In die jare tagtig van die vorige eeu, toe Suid-Afrika weinig kontak met die buitewêreld gehad het, het ons sonder handelsmerke grootgeword. Die enigste handelsmerk wat vir my destyds saak gemaak het, was ’n Super Springbok-rugbybal.

Toe gebeur daar ’n merkwaardige ding wat my kinderlewe op sy kop gedraai het: Nelson Mandela word uit die tronk vrygelaat, en die wêreld begin om sy deure vir ons land en sy mense oop te maak. Die sanksies is herroep, en Suid-Afrikaners kon weer met die buiteland begin handel dryf.

In ons klein boerderygemeenskap was dit vir die boere soos reën ná ’n lang droogte. Baie van hulle het na lande soos die VSA, Duitsland en Engeland gereis, op soek na uitvoergeleenthede. Vir daardie boere se kinders is daar splinternuwe speelgoed saamgebring, dinge wat tot op daardie stadium vir ons onbekend was. Vir die eerste keer ooit is ons klein plattelandse skooltjie blootgestel aan Barbie se pienk wêreld, aan Ninja Turtles en Nike-tekkies.

Nodeloos om te sê: Ek het slegs oë vir die tekkies gehad.

Asof oornag het my uitkyk op die lewe verander. My tennisskoene, my raket, my krieketkolf, my rugbybal, my skooltas, my kerkklere, my grootwordhuis, my pa se kar, ons TV – alles het eensklaps vaal en armoedig gelyk.

Ek het ook begin glo dat dit onmoontlik is om die kinders wat dáárdie tekkies gedra het op die tennisbaan of die atletiekveld te klop. Ek móés eenvoudig my voete in ’n paar Nikes kry om weer op ’n gelyke speelveld te kom.

Ná vele vergeefse probeerslae om my ouers te oortuig om ook vir my sulke tekkies in die hande te kry, het ek begin stories opmaak by my maats: Die skoene is reeds in die pos …

Een só ’n gesprek met ’n maat onthou ek soos gister. Hy het dadelik dwarsdeur my fantasie gesien en luidkeels begin verkondig: “Jy sal nooit Nike-tekkies kry nie; jou ouers is te arm!”

Daardie Desembervakansie werk ek toe my alie af. Ek maak swembaddens skoon totdat alles blou is, ek vee my pa se werkwinkel blink. Ek pas ander mense se huis op, gee hul honde kos, maak hul tuin nat.

Met die geld wat ek so verdien, en my sakgeld en ’n bietjie Kersfees-geld, maak ek toe net genoeg bymekaar om by die sportwinkel op Worcester ’n paar nuwe tekkies te kon koop.

Ek onthou nog die rit terug: daardie skoenboks op my skoot, met elke tekkie afsonderlik in kreukelpapier toegedraai. Die reuk wat beloftes van goue medaljes en nuwe status ingehou het.
Ek het by die huis aangekom en dit dadelik aangetrek. Dit was die mooiste goed wat ek al ooit aan my voete gehad het. Ek was amper te bang om uit die huis uit te gaan. Daardie hele oggend het ek op die sementblad langs ons motorhuis op en af gespring en heen en weer gehardloop.

My kuite het sommer groter gelyk en my spronge hoër.

Later kon ek dit nie meer hou nie: Skuins agter ons het my beste maat gebly, en om by hom uit te kom, moes ek oor ons heining klim en deur tannie Hannetjie Hansen se agterplaas loop. In daardie jare was dit nie ongehoord dat ’n kind sommer kortpad vat om by die bestemming te kom nie.

Dit was net die honde waarvoor ’n mens versigtig moes wees, maar tannie Hannetjie se swart en wit foksterriër het my al goed geken.

Met een sprong was ek oor die heining. Ek het sag op die gras aan die ander kant geland.

Té sag.

Toe ek my linkerskoen oplig, sien ek dit: Ek het bo-op een van die brak se “slagysters” beland.

My splinternuwe tekkie se hele skoensool was vol daarvan.

Hinkepink het ek na die naaste kraan toe gedraf.

Die res van daardie oggend het ek met ’n ou tandeborsel gesukkel om my tekkie weer nuut te kry. Maar die skade was gedoen.

Tot vandag toe, as ek die reuk van nuwe skoene kry, dan dink ek aan tannie Hannetjie Hansen se hond.

DEUR FOURIE ROSSOUW

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail