Kommunikasieprobleme is van die grootste struikelblokke in ’n huwelik. Gelukkig is dit ook van die maklikstes om te oorkom – dit vra bloot ’n bietjie meer begrip, en ’n klompie basiese vaardighede. En die wil om dit uit te voer.

Deur René Badenhorst

Goeie begrip tussen twee mense kan met ’n tango vergelyk word, sê Elmari Craig en Anjenita Hugo in Sekssprokie, die misterie ontrafel. Eers moet ’n mens die ritme verstaan, en dan moet jy ’n aanvoeling ontwikkel vir jou maat se styl.

Die idee is om jou dansstyl so gou moontlik met jou maat s’n te sinchroniseer, sê hierdie skrywers. En jou maat moet dieselfde doen. Hoe beter die paartjie hulle styl en bewegings kommunikeer en by mekaar inval, hoe makliker kan hulle die dans stuur en die ritme daarvan beïnvloed.

Maar hoekom trap huweliksmaats dan so dikwels op mekaar se tone? En hoekom kla so baie: “My maat verstaan my nie”?

Die feit dat huwelike in ’n gebroke wêreld afspeel, en boonop tussen twee gebroke mense wat nie altyd goed is met die dinge wat hulle sê nie, het tot gevolg dat kommunikasie in die huwelik altyd die potensiaal het om ’n groot struikelblok te wees.

“Daarby,” sê ds Deon van der Berg, leraar en aanbieder van lewensverrykingseminare, “kom elkeen uit ’n unieke agtergrond en met ’n unieke persoonlikheid. Boonop verskil mans en vroue se behoeftes radikaal van mekaar, en funksioneer en kommunikeer hulle op verskillende maniere.”

‘Ons het ’n probleem!’

Die kommunikasieprobleem in jou huwelik lê dalk nie daarin dat jou maat jou nie verstaan of nie vir jou omgee nie, maar bloot omdat God ons verskillend aanmekaargesit het. Dit is dus nodig om goed te verstaan hoe jou maat kommunikeer; dit kan baie seer tone voorkom.

(Let wel: Die veralgemenings wat hier volg, wil bloot beter begrip vestig. Daar is immers altyd uitsonderings!)

“Vroue beleef voortdurend en gelyktydig veelvuldige gedagtes en emosies uit hulle verlede en die hede. En hulle kan nie hierdie gedagtes en emosies sommerso ignoreer nie,” sê Deon. “Dit het tot gevolg dat daar baie dinge gelyktydig in vroue se gedagtes aan die gang is … waaroor hulle op een slag wil praat.”

Die meeste mans funksioneer nie so nie. Terwyl vroue gelyktydig kan dink
én voel, is mans geneig om te dink óf te voel. Mans hou daarvan om gedagtes en emosies in die volgorde waarin hulle opduik te verwerk – en dan een op ’n
slag. Wanneer hy een afgehandel het, sal hy na die volgende een aanbeweeg en
dit hanteer.

Ook wanneer daar ’n probleem is, benader mans en vroue dit verskillend,” sê dr Christa van den Berg, pastorale terapeut en verhoudingspesialis. “Mans is meer geneig om oorhoofs of feitelik en analities te kommunikeer. As daar ’n probleem is, só reken hulle, moet dit opgelos word.

“Vroue is meer detail-gedrewe in hulle kommunikasie; hulle wil weet hóé die probleem opgelos moet word. Vroue neig ook om ’n langer aanloop te hê deur in besonderhede te wil weet hoe die probleem ontstaan het, hoekom dit gebeur het soos dit gebeur het, en uiteindelik gedetailleerd te praat oor hoe dit opgelos kan word.”

Die gevreesde “ek wil praat …”

Deon erken: “Elke man vrees die oomblik wanneer sy vrou sê: ‘Ek wil met jou praat …’ Bloot hierdie woorde laat ’n man in koue sweet uitslaan – al weet hy nie eens waaroor dit gaan nie.”

“Baie mans is weerloos,” sê Deon. “Hulle is onseker van hulleself, ten spyte van die selfversekerdheid wat hulle uitstraal. Dit is iets wat ander mense en spesifiek hulle eggenoot waarskynlik nie besef nie.

“Hierdie onsekerheid laat selfs daardie man wat uiterlik lyk asof hy ál die selfvertroue in die wêreld het, vrees vir die oomblik dat hy ontmasker sal word vir wie hy werklik is – of ten minste vir wie hy glo hy is. Dit is hierdie onsekerheid in ’n man wat maak dat hy heeltyd bang is hy doen iets verkeerd. Of dat hy ‘uitgevang’ sal word.

Wanneer sy vrou se “ons moet praat” impliseer dat hy oor emosies moet praat, is die uitdaging boonop soveel groter. Veral vir daardie man wat dit moeilik vind om sy emosies te beskryf. As hy skielik aangesê word om dit te doen, kan dit hom bedreig. En laat vrees dat die eise van hierdie verhouding eintlik bó sy vuurmaakplek is.

* Sekssprokie, die misterie ontrafel, deur Elmari Craig en Anjenita Hugo, Bybel-Media, 2010.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail