Lydenstyd. Kruisigingtyd. Ons ken dit so goed. Hierdie stilword-tyd breek vanjaar op 6 Maart aan, Aswoensdag, en verloop sewe weke lank totdat dit die hoogtepunt op 19 April, Goeie Vrydag, bereik. LiG help jou vandeesmaand om die Lydenstyd deur die oë van al vier Evangelieskrywers te beleef.

DEUR RONELL BEZUIDENHOUT

Jesus se hele volwasse lewe was eintlik ’n reis op pad na sy dood toe. Die laaste deel van dié reis begin op daardie dag, wat ons Palmsondag noem, toe Hy Jerusalem ingegaan het.
Hoekom sou dieselfde mense wat Hom die Sondag met groot fanfare ontvang het, Hom op daardie Vrydag, vyf dae later, verwerp? Dit wys jou hoe vinnig mense van standpunt kan verander …
Maar waarskynlik is dit die laaste ete wat Jesus daardie Donderdagaand saam met sy dissipels genuttig het wat ons moet laat regop sit: Hier begin die legkaartstukkies by mekaar pas wanneer Jesus aankondig dat een in sy binnekring die verraaier gaan wees (Mark 14:17).
Daar is min gedeeltes in die Bybel wat Jesus se mensheid so duidelik uitbeeld soos toe Hy ná die ete in die tuin van Getsemane gaan bid het.
Kyk net na hierdie emosies: ontsteltenis, angs, doodsbenoudheid. Hy was bang om alleen te wees. Hy was só benoud dat Hy bid met sy gesig op die grond gedruk. En toe Hy kniel, kom hierdie woorde: “Abba, Vader … moenie dat ek hierdie lydensbeker moet drink nie. Maar U weet, U wil, u wil” (Mark 14:32-34, vry vertaal).
Jesus is só desperaat dat God ’n engel na Hom toe stuur om Hom sterk te maak (Luk 22:43). Daar lê bloeddruppels op die grond waar Hy gebid het. Dood­sweet. Daar is geen huiwering by Jesus om sy volle menswees aan sy Vader te wys nie.

Nou versnel die pas

Daar is die gevangeneming, en die Joodse Raad wat Jesus se antwoorde met ’n vergrootglas bekyk ten einde ’n klag teen Hom te kry. Daar is die hoëpriester wat daardie heel laaste vraag vra: “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?” En Jesus se antwoord wat sy lot verseël (Mark 14:62).
Waarvoor wag ons? wil die gepeupel weet. “Hy verdien die dood!” (Mark 14:64).
Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur in Judea, sal moet help. Die Joodse Raad is nie by magte om Jesus die doodstraf op te lê nie.
Vroeg die Vrydagoggend word ’n geboeide Jesus aan Pilatus oorhandig. Pilatus is gefassineer deur hierdie man voor hom. Hy is beslis nie skuldig aan wat die Joodse Raad beweer hy gedoen of gesê het nie.
Maar op daardie stadium het die groot skare al begin bloed ruik. Pilatus vra: “Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?”
“Kruisig hom!”
Harder: “Kruisig hom!” (Mark 15:1-15).
Nou kry die soldate hul kans om sy sake vir Hom te werk. Met die doringkroon op sy kop gedruk en die pers mantel om sy skouers om Hom te bespot, word Jesus die hele oggend lank gemartel. Totdat hulle Hom weer sy eie klere aantrek en Hom weglei om gekruisig te word.

Via Crucis: die laaste oomblikke

Die Via Dolorosa (ook genoem Via Crucis = Kruisweg) het groot betekenis in die kerk se geskiedenis. Kyk maar na die gebrand­skilderde vensters in groot katedrale – venster ná venster kan jy die storie volg. Daar is staproetes in kerktuine wat die Via Crucis uitbeeld, kompleet met 14 “staan stil en word stil”-plekke.
Hierdie 14 plekke word soms “die stasies van die kruis” genoem. Jy kan dit ook beskryf as belangrike oomblikke op pad na Jesus se sterfplek.
Nie al die stilhouplekke wat in die aanvanklike lys opgeneem is, kon in die Evangelies nagespoor word nie. Later is die lys aangepas sodat al 14 momente spesifieke Skrifverwysings bevat. Nou lyk dit só:
• Die eerste een is te vind waar Jesus in die tuin van Getsemane bid (Matt 26:36-41).
• Die tweede een is waar Jesus deur Judas verraai word en Hy gearresteer word (Mark 14:43-46).
• Die derde “stasie” is Jesus se veroordeling deur die Sanhedrin (Luk 22:66-71).
• Die vierde een is waar Petrus Jesus verloën (Matt 26:69-75).
• By die vyfde stasie word Jesus deur Pilatus ter dood veroordeel (Mark 15:1-5, 15).
• By die sesde stasie word Jesus geslaan en kry Hy ’n doringkroon (Joh 19:1-4).
• Die sewende een is waar Jesus die kruis opneem (Joh 19:5, 13-17).
• Die agtste stilhouplek is by Simon van Sirene wat Jesus help om sy kruis te dra (Mark 15:21).
• Op hierdie pad wat Jesus moes loop, was daar ook ’n oomblik waar Hy die treurende vroue van Jerusalem troos. Dit is die negende stilhouplek op Jesus se lydenspad (Luk 23:27-31).
• Die tiende een is toe Jesus aan die kruis vasgespyker word (Luk 23:33-43).
• Die elfde “stasie” beeld die oomblik
uit toe Jesus die koninkryk aan een van sy medeveroordeeldes belowe (Luk 23:39-43).
• By die twaalfde een luister ons hoe Jesus met sy ma en een van sy dissipels praat (Joh 19:25-27).
• Jesus sterf. Dit is die dertiende stilword-plek (Luk 23:44-46).
• Die veertiende een is waar Jesus se liggaam in die graf neergelê word (Matt 27:57-60).

Jy kan vir jouself veertien stilstaan-plekke in hierdie lydenstyd skep. Al is dit bloot om veertien dae lank die spesifieke teksgedeelte te bedink. Om jou in te dink hoe Jesus by elke “stasie” sou voel. Hoe die mense saam met Hom sou voel. Hoe dit alles jou laat voel.

Die Woord word stil

Dan is daar die kruiswoorde – en dit is nie toevallig sewe nie. Daar bly immers niks oor om te sê as die volheidsgetal klaar gepraat is nie.
• “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk 23:33-34).
• “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk 23:39-43).
• “Daar is u seun. Daar is jou moeder” (Joh 19:25-27).
• “Dit is volbring” (Joh 19:20).
• “Ek is dors” (Joh 19:28-30).
• “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt 27:46).
• “Vader, in u hande gee ek my gees oor” (Mark 15:34).

Draai ons om of stap ons voort?

Gelowiges kan kies: Bestudeer hierdie elemente in Jesus se lewe soos ’n hoofstuk uit die geskiedenis en met vele gebeurtenisse wat hoogs interessant is. Of ondersoek hierdie gebeure op Jesus se Via Crucis met die wete dat die Skrif ’n transformerende uitwerking op ons kan hê.
Dit is die Heilige Gees se werk. Daarom bid ons nadat ons elke paragraaf deeglik bekyk het, en ons vra die Gees: “Wat nou?”
Want die wonderlike van die Heilige Gees se werk is dat dit nie net óns is wat verander word nie; dit het ’n uitwerking op die mense om ons. Selfs al weet ons nie daarvan nie. Dit is soos suurdeeg werk.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail