Teen hierdie tyd weet die hele winkel dit: Jou kind wil ’n roomys hê! Mense gaan staan behoorlik en staar na hierdie vreemde wese wat tussen die rakke lê en skreeu. Almal wonder, jy inkluis: Hoe nou gemaak?

Deur Susan Goosen

“Om jou kind te dissiplineer wanneer ’n skare mense toekyk, is beslis nie eenvoudig nie,” sê Nolene Rust, spelterapeut en forensiese kenner by die Kinder-Trauma- kliniek in Garsfontein, Pretoria. “Jy kan sommer sien wat die ander mense dink!

“Hierdie tasbare afwagting by die toe­skouers, is genoeg om selfs gesoute ouers aan hulle eie vermoëns te laat twyfel. Jy wou immers aan die wêreld wys watse oulike kind jy het. En hierdie gillende klein monstertjie op die vloer is beslis nie skougehalte nie …

“Boonop is baie ouers onseker oor presies wat hulle juis dan te doen staan – so sonder die houtlepel of die ‘stoutstoel’, wat natuurlik by die huis is. In daardie oomblikke is daar sommer séwe stemme in jou kop wat tegelyk raad gee!

“Ja-nee, so ’n openbare spektakel kan baie stresvol wees,” sê Nolene. “En dit geld sowel die ouers as hulle weerbarstige kinders. Stresvol vir jou, as jy nie dadelik met ’n plan vorendag kan kom nie. En vir die betrokke kind – veral in ’n situasie waar hulle nie vooraf geweet het wat van hulle verwag word nie.

“En natuurlik sal hulle die situasie baie negatief beleef indien jy hulle verneder deur heftig te reageer.”

Nicolene Leonard, ’n kliniese sielkundige in Lichtenburg, sê dat die meeste kinders sulke dinge sal waag – juis omdat hulle nie by die huis is nie, en omdat ’n ma of pa nie soos gewoonlik teenoor hulle kan optree nie.

“Kinders is dikwels uitstekende manipuleerders,” sê Nicolene, “en hulle sal die feit dat julle tussen ander mense is tot hulle voordeel wil gebruik. Jou optrede en jou hantering van die situasie sal bepaal of hierdie gedrag gereeld gaan voorkom.”

Die omstanders

Die toeskouers en aanhoorders by so ’n kabaal speel vanselfsprekend ’n belangrike en selfs intimiderende rol in dié klein drama.

Nicolene maan die betrokke ouer(s) om nie impulsief op te tree omdat hulle dopgehou of aangehoor word of omdat hierdie mense dit kwansuis van hulle verwag nie. “Jou verhouding met jou kind is baie belangriker en kosbaarder as jou verhouding met die publiek,” sê sy. “Selfs al voel dit op daardie oomblik asof jy in die aarde wil wegsink. Om jou kind voor almal te dissiplineer bloot omdat jy graag ferm en in beheer wil lyk, kan op die lange duur negatiewe gevolge vir jou kind se selfbeeld hê en ’n negatiewe uitwerking op julle verhouding hê.

“Ja, ‘die mense’ kan dikwels baie uitgesproke wees oor wat ouers aan ’n betrokke saak doen of nie doen nie of behoort te doen. Maar die ouer self is die een wat moet bepaal hoe, waar en wanneer daar teen die kind opgetree gaan word,” sê Nicolene.

In die hitte van die stryd

Hettie Brittz – skrywer, spreker en ouerskapkenner – reken dat jong kinders se ouers hulle nooit “op daardie oomblik” moet dissiplineer nie. Selfs (en veral) nie wanneer ’n groep mense julle met arendsoë dophou nie. Sy sê: “Wanneer jy of jou kind besonder ontsteld is, beteken dissipline niks nie. Dit is daarom baie belangrik dat jy die situasie se emosionele temperatuur in ag sal neem wanneer jy besluit wat jou op daardie oomblik te doen staan.

“Gewoonlik is dit die beste om jou en jou kind so gou moontlik uit die situasie te verwyder, totdat julle albei weer kalm is,” sê Hettie. “Dit kan beteken dat jy jou kind aan die hand neem en wegloop. Of hom selfs optel en wegdrá … sodat julle alleen kan wees. Kinders wat om die een of ander rede baie ontsteld is, gaan dalk ’n langer tyd nodig hê om te kalmeer.

“Dit kan ook vir hulle nodig wees om op die een of ander wyse aan hulle emosies uiting te gee. Sommige outjies reageer goed wanneer hulle kan rondhardloop, of ’n boks tot onder in die tuin kan skop, of ’n koerant kan opfrommel en aan flenters skeur.

“Want eers wanneer jou kind kalm is, kan julle die situasie behoorlik hanteer. Wanneer kinders bedaar het, weet hulle dikwels wat hulle verkeerd gedoen het. ­
En is hulle waarskynlik bereid om om ver­skoning te vra sónder dat jy daarvoor hoef te vra.

“Kinders leer beter wanneer hulle nie meer in die situasie is nie. En hulle onthou dit lank genoeg sodat julle dit later kan bespreek. Indien die situasie dit toelaat, kan jy bloot sê: “Dit wat jy gedoen het, is verkeerd. Maar ons gaan later daaroor praat.

“Verduidelik dan later, wanneer dit geleë is, presies wat dit is wat jou kind verkeerd gedoen het, en watter soort gedrag jy van hom of haar verwag,” sê Hettie.

As die stof gaan lê …

Nicolene is daarvan oortuig dat die verleë ouers nie namens hulle kinders vir almal om verskoning hoef te vra of verduidelikings hoef te gee nie – tensy die kind iemand anders skade berokken het.

Nolene sluit hierby aan: “Indien jy vir jou kind intree, leer hy dat hy geen seggenskap het nie en stroop jy hom van sy verantwoordelikheid. Kinders leer uit die logiese gevolge van hulle dade. Indien hy sy maatjie se speelding tydens ’n woedebui gebreek het, moet hy self om ver­skoning vra. En dalk met sy sakgeld vir ’n nuwe een betaal.”

Hê ’n plan!

Nolene moedig ouers aan om ’n noodplan gereed te hê vir wanneer hierdie soort moeilikheid jou oorval. Dan kan jy – te midde van jou kind se vloermoer, en jou eie emosies en die omstanders se geskoktheid – diep asemhaal en koeltjies die rasionele plan in werking stel wat jy en die kinders vooraf bespreek het.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail