“Soos in die hemel, so ook op die aarde.” Gelowiges herken dié frase dadelik as ’n deel van die “Ons Vader”-gebed. Vra jy egter wat dit presies beteken, word daar dikwels ge-“uhm” en ge-“aa” … Die regte antwoord is niks minder nie as asemrowend. Lees net hier!

DEUR STEPHAN JOUBERT

Die hemel is vir die meeste mense maar ’n “wollerige” begrip. Dalk reken hulle dis iets soos ’n toekomstige bestemming wat geluksaligheid beloof. ’n Ewigdurende goedheid-en-guns. Of so iets …

Vir Jesus is die hemel nié soos In the sweet bye and bye nie – daardie vroom ou negentiende eeuse Christelike liedjie. Onthou jy die koortjie? “In the sweet bye and bye, we shall meet on that beautiful shore.”

Nee, dis nie wat Jesus met “hemel” wou oordra nie. Maar nog minder is die hemel ’n parodie hierop. Daar is mos Joe Hill se bekende spotliedjie wat onder meer só lui: “You will eat, bye and bye. In that glorious land above the sky. Work and pray, live on hay. You’ll get pie in the sky when you die.”

Vir Jesus is die hemel die sentrum van God se koninkryk. Boonop is die hemel besig met ’n reuseveldtog onder Jesus se aanvoering. Ons, die gelowiges, is deel van hierdie hemelse inval, ook wanneer ons bid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”

Hier bid ons dat hemel en aarde sal hande vat. Ons bid dat God se wêreld met ons wêreld sal sinchroniseer. Nou reeds. Nie “eendag” nie.

Eendag is te laat. Ons bid dat die hemel vandag sal oorspoel aarde toe. Ons bid dat God se wil hier tussen ons sal gebeur, en dat sy koninkryk tussen ons sal groei.

Die Koning is hier!

Van God se koninkryk gepraat: Dit het ons wêreld met mag en mening binnegeval toe Jesus hier opgedaag het. Onthou jy sy woorde wat ongeveer só geklink het: “Bekeer julle, want die koninkryk van God is op hande”? (vgl Mark 1:15). Van toe af is God se nuwe wêreld besig om ons stukkende wêreld te infiltreer.

Maar ons moet ’n kop-bekering ondergaan om dit te snap. Ons benodig ’n nuwe manier van dink. Indien dit nie gebeur nie, sal ons God se koninkryk miskyk, net soos wat die destydse godsdienstige mense dit met hul oë wawyd oop gedoen het.

In Lukas 12:54-55 sê Jesus juis aan hulle dat hulle “kranige weervoorspellers” is: As daar wolke in die weste verskyn, sê hulle dit gaan reën. Dan gebeur dit. As die suide­wind begin waai, sê hulle dit gaan warm wees. Dan is dit.

Tog kan hulle nie die tyd reg lees nie. Hulle begryp nie dat die tyd se tekstuur en inhoud ingrypend verander het nie.

Dis nou Jesustyd. Ons leef in Anno Domini, die jaar van ons Heer. Nou stel ons almal ons horlosie, ons kalender en ons dagprogram op Jesus se tyd in. Ons sinchroniseer ons tyd met koninkrykstyd.

Nee, God se aardse koninkryk het nie ’n sentrale regering nie. Hier is nie ’n hoofstad en personeel nie. Sy koninkryk “gebeur” – verrassend, organies en onvoorspelbaar. Jy kom onverwags daarop af.

Dis soos ’n skat wat jy opgrawe terwyl jy besig is om ’n saailand om te spit. Dié koninkryk groei vanself. Dit begin klein, maar dit groei al die ander ryke sommer blitsvinnig flou. God se koninkryk is onstuitbaar.

Die koninkryk van God gaan nie met trompetgeskal of spesiale tekens gepaard nie. Só verduidelik Jesus dit in Lukas 17:20-21. Jy kan nie sommer sê “hier is die koninkryk” of “daar is dit” nie. Die koninkryk breek stilweg maar kragtig in ons midde aan. Soos suurdeeg dring dit orals in. Soos sout verdryf dit smaakloosheid. Soos lig maak dit die donker bang.

Elkeen wat Jesus as Here ken en navolg, het permanente burgerskap hier. Boonop gaan God se ryk binnekort in volle glorie kom. Jesus sê Hyself sal die koninkryk van God volledig laat aanbreek wanneer Hy weer sy opwagting hier tussen ons maak.

In die hemel …

God se koninkryk is besig om die aarde binne te dring. Die koninkryk “gebeur” reeds ’n ewigheid lank in die hemel.

Hoe, presies?

In Openbaring 4 – 5 word ons juis dit gewys as Johannes ons op ’n begeleide toer deur die hemel neem.

In Openbaring 4 ontmoet ons die “Wie is Wie” in die hemel. Ons sien heel eerste vir God op sy troon. Dis opvallend dat Hy geen krisisbestuur in die heelal doen nie. Hy implementeer ook nie enige noodplanne hier op aarde nie.

Hoekom nie?

God is rustig aan die stuur van sake.

Ook sien ons die Heilige Gees in sy volheid daar, by wyse van die sewe Geeste voor God se troon. Asook die 24 ouderlinge rondom die troon. Hulle verteenwoordig die hemelse kerk, by wyse van die

12 stamme van die Ou Testament en die 12 apostels van die Nuwe Testament.

Reg ná sy hemelvaart daag Jesus ook in die hemel op. Dit lees ons in Openbaring 5. Hy word as die geslagte Lam uitgebeeld, na aanleiding van sy aardse stryd en sy oorwinning.

Die grootste geveg in die heelal se geskiedenis is nou oor en verby – Jesus het oorwin. Daarom sien Johannes hoe Jesus ook God se raadsplan ontsluit. Hy besit nou alle mag in die hemel en op die aarde.

Dit alles lei tot ’n hemelse crescendo van lof en aanbidding. Almal in die hemel aanbid Jesus as die Here. Hulle weet Hy het ons uit elke stam, taal, volk en nasie losgekoop. Hulle weet ons is nou konings en priesters in God se oë. Ons almal deel in Jesus se triomf.

Dis dus geen wonder nie dat God en Jesus sulke uitbundige lof en aanbidding in Openbaring 4 – 5 ontvang. Die heeltyd wen die feesvreugde hier.

Ons, die medewerkers

God se koninkryk “gebeur” op vol spoed in die hemel. Sy wil ook.

In dieselfde asem is die hemel besig met ’n genade-veldtog om God se konink­ryk hier tussen ons te laat kom. Die Here se aardse familie moet uitgebrei word. Sy skepping moet herstel word, oral waar mense dit verniel en vernietig.

Ons is God se aardse medewerkers in hierdie veldtog. Daarom bid ons dat sy wil hier moet geskied, net soos in die hemel. Ons bid dat Openbaring 4 – 5 se feesvreugde in ons wêreld sal in stroom.

Terwyl ons die “Ons Vader”-gebed getrou bid, meld ons ook elke dag aan vir diens in God se koninkryk. Nooit systap ons die uitdagings van ’n bloeiende wêreld rondom ons nie. Ons sit nie passief en wag op die hemel nie; ons bevind ons nie eenkant in die een of ander kerklike wagkamer nie.

Nee, ons maak ons hande vuil met die seer en swaar van die lewe. Ons laai ander se laste op ons skouers. Elke dag beliggaam ons die woorde van CS Lewis in The joyful Christian: “If you read history you will find that the Christians who did most for the present world were precisely those who thought most of the next. It is since Christians have largely ceased to think of the other world that they have become so ineffective in this.”

Tydens ons eie aardse diensbeurt kies ons om die hemel in en rondom ons te laat “gebeur”. Ons trap elke lont van hooploosheid en vernietiging dood.

Al biddende en al dienende beleef ons ook hoe God se koninkryk nou reeds in ons eie omgewing veld wen.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail