Kinders se fynmotoriese vaardighede word die beste ontwikkel wanneer die kleingoed met klein stukkies speelgoed besig is. Maak hierdie wolpoppies saam met hulle en stimuleer só hul ontwikkeling.

DEUR DIE LiG-REDAKSIE

Net ’n bol wol of twee, en ’n skêr. En ’n stewige reghoekige voorwerp, byvoorbeeld ’n selfoon. Dis al wat jy nodig het om hierdie oulike wolpoppie te maak.
Die kinders kan self só ’n poppie maak; daar sal dalk net ’n grootmens in die omtrek moet wees om te gaan hand bysit met die wol se knoop. Gebruik verskillende kleure wol vir elke poppie; dit maak elkeen uniek.

Jy het nodig
• Verskillende kleure wol
• ’n Stewige reghoekige voorwerp, soos ’n selfoon of ’n stuk karton
• ’n Skêr

Nicola Vermeulen van die NG Kerk Wes-Kaapland se Diaconia-bedie­ning is ook die opleidingsproses-koördineerder vir Diaconia en SmartStart. Sy het hierdie idee met ons gedeel.

JY MAAK Só

1 Draai die wol in die selfoon se lengte om die foon totdat dit vingerdikte daarom gedraai is.

2 Trek die wol nou versigtig van die selfoon af, en hou al die drade bymekaar.
3 Knip die oortollige stukke wol af.

4 Knoop ’n stukkie wol om die boonste deel van die string, omtrent kwartpad van bo af. Ryg die wol ’n paar keer om die string en maak seker dat die knoop stewig is.

5 Herhaal nou die proses met ’n ander kleur wol, dit wil sê draai dit tot ongeveer vingerdikte om die selfoon. Skuif die string af en knip die oortollige wol af.

6 Druk die tweede string wol dwars tussen die eerste string se drade in, daar waar die selfoon was. Sorg dat dit net onder die knoop is wat jy sopas gemaak het. Die twee stringe moet nou ’n kruis vorm, oftewel ’n figuurtjie met ’n lyfie en twee arms.

7 Neem nou nog ’n stukkie wol en knoop dit om die lyfie, net onder die armpies wat jy ingedruk het.

8 Knoop ’n stukkie wol om die armpies: een knoop aan die een kant van die lyfie en een aan die ander kant.

9 Neem ’n stukkie wol en maak nóg knope op albei arms, aan die punt van elke arm.

10 Knip die stringe wol deur: aan die arms se eindpunte, en by die lyfie se voete.

11 Om alles af te rond, kan jy ’n strikkie aan die lyfie se bokant maak, by die kop.

 

 

LiG ondersteun vroeëkinderontwikkelingsprojekte omdat ons weet dat dit Suid-Afrika ten goede kan help verander. Kinders wat tot hul volle potensiaal ontwikkel, word volwassenes wat ’n sinvolle lewe lei en ’n selfonderhoudende bydrae tot hul gemeenskap kan maak. Behoorlike vroeëkinderontwikkeling kan armoede help verlig en menswaardigheid bevorder.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail