Toe my dogtertjie twee en ʼn half jaar oud was moes ons hoor haar lewe is ʼn “hartverskeurende onbekende”. Maar ek het ook geweet ons sal berge versit om haar die beste kans op ʼn funksionele lewe te gee …

DEUR DEIDRÉ BARNES

20 Julie 2018. Dié datum sal vir ewig in my hart en herinneringe geëts wees. Op hierdie dag word my donkerste vrees ’n realiteit. Ons hoor dat ons twee en ʼn half jarige dogtertjie, Abigail, op die outismespektrum is. Ek is verpletter en in skok. Ek het soveel vrae! Wat is ASD? Hoe het my kind dit gekry? Hoekom sy? Sy lyk dan so normaal? Sy maak oogkontak! Wat het ek verkeerd gedoen? My hart skree. Ek huil, baklei. My brein worstel met soveel nuwe inligting dat ek voel hy gaan ontplof.

In die volgende weke en maande verloor ek myself in navorsing. Ek besef dat dít wat ek gedink het outisme is, baie ver van die waarheid is. Ek leer dat baie min mense weet wat dit is en dat dit ’n besondere komplekse kondisie is. ʼn Legioen verskillende aanlynforums bespreek menigte verskillende opinies, metodes, terapieë en behandelinge en ek wil weghardloop. Waar begin ek? Hoe help ek my kind? Die vrae raak nie minder nie. Ek is gelukkig geseënd met ’n besondere man. ʼn Man wat my van die begin van hierdie reis kalm en rustig hou met sy sistematiese, deeglike denkprosesse en geloof dat God in beheer is.

As ʼn ouer, het jy drome vir jou kind se toekoms en in hierdie tyd is Abigail se toekoms ʼn hartverskeurende onbekende. Ons is onseker wat die implikasie op haar lewe gaan wees: sal sy ooit praat, sal sy skool toe gaan, sal sy die “normale” lewe kan lei wat haar ouer boetie en sussie lei?

“Sy is anders. Sy is nie minder nie. Sy is geliefd. Sy is geseënd en sy sal oorwin,” sê Deidré oor haar dogtertjie Abby wat op die outismespektrum is.

Abigail was ʼn gesonde en gelukkige baba en “special needs” was nie ʼn term wat ek ooit gedink het haar sal beskryf nie. Op ongeveer 18 maande het ons begin bekommerd raak oor haar ontwikkeling. Sy het die paar woorde wat sy op twee jaar kon sê, verloor. Sy het herhalende en angstige gedrag begin toon soos om bosse hare uit haar kop uit te trek en sy kon glad nie reageer op ʼn instruksie nie.

Nou hoor ons sy is op die outismespektrum en dat elke persoon met hierdie kondisie uniek in hulle simptome en gedrag is. Hoe verstaan ʼn mens dit? Ek lees boeke en internetartikels, volg groepe op facebook, kyk seminare op youtube. Ek wil verstaan. Ek kyk na my kind, na ander “normale” kinders, na outistiese kinders en verstaan nie. Hierdie sogenaamde spektrum is moeilik om te begryp. Wat ek weet is dat my kind nogsteeds my kind is. Sy is steeds die liefdevolle bondeltjie soentjies, drukkies en laggies wat sy was die dag voor haar diagnose. En wat ek weet sonder ’n spikkeltjie twyfel is dat ek en David berge sal versit om ons kind die beste kans te gee op ’n funksionele lewe.

Ons is geseënd om dadelik met die regte mense in verbinding te tree wat die kritiese rol van vroeë intervensie in outisme besef. Ons laat nie gras onder ons voete groei nie en besluit op ’n dubbele aanslag om vir Abby te help:

  1. Die primêre terapie wat Abby ontvang word “Applied Behavioural Analysis” (ABA) genoem. Hierdie terapie fokus daarop om spesifieke gedrag, soos sosiale vaardighede, kommunikasie en leer vaardigehede te verbeter. Dit word dan gekomplimenteer deur spraakterapie, arbeidsterapie en musiekterapie.
  2. Ons leer vinnig dat daar ’n belangrike biomediese aanslag tot outisme is en vind ’n dokter wat in hierdie veld spesialiseer. Verskeie gespesialiseerde toetse help ons om ’n spesifieke plan te vorm oor hoe om haar liggaam te genees en te ondersteun. As gevolg van haar liggaam se onvermoë om te detoksifiseer, moet ons Abby se dieët en omgewing baie streng aanpas en alle chemiese en toksiese insette verwyder. Abby kry ook geen gluten, soja, suiwel, geurmiddels, preserveermiddels, kleurmiddels of GMO-produkte in haar dieet nie. Ons vervang al ons bad- en skoonmaakprodukte met natuurlike produkte sonder chemikalieë. ’n Ander groot mediese faktor is Abby se metileringsprobleem wat talle ander probleme veroorsaak, waarvan een van die grootstes ’n B12 tekort is.  Vir dié rede ontvang sy ʼn menigte natuurlike aanvullings.

In Januarie 2019 onstaan Abby’s Angels, ’n facebookblad toegewy daaraan om Abby se storie te deel. Eers het ek geworstel met die idee om so publiek ons kind se lewe te deel, maar het besef dat daar ’n nood is vir bewustheid oor hierdie kwessie. Op Abby’s Angels deel ons literatuur, motivering en Abby se hoogtepunte en laagtepunte. Dis nie altyd maklik of lekker nie, maar elke keer as iemand vir my ‘n boodskap stuur om dankie te sê weet ek hoekom ek dit doen.

Ten spyte van die uitdagings wat Abigail daagliks veg, het sy altyd ’n groot glimlag op haar gesig! Ons weet haar paadjie vorentoe gaan nie altyd maklik wees nie, maar ons glo dat daar ’n groter doel is vir haar lewe en dat haar deursettingsvermoë en passie vir die lewe ’n inspirasie vir ander sal wees.

Wanneer jy vir Abby ontmoet, sien jy ’n gelukkige drie en ’n half jarige dogtertjie. Dan besef jy dat sy nie met jou kan terugpraat nie en sukkel om met maatjies te speel. Dan sien jy dat sy nog doeke dra en nie haarself kan voer nie. Jy sal ook vinnig sien sy is mal oor liedjies en dans graag saam met haar gunstelinge. Sy is lief om soentjies uit te deel en is gedurig besig om te skaterlag (daaroor sal sy ons seker nog eendag vertel).

Sy is anders. Sy is nie minder nie. Sy is geliefd. Sy is geseënd en sy sal oorwin.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail