Die Amerikaanse historikus, William R Black*, vertel hoe sy pa in die 1940’s elke Vrydagaand ’n geldjie verdien het deur die ligte by ’n Joodse immigrant se huis te gaan aanskakel. Die Tora verbied Jode om op die sabbat ’n vuur in hul huis aan te steek.

Black sê sy pa het naderhand begin wonder of hý nie dalk ook sonde doen deur die ligte aan te skakel nie. Die vierde gebod verbied immers jou en jou gesin en jou slawe en jou diere om op die sabbatdag te werk. Prakties gesproke, was Black se pa tog die Jood se slaaf. Was hulle nie dalk al twee op pad hel toe nie …?

Met Jesus wat die wet sy volle betekenis laat kry het (vgl Matt 5:17), beteken dit onder meer dat Jesusvolgelinge van sabbatsonderhouding vrygestel word. Tog is daar iets van God se goedheid en genade te vind in die opdrag om een hele dag lank te rus.

Dié Goddelike deernis is goed sigbaar in die Israeliete se bevrydingsverhaal. God se gebod aan die vrygemaaktes was: Ses dae mag julle werk, maar op die sewende dag moet julle rus.

Vir die Israeliete was dit iets nuuts. Hulle het toe pas uit ’n situasie gekom waar hulle met ’n sweep gedryf is om harder te werk, om meer te lewer. Hulle was die farao se slawe; ruskans was nie ’n opsie nie. As hulle nie telkens hul produksie verhoog het nie, was daar moeilikheid. Hoor dan: “Dieselfde dag nog het die farao die slawedrywers van die volk en hulle opsigters beveel: ‘Julle mag nie meer soos vroeër vir die volk strooi gee om bakstene mee te maak nie. Laat hulle self gaan strooi bymekaarmaak, en julle moet van hulle dieselfde hoeveelheid stene as tevore bly eis. Julle mag niks verminder nie! Hulle is net lui, daarom hou hulle aan met neul: ‘Ons wil vir ons God gaan offer’” (Eks 5:6-8).

Die farao se ekonomie was gebaseer op die onversadigbare behoefte na meer en meer. Dit wat jy doen of gee, was nooit genoeg nie.

Toe is daar die Een wat sê: “Ek is nou jul Eienaar. Daar is nie meer ’n farao wat ’n slawedrywer is en wat meer as sy pond vleis eis nie. Ek is nou jul God en Ek sê dat ses dae se werk genoeg is. Dat jy nie lui of onproduktief is as jy op die sewende dag rus nie. Inteendeel: Ek eis dat jy rus.”
God se ekonomie is gebaseer op die beginsel dat ses dae se werk genoeg is. Die sewende dag is die rusdag – want daar is genoeg. Nie net die mense moes rus nie, maar ook die slawe, die donkies, die vreemdelinge wat by hulle bly. Die sabbat, God se rus, is vir alles en almal.

 

Die Here se sabbatsrus gaan oor meer as bloot rus op ’n bepaalde dag. Hier is ’n hele toestand van rus ter sprake – elke dag van ons lewe. Met ’n hart wat vergenoegd en vol vrede is.

En een wat vol dankbaarheid is, want dis ondankbaarheid wat ons hart met onvergenoegdheid en onvrede vul. Dit beteken dan dat ons pal op soek bly na meer en meer. Ondankbaarheid plaas ons dus reg in die middel van die farao se soort ekonomie. En dit maak ons slawe.

Dankbaarheid doen die teendeel. Dit trek ons tot binne-in God se ekonomie-van-genoeg. Dit bring ons tot in sy rus. Dis almal beskore, dié wat die vryheid van sy liefdesverbond vir hulleself toe-eien.

 

 

 

 

*Met erkenning aan www.aeon.com: William R Black, Let’s bring back the Sabbath as a radical act against ‘total work’.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail