Ek staan langs die hospitaalbed en sukkel om my emosies te beheer. Dit is ons kollega wat hier lê. Ek sien hoe hy met die ander mense om die bed gesels, ek hoor hoe hy saam grappies maak. Hoe hy vertel wat die dokters hom alles meegedeel het.
Ek merk ook die effense sleeptong waarmee hy praat. Sy stem klink nog dieselfde. Die intonasie, so eie aan hom, is steeds daar. Hy lag nog op dieselfde manier. Steeds gooi hy sy kop agteroor wanneer daar ’n baie snaakse storie vertel word.
Maar hier is hy nou. Onder ’n blou hospitaalkombers. Tot hier toe het die beroerte hom gebring.
Toe ek later loop, dink ek weer aan die kyk in sy oë. Die verslaentheid. Die skok oor wat met hom gebeur het. Ja, hy het saam gesels en saam gelag, maar die diep merk wat hierdie trauma op hom gelaat het, was knap onder die oppervlak van sy vrolikheid te sien.

Twee dae later staan ek weer langs sy bed. Hy vertel hoe die fisioterapeut met hom werk. En hy wys: Hy gryp die slap linkerarm in sy regterhand vas. Dop dit om, vat dit weer vas en lig sy hand op. “Kyk hier!” sê hy. Twee van sy vingers kan beweeg, al is dit net effentjies.
Iets in sy oë lyk vanoggend anders.
Ek sien nie meer die trauma nie. Ek probeer dieper kyk, fyner luister as bloot na die inligting wat hy oor die pad vorentoe met my deel.
Toe sien ek dit: hoop. ’n Geloof dat dinge van hier af net beter sal gaan.
Hier is hy nou. Steeds onder ’n blou kombers, steeds in ’n hospitaalbed. Tot hier toe het die beroerte hom gebring – maar hoop laat hom verder kyk en geloof vuur sy positiwiteit aan.
Daar lê ’n lang pad voor. Ek weet dit, hy weet dit. Maar ek is daarvan oortuig dat hy die stryd aan ’t wen is. Bloot omdat hy nie toegelaat het dat trauma hom tot op ’n plek bring en hom daar laat staan nie.
Hy het gekies om verder te kyk. Om te bly glo in ’n God wat red, wat herstel, wat lewe bring. Hy hou vol om te hoop op ’n beter plek as dié waarheen die beroerte hom gebring het.

Later dink ek weer aan die nuwe kyk in my kollega se oë. En eensklaps kry ek ook weer hoop vir die lewe, vir al die eise en verwagtinge en opdragte. O, hoe aansteeklik is hoop tog nie! En hoe blaas dit nie weer die vuur aan om te getuig oor die Lewende Hoop wat in ons woon nie!
Ek leer nogmaals om Petrus se woorde te gaan uitleef: “Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe” (1 Pet 3:15b).

 

 

 

 

’n Klompie weke gelede het LiG se DTP-operateur, Mario Small, ’n beroerte gehad. Mario het in 1991 by Bybelkor (later Bybel-Media) begin werk. Hy is die samesteller van die Jaarboek van die NG Kerke en is verantwoordelik vir LiG en Kerkbode se tegniese versorging.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail