Studeer hard – met ’n lekker hart!

“Mooi so! Jy het jou hart uitgespeel!” Is daar beter aanmoediging as dit wanneer jou kind moeg en lyfseer van die sportveld af kom? Nou wat daarvan as jy “hart” doelbewus ook by sy of haar studies betrek? Daar is kenners wat sê dat dit ’n enorme verskil aan prestasie maak.

Deur Corinne Badenhorst

Die meeste van ons is op skool geleer dat die hart voortdurend op “opdragte” reageer wat vanaf die brein gestuur word. Die Heartmath Instituut in die VSA het egter bevind dat die omgekeerde ook waar is. Dat die hart trouens méér seine na die brein toe stuur as andersom!

Hierdie hartseine het ’n noemenswaardige uitwerking op breinfunksie, en dit beïnvloed ook emosies, sowel as die hoër geestesfunksies soos aandag, persepsie en geheue.

Saam met die hartseine stuur ook ons vyf sintuie seine na die brein vir verwerking. Dit weet ons tog. Die vraag is nou: Hoe word al hierdie seine verwerk om byvoorbeeld slimmer besluite te neem, beter te studeer en ingewikkelder take uit te voer?

Die antwoord lê in ons vermoë om selfreguleringsvaardighede aan te leer en om dit dan tydens studietyd toe te pas. En dis presies waarmee ons hart ons help. Kinders wat selfregulering tydens studie­tyd beoefen, kan ’n aantal belangrike voordele ervaar, byvoorbeeld:

  • Verbeterde konsentrasie, fokus en aandag
  • Emosionele veerkragtigheid
  • Impulsbeheer
  • Verhoogde interne motivering
  • Beter begrip en dus ’n beter integrasie van feite
  • Vindingrykheid
  • Beter toets- en eksamenuitslae (Wat ’n bonus!)

Navorsing toon aan dat wanneer jy selfregulering beoefen, jy kognitief en fisiologies doeltreffender funksioneer, dat jy meer emosionele stabiliteit ervaar en groter geestelike duidelikheid beleef. Eenvoudig gestel: Selfregulering sorg dat ons liggaam en brein beter saamwerk, dat ons beter voel en dat ons beter presteer.

Ongelukkig trek die woord “leer” alte dikwels die sneller van ’n gelaaide geweer. Maar met ’n kopskuif na ’n meer holistiese benadering, ’n hart-benadering, is dit soos om jou paar broodjies en vissies voor Jesus Christus neer te lê – en ’n wonderwerk te beleef. God het voorwaar niks van ons weerhou om super-presteerders te wees of te word nie.

 

Net ’n paar aanpassings

Almal weet dat om kinders met die memorisering van feite te bombardeer, en dan van hulle te vra om dit soos ’n masjiengeweer weer uit te spoeg, nie die beste leermetode is nie. Verreweg nie. Hulle verset hulle daarteen, en bowendien word hulle dan met ’n arsenaal splintervaardighede en spatseltjies kennis oorlaai.

’n Holistiese benadering gee hulle kennis (die versameling van feite), begrip (die ordening van daardie feite) asook wysheid (dit is die toepassing daarvan). Voorts kweek dit vindingrykheid en kreatiwiteit.

Stel dít nou teenoor die blote memorisering van feite ter wille van erkenning en prestasie …

Wanneer daar bloot op die memorisering van feite gefokus word, word daar ook (al is dit subtiel) op die maak van en dus ook die vermyding van foute gefokus. Die logiese gevolg hiervan is ’n ingesteldheid op foute, en dít is ’n voorloper vir angs.

Leer is tog veel eerder die proses om kinders te motiveer om tydens elke ontwikkelingsfase die beste weergawe van hulle­self te wees, omdat juis dit hul natuurlike skeppingsaard uitbeeld.

 

Ons leer en onthou dinge waaraan ons betekenisvolle emosie koppel. Betekenisvolle emosies kan onderskei word in negatiefbelaaide emosies en positiefbelaaide emosies. Eersgenoemde soort – byvoorbeeld irritasie, woede en angs – is wetenskaplik-bewese vyande van leer. Die rede hiervoor is dat dit allerlei “ongeorganiseerde” seine vanaf ons hartklopritme na ons brein stuur ten einde die sogenaamde streshormone (soos adrenalien en kortisol) vry te stel. In plaas van leer, fokus die liggaam nou op oorlewing.

Hierteenoor blyk dit dat die sein tussen ons brein en hart optimaal funksioneer wanneer ons emosies soos bewondering, dankbaarheid, vreugde en opwinding beleef. Dit is wetenskaplik bewys dat dit in hierdie positiewe emosionele atmosfeer is waar daar uitsonderlike leer plaasvind; dit is die sogenaamde super-leer-staat.

Boonop vind daar hier ná 72 uur ’n fisiologiese wonderwerk plaas: Daar ontwikkel neurale netwerke wat die assosiasie met leer en geheue bevorder. Kreatiwiteit word geskep en die betrokke kinders kan dit wat hulle geleer het as grondslag vir hul volgende uitdaging aanwend.

 

Selfregulering kom in verskeie vorms voor: Sommige kinders leer en presteer deur visuele insette; ander vaar weer briljant met beweging; daar is dié wat konsepte vir altyd onthou nadat hulle dit gehoor het.

Aan die ander kant laat die “sit stil en leer!”-benadering soveel potensiaal en uniekheid verlore gaan.

Hier is ’n wenk: Let op na jou kinders se sensoriese gedrag wanneer hulle iets doen waarvoor hulle lief is. Dit het die potensiaal om presies die regte “emosionele atmosfeer” vir leer te kweek. Gebruik dan daardie gedrag om die studietyd optimaal te benut.

Dit is dus moontlik vir die vroetelaar om baie beter te leer terwyl hy of sy op ’n fisio-bal sit. En vir ’n ander een is die neerskryf van feite met skeerroom op ’n skuifdeur iets wat hy of sy vir altyd sal onthou.

 

Prakties gesproke

Studiemetodes: Flitskaarte met vrae en antwoorde, of akronieme met ’n humor-element, werk uitstekend – veral wanneer die kaartjies vooraf opgesom word. In plaas daarvan om met bedreigende stapels boeke gekonfronteer te word, kan die kind ’n paar keer om die huis stap met ’n pakkie flitskaarte in die hand. Ja, die geheim lê in herhaling, maar slegs wanneer die totale idee begryp word.

Die rol van emosie: Dankbaarheid, vrede en vreugde organiseer ons emosies, dit verminder kortisolvlakke en dit het die afskeiding van die sogenaamde “goed voel-hormone” tot gevolg – wat weer op hul beurt ons geheue asook neurale plastisiteit in die brein bevorder.

Sensories paraat: Verminder visuele stimulasie vir die tipiese rondkykers. Sorg dat daar minder prente teen die mure is, en verwyder onnodige skryfbehoeftes op die tafel. Voorkom die gebruik van elektroniese media tydens ’n pouse in die studietyd.

Wanneer die kind geneig is om konsentrasie te verloor as gevolg van geluide in die omgewing, gebruik ’n waaier om sulke geluide uit te doof, of verskaf oorfone met toepaslike musiek.

Vir die tipiese vroetel-kind is, soos genoem, ’n fisiobal om op te sit ’n ideale studiemaat, of ’n stresballetjie, of selfs ’n lekker groot boontjiesakkie op die knieë.

 

Fokus vinnig vir super-leer!

  1. Sit gemaklik met toe oë in die plek waar jy studeer, en haal stadig asem. Verbeel jou jy haal deur jou hart asem deur met jou hande ’n “asem-tonneltjie” oor jou hart te maak.
  2. Dink aan iets wat baie lekker of spesiaal was.
  3. Hou daardie gevoel in jou hart, en haal steeds stadig asem.
  4. Begin dan die leerproses met ’n be­grip van die totale stuk werk wat jy moet bestudeer, verstaan dit eers, en vind die toepassing daarvan in jou eie lewe.
  5. Begin dan met die feite wat dit ­illustreer.

 

Behalwe dat holistiese leer ’n “minder-is-meer”-begrip is, het dit ook gedissiplineerde, kreatiewe en verantwoordelike leerders tot gevolg. Dit kweek uitblinkers wat glo: Ek is goed genoeg.

Corinne Badenhorst is ’n arbeidsterapeut in Bloemfontein. Sy kan by 083 660 5412 of avontconnect@gmail.com bereik word.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail