Té lank het ons gedink dat kinders wat goed in taal of wiskunde is, die slimmes is. Daar is egter baie meer aan intelligensie as wat ons dink.

Deur Ewald en Beatrix van Rensburg

Daardie aand moes klein Jean se ma sy geliefkoosde slaaptydstorie weer ’n keer aan hom voorlees, en weer. Ná die derde keer doen klein Jean toe ’n vreemde ding: Hy sit die boek op die grond neer, maak dit oop, en plaas sy een voet versigtig op die oop bladsy. En toe die ander een. Toe kyk hy, vol verwagting, na waar sy voete op die oop boek staan. En toe begin hy troosteloos huil.

Sy ma het nie geweet wat aangaan en hoe sy dit moes hanteer nie. Haar agtjarige dogter het egter met hierdie eenvoudige verduideliking vorendag gekom: “Jean hou baie van dié boek.”

Meteens het die ma verstaan: Jean wou in die boek in klim, om deel daarvan te word!

Die befaamde teoloog Henri Nouwen het op ’n keer ’n uiters veelseggende opmerking gemaak. “The rabbis guide their people with stories,” het hy gesê. “Ministers usually guide with ideas and theories. We need to become storytellers again.”

Toe voeg hy by: “We can dwell in a story, walk around, find our own place …”

Dit bly die vraag aan hedendaagse leermeesters – predikante, onderwysers, ouers: Hoe help ons ons kinders, en onsself, om binne-in God se Woord te klim en te beleef hoe wonderlik die Bybel regtig is?

Hou ons genoeg van dié Boek om dit te probeer doen?

Dalk bied prof Howard Gardner, ’n professor in opvoedkunde aan die Harvard-universiteit in die VSA, se teorie oor veelvuldige intelligensie vir ons ’n eerste uitweg. Gardner het sy “multiple intelligences”-teorie reeds in 1983 ontwikkel. Dit was hoofsaaklik in reaksie op die leemtes wat daar in die tradisionele IK-toetse geïdentifiseer is.

Volgens hierdie teorie is daar agt verskillende soorte “intelligensie” wat die breë potensiaal kan omskryf wat in kinders sowel as volwassenes opgesluit lê. Dit is:

  • taalkundige intelligensie (woord-slim)
  • logiese, wiskundige intelligensie (syfer-slim)
  • liggaamlike bewegings-intelligensie (liggaam-slim)
  • ruimtelike intelligensie (prentjie-slim)
  • musikale intelligensie (musiek-slim)
  • interpersoonlike intelligensie (mense-slim)
  • intrapersoonlike intelligensie (self-slim)
  • naturalistiese intelligensie (natuur-slim).

 

Howard se aanvanklike navorsing het uitgewys dat skole en ander instellings, asook die breë kulturele verwagtinge, hoofsaaklik en soms uitsluitlik op die boonste twee “intelligensies” fokus – die taalkundige en die logiese, wiskundige.

Die gevolg is dat die samelewing taalvaardige en syfervaardige mense en dié wat hulle logies kan uitdruk, besonder hoog ag. Gardner was egter uit die staanspoor daarvan oortuig dat daar net soveel aandag verskuldig is aan diegene wat gawes toon wat in die “ander intelligensies” opgesluit is.

Daarom vra hy: Waar kom, byvoorbeeld, die kunstenaars en dansers en musikante dan vandaan? Die argitekte en natuurkenners en terapeute, die sielkundiges, die atlete en sportmense, en al die ander wat ons wêreld verryk?

 

Gardner se teorie bring dus ’n interessante nuwe invalshoek na die uitdaging om ons kinders die Woord te laat beleef. Dit vergroot die speelveld van moontlike leerervarings, en dit help die leermeesters om op die uitkyk te wees vir die aangebore funksionele voorkeure wat op die een of ander wyse deur hul kinders verklap sal word.

Laasgenoemde sál daardie “geheim” weggee, ja. Hulle is immers van nature so bedraad – en hoe ontken jy dit?

Met bogenoemde in ag genome, is daar wel ook ruimte vir ’n bykomende moontlikheid: Daar is naamlik kinders en volwassenes wat die aangebore geneigdheid het om deur die ervaring van emosies te leer. Dit kan goedskiks, en in aansluiting by Gardner se agttal, “emosionele intelligensie” genoem word.

 Wees nou prakties!

Die opwindende moontlikhede wat Gardner se teorie bied, kan ingespan word om ons kinders bepaalde Bybelvaardighede aan te leer. Of, beter gestel, om hulle te help om met behulp van die unieke manier waarop hulle geskape is “in die Bybel te klim”, sodat hulle deel van dié verhaal kan word.

Juis die Lydenstyd bied ’n geleentheid om dit prakties te illustreer. Hier is kortliks ’n aantal toepaslike aanwysings – werd om in die skool, die kategese en die huis ondersoek te word:

 

1 Taalkundige intelligensie (woord-slim) Die leerervaring en fokus is hier op die gesproke woord.

 

Lees Lukas 22:54-62

  • Ons kan nie altyd op ander mense vertrou nie, en Jesus het dit geweet. Daarom waarsku Hy Petrus in Lukas 22:31-34 dat hy Hom sou verloën, ten spyte van sy (Petrus se) uitgesproke goeie voornemens.
  • Het iemand al iets vir jou belowe en dit toe nooit gedoen nie?
  • Ken jy mense wat jy kan vertrou?
  • Dink jy ’n mens kan altyd op Jesus vertrou? Hoekom dink jy so? Gesels met ’n maat of maats oor hoe ’n mens op Hom kan vertrou. Kan julle aan een van sy beloftes dink? Wat beteken dit vir jou?

 

2 Logiese, wiskundige intelligensie (syfer-slim) Die leerervaring en fokus is hier op syfers, maar ook beredenering en logika.

 

Lees Matteus 27:27-36

  • Het jy al gewonder wat daar letterlik met die menslike liggaam gebeur wanneer dit gemartel word? Hoeveel krag, reken jy, het ’n gemartelde persoon ná so ’n foltering oor?
  • Vind ’n bietjie uit hoe ver Jesus (en Simon van Cirene) die kruis na Golgota toe moes dra, dit wil sê hoe lank die soge­naamde Via Dolorosa was?
  • In die lig van Jesus se krag ná die marteling, en die afstand wat Hy daarná moes loop – hoe moeilik dink jy moes dit vir Hom gewees het? Verduidelik hoe jy by jou antwoord uitgekom het.

 

3 Ruimtelike intelligensie (prentjie-slim) Die leerervaring en fokus is hier op praktiese “doen”, en op ontwerp.

 

Lees Markus 15:21-41

  • Knip of skeur prente van gesigte uit tydskrifte en koerante. Jy kan ook foto’s gebruik of selfs die gesigte teken. Plak die gesigte in die vorm van ’n kruis, om jou daaraan te herinner dat Jesus vir alle mense se sonde aan die kruis gesterf het. En dat jy nou deur Jesus vrygemaak is om voluit te lewe.

 

4 Musikale intelligensie (musiek-slim) Die leerervaring en fokus is hier op klank en musiek.

 

Lees Lukas 22:13-20

  • Gaan lê met toe oë op die grond. Iemand speel nou musiek wat deur verskillende instrumente gemaak word. Noem die instrumente wat jy kon hoor.
  • Kan jy die volgorde onthou waarin die musiekinstrumente by die stuk musiek ingeval het?
  • Die kruisigingsverhaal maak ’n mens hartseer, maar tog het Jesus gesê ons moet dit altyd onthou. Dit vertel ons hoe lief Hy ons het. Ons onthou dit as ons die nagmaal gebruik.
  • Ken julle ’n lied oor die nagmaal se brood en wyn? Sing dit saam.

 

5 Interpersoonlike intelligensie (mense-slim) Die leerervaring en fokus is hier op menslike interaksie en interpersoonlike kontak.

 

Lees Markus 15 – 16

  • Beplan ’n rollespel van die Paasverhaal saam met jou maats. Lees eers dié twee hoofstukke uit Markus saam. Deel dan die verskillende rolle uit. Skryf jul eie dialoog daarby. Maak kostuums van lakens of stukke lap. Voer jul rollespel vir ander maats op.
  • Julle kan dit ook met ’n selfoon opneem en later vir ander wys. Só help julle om die goeie nuus te versprei dat Jesus gesterf het en weer opgestaan het.

 

6 Intrapersoonlike intelligensie (self-slim) Die leerervaring en fokus is hier op persoonlike nadenke.

 

Lees Matteus 27:27-31

  • Dit is aaklig as iemand gespot word. Het mense jou al gespot? Hoe het jy gevoel? Wat het jy toe daaraan gedoen?
  • Dalk het jy iemand anders al gespot, of iets gesê wat hom of haar seergemaak het. Hoe het jy toe gevoel?
  • Hoe, dink jy, het Jesus gevoel toe die soldate Hom gespot het? Hoe voel jy as jy lees hoe die soldate Jesus spot? Skryf ’n briefie aan Jesus waarin jy Hom vertel hoe jy oor ’n gespottery voel.

 

7 Liggaamlike bewegings-intelligensie (liggaam-slim) Die leerervaring en fokus is hier op liggaamlike aksie, op doen en beweging.

 

Lees Johannes 3:16

  • Hierdie teksvers som die betekenis van Jesus se kruisdood in enkele woorde op.
  • Tel ’n swaar stuk hout op (dalk moet ’n volwassene hiermee help …) en dra dit ’n paar meter ver op jou rug. Wat het jy hieruit oor Jesus geleer en oor die kruis wat Hy na Golgota moes dra?
  • Lees nou weer Johannes 3:16. Wat sê dit vir jou oor Jesus se liefde?
  • ’n Tyd gelede het sommige Christen-sportsterre in die VSA “John 3:16” op hul gesig geverf. Hulle het gehoop dat dit die toeskouers nuuskierig genoeg sou maak om dié Bybelteks te gaan opsoek. Skryf jy nou “Johannes 3:16” met wit bordkryt op ’n paar plekke iewers buite die huis, waar ander mense dit sal raaksien. Nou moet jy natuurlik gereed wees om te vertel wat dié woorde vir jou beteken, as mense jou daarna vra …

 

8 Naturalistiese intelligensie (natuur-slim) Die leerervaring en fokus is hier op die natuur, die buitelewe, plante en diere.

 

Lees Johannes 18:25-27

  • Is daar in jou omgewing ’n haan wat soggens vroeg begin kraai? In die ou tyd, voordat daar wekkers was, het mense geweet dat die haan se kraai die opstaantyd aankondig. Het jy geweet hane kraai vandat hulle vyf maande oud is?
  • Hier is ’n uitdaging: Elke keer as jy ’n haan hoor kraai of ’n wekker hoor lui, dink aan Jesus en belowe om getrou aan Hom te bly.

 

9 Emosionele intelligensie (gevoel-slim) Die leerervaring en fokus is hier op emosionele belewenisse en empatie.

 

Lees Johannes 19:28 – 20:9

  • Teken ’n kruis en ’n oop graf op ’n A4-bladsy, en skryf die gevoelens neer wat jy dink die betrokkenes beleef het by Jesus se kruisiging en later by sy opstanding.
  • As jy nou na die voltooide bladsy kyk, hoe laat dit jou voel?

 

Ten slotte, aan die ouers

Moenie bang wees dat jou kind hier aan inligting-oorlading onderwerp word nie. Hulle sal eerder hierdie onderskeie “intelligensies” en leerervarings aanwend en beleef soos wat hulle die verskillende stukke speeltoerusting in ’n speelparkie sal benader. Sommige sal byvoorbeeld op die klimraam speel, ander op die swaai. Nóg ander sal op die rondomtalie klim, en twee sal die wipplank probeer.

Kinders maak hul keuses bewustelik (en soms selfs onbewustelik) soos hulle deur hul natuurlike voorkeure gelei word. Dit word gebaseer op hul fisiese en emosionele gereedheid vir ’n bepaalde speel-apparaat. ’n Volgende keer sal hulle dalk ’n ander stuk toerusting aandurf.

Dit geld ook hul benadering tot die Bybel. Hulle sal doen waarmee hulle op ’n bepaalde stadium gemaklik voel. Later, op ’n ander dag, sal hulle ’n ander benadering volg. Dit is hoe die Here hulle bedraad het …

Feit is, hulle sal nou gemaklik in die Bybelstorie kan klim en daarin rondbeweeg. Só word hulle gehelp om die Here met hul hart, siel, verstand en krag lief te hê.

 

 

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail