Dit was by een van my neefs se troue dat ons die besluit geneem het: Voortaan sal ons elke jaar ’n familiefees hou. Toe ons daar om die troutafel sit en kuier, het ons opnuut besef hoe ons mekaar se geselskap geniet, en dat dit tog nie moet ophou nie.
Dit is nou amper ses jaar later. Steeds beleef ons die heerlike samesyn van geliefdes wat mekaar een maal per jaar per vaste afspraak sien. Ons kuier met die oorgawe van mense wat weet dat so ’n saamwees ’n groot voorreg is.

Vir lank in my volwasse lewe het ek saans alleen geëet. Soms was dit sommer so oor die opwasbak. Ander kere darem by ’n gedekte plek aan my eetkamertafel.
Nou het daar ’n nuwe seisoen in my lewe aangebreek: Ek het die voorreg om elke aand saam met my man aandete te geniet. ’n Stukkie samesyn by ons kombuistafel.
Ná al die jare weet ek dat dit ’n seëning is wat nie almal beskore is nie.

In sy boek The Shack beskryf William P Young ’n besonderse toneel. Alhoewel die teologie in hierdie boek soms die wenkbroue laat lig, bly dié stuk my lank reeds by: Skouers vooroorgebuig, koppe bymekaar, sit Jesus en die Vader en die Heilige Gees saam om ’n tafel.
Hulle praat met mekaar. Af en toe skater hulle van die lag. Dan is dit weer elmboë op die tafel en oë vol meelewing om goed na mekaar te luister.
Toe stap William die kombuis binne. Die stemme verstil. Al drie, die Vader en die Seun en die Heilige Gees, draai na hom toe. Met ’n gul uitroep en oop arms nooi die Heilige Gees William om by hulle te kom aansluit.
God is gretig om ons deel van sy kring te maak. Ons is deel van sy samesyn.

Dit moes sekerlik een van die eensaamste oomblikke ooit vir Jesus se vriende gewees het daardie dag nadat Hy doodgemaak is. Hoe ontredderd en verlate moes hulle nie gevoel het nie …
Maar toe verander alles eensklaps: Jesus lewe weer – kyk, hier is Hy by hulle! Hy is weer in hul midde. Die samesyn van vroeër is terug. Net: Nou is dit anders en nuut.
In daardie oomblikke van saamwees gee Jesus aan hulle (en ons) ’n geskenk wat ewige samesyn beloof: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 18:20b).

Samesyn is die anker van ons menswees. Dis ’n voorreg en ’n seën om saam met geliefdes én vreemdelinge om ’n tafel te kan sit. Of in stille saamwees sommer net bymekaar te wees. Om te weet dat jy iewers behoort. Dat jy boonop die vermoë het om, al is dit vir ’n kort rukkie, iemand anders se rusplek te kan wees.
Daarom mag ons die oomblikke van saamwees nie afskeep nie. En dit beslis nie met ’n skerm deel nie!
Nee, kyk jou geliefdes in die oë, luister met jou hart na dít wat tussen die woorde lê. Spreek jou waardering uit. Gee lof waar lof toekom. Eet lekker aan daardie bord kos; dis die musiek waarop die fees van saamwees wals.
Geniet die lekkertes van die lewe saam met ander. Bou met jou woorde, bou met jou aandag. Bou waar jy sien ’n siel is afgetakel.
En maak jou saamwees met ander die moeite werd. Laat dit ’n uitdrukking wees van jou begrip van Vader, Seun en Gees. Van God by ons.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail