uit – en só waardeer almal opnuut die vriende wat God oor hulle pad gestuur het.

 

  1. Wees stroopsoet!

Paasfees word al baie jare lank met soetgoed gevier. Ná die hartseer herdenking van Jesus se lyding en sterwe het ons nou die geleentheid om sy oorwinning oor die dood met heerlike eetgoed te vier – onder meer paaseiers, paasbolletjies en soet nagereg. Hiermee vier ons die feit dat Jesus die dood oorwin het en dat ons ’n nuwe lewe in Christus ontvang het.

 

  1. Lees die Paasverhale

’n Christengesin kan die Paastyd gebruik om die Paasverhale in die Bybel saam te lees en te oordink. Dit kan heel kreatief aangepak word, byvoorbeeld: Laat iemand een van die opstandingsverhale lees en ná elke paar verse die voorlesing onderbreek. In hierdie pouse sê almal hardop saam: “Christus het gesterf. Christus het opgestaan. Christus kom weer. Amen.” Dan word die voorlesing hervat, tot by ’n volgende onderbreking. Herhaal hierdie ritueel ’n paar keer.

Die gesinslede kan ook kerse aansteek om besondere momente in die verhaal te merk en te vier. Byvoorbeeld:

Eerste kers: Lukas 24:1-12 – Jesus het opgestaan.

Tweede kers: Johannes 20:11-18 – Jesus verskyn aan Maria Magdalena.

Derde kers: Handelinge 10:39-43 – Die opstanding lei tot vergifnis.

Vierde kers: Genesis 1:1-5 en Johannes 8:12 – God skep lig. Christus is die lig wat na die wêreld gekom het.

 

Mág ek tot God se eer … speel?

“Natuurlik moet ons God in ’n ernstige lig beskou,” sê Janlu. “Hy is immers heilig, en by heiligheid is daar nie plek vir ligsinnigheid nie. Maar dit is tog sy wil dat ons die vreugde en vryheid wat Hy deur Jesus vir ons gegee het vir ons sal toe-eien. Daardie blydskap laat ons lag, en dit laat ons lewe. Dit gee aan ons ’n nuwe energie, en nuwe betekenis aan ons lewe.

“Daarom mag ons feesvier, lag en speel. Dit verklap iets van die vryheid wat ons beleef. Daarom ook dat die heilige nagmaal ’n “feesmaal” genoem word. Dit is bedoel om ons te laat lag, uit dankbaarheid vir die verlossing wat Jesus bewerk het.”

Nico sluit hierby aan en sê: “Swaarmoedigheid is tekenend van ons tyd. En ons neem onsself en die lewe soms tog só ernstig op. Dit moenie so wees nie. God se kinders is veronderstel om die vryste, lewendigste en interessantste mense denkbaar te wees. En feesviering maak ons vrolik, feestelik en opgewonde.

“Hierdie lof en vrolikheid is natuurlik nie naïef nie. Ons onthou ook die gebrokenheid en die seer in die wêreld. Maar ons lof sê: ‘Selfs in die middel van al die hartseer en swaarkry wil ons die lewe vier. Ons wil hoop op die ewige lewe wat God deur Jesus aan ons belowe het.’ Deur dankie te sê, bevestig ons reeds hierdie hoop.”

ʼn Feestelike Paasmaaltyd

Leonard Sweet skryf in sy boek From tablet to table hoe die Ou Testament en die Nuwe Testament elkeen in drie eenvoudige sinne “opgesom” kan word. Die Ou Testament s’n lui só: “Hulle wou ons doodmaak. Ons het oorleef. Kom ons eet!” En die Nuwe Testament s’n só: “Ek het jou lief. Ek vergewe jou. Kom ons eet!”

Sweet is daarvan oortuig dat gesprekke om die etenstafel ’n wonderlike geleentheid aan ’n gesin bied om oor geloof te praat, en sodoende die ouers en die kinders se geloof te versterk.

 Gesinne kan die saamwees rondom die etenstafel gebruik om die simboliek van die verskillende Bybelse kossoorte te bespreek. Vra vrae soos: Waaraan herinner hierdie kos ons? Hoekom
eet ons graag lamsvleis tydens Paasfees? Maak beurte om gepaste teksgedeeltes hieroor te lees, of maak tekskaartjies wat saam met die verskillende disse bedien kan word. Hier is voorbeelde:

Brood

Johannes 6:47-48: “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.

Ek is die brood wat lewe gee.” Lees ook Johannes 6:32-35, 47-58.

Vis

Matteus 4:19: “Hy sê toe vir hulle: ‘Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.’” Lees ook Matteus 4:18-22, Lukas 24:36-49.

Sout en ander geurmiddels

Matteus 5:13a: “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ʼn mens dit weer sout?”

Lamsvleis

Johannes 1:29: “Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: ‘Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!’”

Lees ook Eksodus 12:3-11, Johannes 1:29, Hebreërs 10:11-18.

Koring

Johannes 12:24: “Dít verseker Ek julle: As ʼn koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ʼn groot oes in.”

Nagereg

Psalm 119:103: “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond.”

 

Feestelike nagereg vir die Pase

Granola-krummel met vye

Resep: Heleen Meyer in Maak vyf, NB Uitgewers • Fotograaf: Neville Lockhart • Lewer 6 porsies

Vye, jogurt, granola en vars kruisement maak ’n lieflike nagereg vir Paasfees.

Jy benodig

  • 250 ml (1 k) hawermout
  • 125 ml (½ k) koekmeel
  • 100 ml harde botter
  • 75 ml (5 e) sagte bruinsuiker
  • 2,5 ml (½ t) gemaalde gemengde
    speserye
  • 50 g pekanneute of amandels, fyngekap
  • 300-500 ml ongegeurde of Griekse jogurt
  • 6-12 vars vye of ander seisoensvrugte
  • ’n Handvol vars kruisementblare
  • ’n Handvol granaatpitte

 

Jy maak só

  1. Voorverhit die oond tot 200°C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
  2. Plaas die hawermout, meel, botter, suiker en speserye in ’n mengbak. Vryf dit met jou vingerpunte totdat dit soos growwe broodkrummels lyk.
  3. Voeg die neute by en versprei dit in ’n eweredige laag op die bakplaat. Bak dit 15-20 minute lank, of tot goudbruin.
  4. Breek dit in growwe stukke. Sit dit dan met die jogurt en vye in lae voor. Dit werk goed in ’n glas of in ’n plat bakkie. Garneer met kruisement en granaatpitte.

 

 

 

 

 

 

 

 

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail