In die eerste drie maande van jou baba se lewe is daar baie dinge wat jy kan doen om te help dat hy/sy optimaal ontwikkel. DEUR JUDITH KAMFFER

Babas begin dadelik ná geboorte om op die wêreld om hulle te reageer. Die grondslag vir jou kind se kommunikasie- en taalontwikkeling, bewegings- en fisieke ontwikkeling, sosiale, emosionele en kognitiewe ontwikkeling word trouens in die eerste drie maande van hul lewe gelê. Dis daarom baie belangrik om met jou jong baba te speel om sodoende hierdie vroeë ontwikkeling te ondersteun.
Maar hoe speel ’n mens met ’n pap babatjie wat die heeldag net wil eet of slaap?
Die goeie nuus is dat dit baie eenvoudig is: Jy kan dit sommer tuis doen. En dit vra net ’n paar minute per dag.

1 Oogkontak
In die eerste paar weke ná geboorte gaan jou baba begin om oogkontak te bemeester. Maak seker dat jy tydens voeding en wanneer jy doek omruil en wanneer jou baba wakker word met haar oogkontak maak. Dit help haar om nie-verbale kommunikasie te verstaan.

2 Strek
Jou baba het die afgelope 40 weke in die fetusposisie deurgebring. Hoewel dit steeds baie belangrik is om jou baba styf toe te draai wanneer jy haar neerlê, kan jy haar gerus ook kans gee om ’n bietjie te strek. Help haar deur – versigtig! – haar ledemate uit te strek. Dit sal haar help om meer bewus te word van haar liggaam se bewegings en sal ook haar spiere help versterk vir daardie fisieke aktiwiteite, soos kruip en loop, wat later hul verskyning maak.

3 Musiek en dans
Daar is studies wat toon dat babas musiek wat hulle voor hul geboorte gehoor het ná geboorte herken. Speel daarom vir jou baba musiek waarna jy graag geluister het terwyl jy haar verwag het. Jy kan nou begin om jou kind aan rustige musiek bloot te stel. Speel dit vir haar wanneer jy haar sus of bad.
Jy kan ook met jou baba dans! Sy sal die kontak en swaai-bewegings gerus­stellend vind en so nóg bewegings en beter ritme aanleer.

4 Nabootsing
Boots jou baba se geluide en gesigsuitdrukkings na. Dit mag aanvanklik vir jou vreemd en selfs verspot voel, maar dit sal jou baba leer dat jy na haar luister en aan haar aandag gee. Dis ook ’n manier om aan haar te wys hoe kommunikasie werk.

5 Dra jou baba aan jou lyf
Baba-dra (“baby-wearing”) is nie ’n nuwe verskynsel nie. Onlangse studies toon ook aan dat babas gerusgestel word deur die kontak en ritmiese bewegings wat hulle voel as daar met hulle rondgeloop word. ’n Baba benodig ’n veilige omgewing naby haar ouers en genoeg slaap om optimaal te ontwikkel, en baba-dra help op ’n natuurlike wyse hiermee. Dra-lappe is geredelik aanlyn en in winkels beskikbaar, of jy kan sommer self een maak. Gaan loer ’n bietjie by abckidsinc.com en takealot.com vir voorbeelde.

6 Speel met ’n spieël
Plaas ’n spieël naby jou baba se gesig wanneer sy tydens “tummy time” op haar maag lê. Die uitdrukking “tummy time” word algemeen gebruik om te verwys na die oefening waar ’n baba op haar maag lê en aangemoedig word om haar kop te lig om sodoende haar nek te versterk. Die spieël bevorder selfontdekking en help boonop haar sig ontwikkel.

7 Verken teksture
Laat jou baba toe om verskillende teks­ture te leer ken deur haar hand te neem en allerlei materiale daarmee te streel. As jy om jou kyk, sal jy dalk verbaas wees oor hoeveel teksture in jou huis teenwoordig is. Dink aan ’n plant se blare, ’n growwe strooikussing, ’n sagte kombers, ’n gladde appel. Probeer egter net een of twee op ’n slag, sodat jou kind nie oorweldig voel nie.

8 Verken reuke
Jou baba word met ’n sterk reuk­sintuig gebore. Stel haar aan aangename geure bloot deur met haar in die tuin rond te stap, of deur vanielje of sitrusvrugte nader te bring. Jou baba kan nog nie op hierdie stadium self snuif nie, maar sal wel met die nuwe geure kan kennis maak.

9 Lees vir jou baba
Dit is baie belangrik om vir jou baba voor te lees. Hoewel sy nog nie juis kan verstaan of deurentyd kan aandag gee nie, sal die klank van jou stem, die woorde wat jy lees en die boek se prentjies alles tot haar taal- en spraakontwikkeling bydra.

10 Gebruik kontraste
Babas kan tydens die eerste paar weke van hul lewe nie goed sien nie. Dié sintuig ontwikkel wel vinnig en jou kind sal ná ’n paar weke tussen hoë-kontras-elemente kan onderskei. Jy sal sien dat jou kind soms by die venster uit staar of lank na ’n skadu teen die muur kyk. Maak vir jou baba ’n speelding wat bo hul doekruil-stasie hang en uit wit-en-swart prente of wit-en-swart doppies en kraletjies bestaan. Jy sal gou sien hoe jou kind dit geniet.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail