’n Groot persentasie studente wat by universiteite en kolleges inskryf, is voor die einde van hulle eerste jaar sak en pak terug by die huis. Hoekom? En wat is die kanse dat dit ook met jou kind gaan gebeur?

Deur Susan Goosen

Die hoë uitvalsyfer by eerstejaars is inderdaad ’n groot probleem,” sê Andri Burger, sielkundige in Gauteng, “en een wat tans heelwat aandag geniet. Verskillende sake kan hier ’n rol speel.”

Andri noem die volgende:

  • Die aanpassing by die universiteit ná die hoërskooljare is besonder uitdagend. Studente word nie noodwendig vir hierdie aanpassing voorberei nie.
  • Op skool word kinders stapsgewys en met behulp van herhaling geleer. By tersiêre instellings word eie inisiatief, motivering en verantwoordelikheid van studente vereis.
  • Op skool is daar meestal ’n baie kleiner leerder-onderwyser-verhouding as tydens naskoolse opleiding.
  • Studente sukkel dikwels om akademiese verantwoordelikhede en sosiale behoeftes met mekaar te versoen.
  • Taalvaardighede speel ook ’n rol. Studente studeer meestal in Engels of gebruik Engels-handboeke – en alte dikwels is dit nie hulle moedertaal nie.
  • Studente met spesiale behoeftes word nie noodwendig geakkommodeer nie.

Andri se kollega, Annemarike de Beer, sluit hierby aan: “By die meeste studente is daar baie onsekerheid oor vriende, finansies, verblyf, en die moontlikheid van akademiese mislukking. Sowel as sekere sosiale aanpassings. Baie studente het ongelukkig ook ’n wanbegrip van hulle akademiese vermoë én onrealistiese verwagtinge van die tersiêre omgewing.”

Carina van Vuuren, sielkundige in Pretoria, voeg die volgende by: “Studente wat onvolwasse is of nie die regte studierigting gekies het nie, sal ook met ’n agterstand begin. Baie studente volg die studierigting wat hulle ouers wil hê hulle moet volg, en kom dan nie die mas op nie omdat dit nie húlle passie of belangstelling is nie.”

Die regte studierigting?

Annemarike is daarvan oortuig dat beroepsontwikkeling nie eers in graad 12 moet begin nie. Sy sê: “Leerders moet reeds in graad 9 voldoende leiding kry om die regte vakke te kies. Stel jou kind aan verskillende beroepsrigtings bloot. Gesels met mense wat in daardie beroepe is en bespreek verskillende studierigtings met professionele persone, of kontak ’n beroepsvoorligter. Dit is ook baie belangrik dat julle sal navorsing doen oor beroepsgeleenthede in die gekose studierigting. Indien daar min werkgeleenthede in daardie rigting is, moet julle ook ander moontlikhede oorweeg.

“Dit is ook belangrik dat leerders van jongs af die regte studiemetodes sal aanleer. Kry professionele hulp indien nodig, of kontak julle skool se voorligter. Indien jy twaalf jaar lank jou kind moes smeek om sy huiswerk klaar te maak en gedurig oor sy skouer moes loer, is die kans maar skraal dat hy eensklaps in ’n ster-student sal ontpop.”

Op julle merke, gereed …

Hoe weet jy of jou kind gereed is vir hierdie aanpassing? Andri noem ’n paar sake waarvan ouers moet kennis neem:

  • Weet jou kind wat sy wil studeer? Is sy gemotiveerd en doelgerig, of doen sy maar net wat julle (en haar vriende) van haar verwag?
  • Voldoen jou kind aan die nodige vereistes vir die spesifieke vakrigting? Beskik jou kind oor die nodige akademiese vaardighede en volg sy goeie studiemetodes?
  • Hoe volwasse is jou kind? Kan sy verantwoordelikheid neem en probleme oplos? Toon sy respek vir gesag?
  • Is daar voldoende ondersteuningstelsels tot julle beskikking? Weet jou kind waar om aan te klop om hulp indien sy emosioneel, finansieel of akademies nie die mas opkom nie?

Wat van ’n ‘gap’-jaar?

Indien kinders nie beroepsvolwasse is nie of nie seker is watter studierigting hulle wil volg nie, kan ’n sogenaamde “gap”-jaar baie waardevol wees. Carina sê dat so ’n watertrapjaar kinders kan help om die praktiese en professionele aspekte wat die volwasse lewe vir hulle inhou, te ontdek en te beleef. Boonop kan sulke jongmense die geleentheid kry om verskillende beroepe te ondersoek, en selfs om ondervinding van ander kulture en lande op te doen.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail