Sy en haar familie het gedink sy gaan slegs galstene laat verwyder. Uiteindelik het Madelaine Pretorius sepsis opgedoen en was sy ses weke in ’n koma. Die dokter beskryf haar oorlewing as ’n wonderwerk. So beskryf sy ook ’n reeks gebeure wat haar ouers ervaar het toe hulle van George hulle dogter by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad moes kom bystaan. Sy vertel meer oor haar “rol in God se storie”.

Madelaine Pretorius

My storie, of altans “my rol in God se storie” volg nou.  Op die oomblik is daar maar nog duidelike tekens van traumasimptome wat ek en my gesin ervaar, maar elkeen van ons werk dit deur op ons eie manier op ’n daaglikse basis.

Ek het gedink ek is “OK”. Soos ons almal mos glo. Die lewe gaan aan, met of sonder jou.  Dit is so, maar soms moet jy stilstaan en erken, “ek is nie so sterk soos ek maak om te wees nie”.

Dit was met die les van die vier kwadrante oor wat traumaslagoffers jou vertel of nie vertel nie, wat sy gesê het: “deur al vier loop ’n sirkel, en sien jy GOD se storie raak, daar waar Hy wonderbaarlik ingryp”.

Dit het my so diep geraak en God het vir my gesê deur die Heilige Gees, net daar, ek gaan nie my storie vir almal vertel van my wonderwerkgenesing nie. Nee, ek gaan sy storie vertel waarin ek die hoofrol gespeel het.

Ek gaan so kort as moontlik probeer verduidelik wat gebeur het, maar dit is so ’n groot storie dat dit onmoontlik is om in 12 sinne vas te vang.

Ek gaan net die basiese datums insit en dinge loop nie noodwendig in chronologiese volgorde nie, ek tik uit my hart uit.

Op 10 Maart word ek wakker, ek voel goor, kopseer, koorsig.  Net nie lekker nie.  As ek gaan piepie is dit donker oranje.  Ek gaan kry iets by die apteek vir blaasinfeksie (volgens Dr Google), of so dink ek. Ek gaan slaap maar die volgende oggend is ek tot die dood toe moeg, voel nog slegter.  Ek gaan werk toe met my groen top. My vriendin kom later die dag daar aan en sê: “My maggies Madel, jy lyk soos Dragula met jou groen top, jou oë is dan goudgeel!”

Ek ry scooter en my kollega Louise dring daarop aan dat my pa-hulle my sommer direk na werk hospitaal toe vat en ek my scooter net daar los.  Die dokter by die hospitaal neem bloedtoetse en sê eers, dit lyk of ek galblaasinfeksie het, dalk galstene. Maar, sy stuur my huistoe en ek moet volgende dag terugkom vir antibiotika. Terwyl ek wag vir pyn- en koorsmedikasie, kom sy nader en noem dat sy nie rustig is met my wat huis toe gaan nie, ek moet eerder die aand in die hospitaal deurbring totdat die bloedtoetse se uitslag kom.  Die volgende middag kom die dokter na my toe en gee my ’n voorskrif vir twee weke se antibiotika en noem dat my bilirubin-vlakke hemelshoog is (telling was oor die 1780). Die apteek maak die fout en gee my net ’n week se voorraad.  So begin ’n wipplankrit van geelsug-en-slegvoel.

Na twee weke word ek in George opgeneem in die hospitaal met die idee dat ek vinniger daar gehelp kan word as hulle my na Grootte Schuur moet stuur vir die verwydering van die galstene wat op die sonar wys. Dertig in totaal, maar een groot een wat die galbuis toeknyp. Ek word per lug- ambulans gevlieg na Kaapstad om dringend die galstene te verwyder wat die galbuise verstop. Hulle gebruik ’n redelike gespespesialiseerde tegniek, hulle werk deur jou keelgat (Gelukkig sit die ou my onder algemene narkose). Die galsteen wat die galbuis verstop word suksesvol verwyder na die 3de probeerslag en ’n oorgroot “mandjie”. Hulle ontslaan my na die tyd, en ek kan huis toe gaan maar moet ’n afspraak gaan maak om my galblaas te verwyder by George Hospitaal.  So spandeer ek die naweek by die huis, maar my koors bly hoog en my giggelgeel gesig skrik almal af wat my teëkom.

“Feit is, ek het die trauma deurgemaak en het dit oorleef, ek het die dood se angel uitgepluk en ek gaan aan na dit wat gebeur het. Jy is nie vir die res van jou lewe ’n slagoffer nie, maar meer as oorwinnaar in Christus wat jou die krag gee volgens die Bybel. Mag dié stuk almal wat dit lees, moed gee. Daar ís wonderwerke daar buite, en daar is altyd hoop,” sê Madelaine. Foto verskaf

So gaan ek die Maandag deur George toe om die dokter te sien wat vir my ’n afspraak moet maak vir die galblaasverwydering wat die groot “sondaar” is wat die geelsug veroorsaak.  Ek sê vir my ma ons ry gou deur want ek wil die middag nog goed doen. Daar gekom, sê die dokter: “Jy gaan glad nie huis toe nie, ons moet eers die geelsug opklaar en dan kan ons sny”.  Die woorde tref my soos ’n vuishou in my maag. Ek bars in trane uit, ek wil nie in die hospitaal bly nie. Klaar. Dis nie lekker nie. Die saal waar ek laas was het gestink (die cleaners was op strike), die kos is aaklig, en ek slaap in elk geval glad nie met die masjiene wat raas en mense wat snork nie. My vertoë val op dowe ore, en toe ek my weer kom kry, sit ek in die saal op my bed. My kleretas ens sal my ma-hulle vir my later die dag bring.

So gaan drie dae verby.  Hulle sê vir my Maandag word ek eerste ding gedoen, maar hulle moet my hier hou sodat ek behandeling kan ontvang om jou bilirubin-vlakke nog meer af te bring.  Ek lyk en voel steeds soos een van Liewe Heksie se gifappeltjies. Net so “moody” ook.  My ma hulle kan my net elke tweede dag sien in die dag, want daar is nie geld vir petrol nie. Ek is dood verveeld. My vriendin gee my ’n inkleurboek en die een vrou in die hoek van die saal, wie se man ’n dominee is, kleur ’n prentjie in en skryf ’n boodskappie.  Die Vrydagaand voor ek moet ingaan vir die operasie gaan ek in besoektyd badkamer toe. Ek voel lughoofdig toe ek van die toilet af opstaan en moeg.  Ek loop slinger-slinger na my bed toe terug.  Voor ek by die bed toe kom, voel ek, hier gaan ek nou “uitpass”.  Die dominee hardloop nader en vang my net voor ek die grond tref.  Met sy hulp sukkel ek om op die bed, wat hemelhoog voel, op te klim. Hy roep die susters wat gang af staan en gesels.  In die dringendheid in sy stem gee hulle gehoor en kom dadelik nader.  Hulle gee my een kyk en bel die dokter.  Dit was 30 April 2019.  Wel, wat hierna gebeur, het mense my na die tyd vertel, want ek het geen herinnering van die gebeure tot en met 2 Junie 2019 nie.

Die volgende oggend maak my ouers en my broer se kinders reg met die lekkerste kos om my te kom besoek en dat ons almal lekker kan saam eet en kuier voor my operasie.  My pa kry missed call op sy foon en sy “caller ID” wys: ICU George Provinsiale Hospitaal.  Paniek tree in en hy bel dadelik terug … Hulle los alles net so en jaag deur na my toe.

Daar aangekom was ek glo klaar in ’n koma, my liggaam het in septiese skok gegaan. Ek is geïnkubeer. Masjiene hou my hart en longe aan die gang.  Sepsis (Jy het 5% kans om te oorleef, anders sterf jy binne 12 tot 24 uur). Die dokter lig my ouers in dat dit baie sleg lyk en hulle het alle moontlike antibiotikas ingespuit maar niks werk nie. Hulle sê ook vir my ouers om my te groet want hulle gaan my deurvlieg Kaapstad toe. Hulle sê ook, daar is regtig nie baie hoop vir my nie en weet nie of ek Kaapstad gaan lewendig haal nie.

My ouers pak op, jaag terug Mosselbaai toe. Hulle is verward, bekommerd soos net ’n ma en pa kan wees. Hulle kan nie dadelik die lang pad aandurf met die Jeep nie, want hy moet eers gediens word.  Ek werk tydelik by ’n werkswinkel en my baas stem in om die oliefilter die volgende dag te vervang.  My ouers se lewe word in chaos gedompel.

Geld vir petrol, verblyf ens is daar nie.  My ma-hulle onthou die buurmense wou ons sleepwaentjie koop, en gaan vra hulle of hulle nie maar die waentjie wil koop nie en vertel hulle moet in die Kaap by my uitkom. Die transaksie word beklink. Dit sou later baie by my spook. Die feit dat hulle hulle besittings moes verkoop om by my te kon wees. Ek het lank gesukkel met skuldgevoellens.

Teen 16:00 kan my ma hulle vertrek.  Die spanning loop ondraagbaar hoog. Hulle kom so teen 11:00 die aand by Grootte Schuur Hospitaal se ICU aan. Die professor berei my ma hulle voor op wat om te verwag. Hy vra hoe oud ek is. Toe hulle sê 45, sê die dokter: “Wees bly julle het julle kind 45 jaar gehad.” Toe my pa-hulle by my bed kom is daar pype en drips en masjiene en sakke orals. Behalwe vir die asemhaling pyp is daar ’n pyp wat buisvoeding verskaf wat in my neus afgaan tot in my maag. Ek is dubbeld my oorspronklike grootte geswel.  Daar is ’n dik swaar pyp wat om my kop gebind is en wat afgaan in my mond na my longe. Intussen het my niere totaal gaan staan en is ek aan ’n dialisemasjien gekoppel. Langs my bed hang ’n sak vol goed wat uit my liggaam kom, swart vloeistof. En ’n masjien meet outomaties my koors en neem my bloeddruk elke halfuur. Op geestelike vlak, sou ek later besef, het ek baie dinge beleef.  My pa vat aan my lyf. Ek is yskoud.  My ma hulle is in ’n toestand.  Een van die professor se assistentdokters herinner hom aan die antibiotika van Amerika, wat nog net in die laboratorium getoets word, maar nog nooit op mense nie. My ma-hulle gee toestemming dat ek “proefkonyn” kan wes.

My ma bid vir die eerste keer in haar lewe hardop: “Here, as U haar wil regtig wil hê, vat haar maar, maar as U haar nie regtig wil hê nie, gee haar asb vir ons terug.”

My ma hulle is doodmoeg van die langpad. Die dokter waarsku hulle om nêrens stop nie, want dit het gestortreën en hulle kon amper niks sien nie. Hulle het met ’n swaar gemoed Paarl toe gery waar hulle 3:00 die oggend by my oom-hulle aangekom het. Die volgende oggend ry hulle terug na my toe. Toe hulle by die hospitaal aankom, vertel die dokter dat die sepsis veroorsaak is deur ’n abses wat op my lewer ontwikkel het. Dit blyk dat ek ’n kiem in George opgetel het. My lewer is oortrek met duisende blasies. Geen antibiotika behalwe dalk die proef-antibiotika kan die blasies oplos nie. Die dr sien effense verbetering in my toestand maar noem ook dat ek nie buite gevaar is nie. Teen dag drie kom my ouers aan en die verpleër, Jonathan, vertel ek het half bygekom en net begin pype en drade en drips uitruk, ek is vasgebind met bande aan die bed by my voete en hande.  Ek is weer terug in my koma of semi-koma. Wat die werklike mediese terme is, weet ek nie, ek kan niks onthou nie, maar het net voor my uitgestaar en ogies geknip as my ouers met my praat.

Intussen reël my niggie vir hulle verblyf teen R150 per persoon per nag by ’n gastehuis 800 m van die hospitaal af. Dis die goedkoopste in die omgewing.  Daar is geen parkering binne die terrein nie, so my pa se Jeep moet in die straat slaap.

Daar het so snaakse ding gebeur … Een aand roep die bestuurder vir my pa en sê: “Oom , daar sit iemand in oom se kar”.  My pa storm pajamas en al af, gereed om die motordief al sy dae te gee … Dit is toe (volgens die polisie), ’n straatvrou, wat toets of die karre gesluit is, inklim en lekker warm slaap.  Sy het nie ’n sent gevat wat voor in die bakkie gelê het nie. So gaan ’n week verby, maar intussen kry ek dubbele longonsteking, galblaasonsteking, my niere werk nog amper glad nie, ek kry diepaar-trombose en die geelsug is nog in volle swang. Daar word ook ’n stent in my geplaas om die een aar oop te rek wat later verwyder is. Die dokter kom na die 5de of 6de dag by my ouers en sê hy wil asb toestemming hê om ‘n “traggie” in te sit omdat hy sien hoe ek ly. Met ’n traggie sny hulle jou keel so cm oop en sit ’n ronde plastiese voorwerp in jou lugpyp.  Die pype waarmee hulle jou help asemhaal loop dan deur hierdie ding na jou longe toe, hulle “suig” ook jou longe skoon van die slym wat daarop bou as gevolg van die longontsteking. Die kanse is 98 % dat hulle jou stembande kan seermaak en jy dan met ’n klanktoestel, wat aan jou keel gekoppel is, moet leer praat. Die ander deel van jou keel loop direk na jou maag toe.

Nodeloos om te sê na ’n week is my ma-hulle se geld op. Hulle moet teruggaan Mosselbaai toe. Dis ’n dag voor hulle terugkeer en hulle sit in die ICU-wagkamer. Hulle het elke dag daar gebly van die oggend tot die aand laat. My ma hulle sit kop onderstebo. Die sosiale werker loop verby en vra wat fout is. Wat volgende gebeur is werklik ook God se genade, my herstel en alles wat almal aan ons as gesin gedoen het. Familie wat ons jare laas gesien of mee kontak gemaak het, het help kyk, kom kuier ens. My ma noem hulle kommer oor my en dat hulle nie langer kan bekostig om naby my te bly nie. Die vrou sê hulle moet bietjie wag. Lang storie kort, die hospitaal is die enigste in Suid-Afrika en ook net 1 van 100 hospitale wereldwyd wat so ’n diens aanbied … Hulle betaal vir my ouers se verblyf vir die res van die tydperk. Die plek waar hulle tans gebly het was boonop die plek met wie die hospitaal onderhandel het in ander gevalle. Gewoonlik mag iemand net drie dae van die diens gebruik maak, maar hulle laat my ouers nog ’n volle drie weke toe. Die professor reël dat my ma-hulle gratis onderdakparkering kry by die hospitaal vir die volle tydperk. Alle etenstye wat hulle by die hospitaal is, word gratis vir hulle aangebied.  Hulle kry dus elke dag middag en aandete verniet. Asook tee en koffie.

My toestand verbeter, en dokters kon weer bietjie asemskep.  Dit lyk of die duisende klein blasies op my lewer al hoe minder word.  Maar toe kom dag 18.  My pa-hulle kom by my bed.  My pa se oog vang die monitor wat my koors meet. 39,8 grade!  My pa skrik hom boeglam. Hy het sy 3de jaar in Noodhulp en weet so ’n hoë koors is lewensgevaarlik. My pa kyk die dokter vraend aan en die dokter noem dat hy so bekommerd is dat die infeksie weereens posgevat het. Hulle trek my byna kaalbas uit en sit ’n massiewe waaier op sy koudste en sterkste direk op my. Selfs dít help nie. My pa moet ’n dik baadjie in die Jeep gaan haal omdat dit so koud is. My pa kyk na die monitor en sy getuienis spreek boekdele. Hy bid en vra die Here: “Here bring my kind se koors af”. My pa sê, vir vyf minute, elke keer as hy na die monitor kyk, sak my koors met 0,1 grade. Toe hy badkamer toe moet gaan, wat verder af in die gang is, is my koors 38,2 grade. 10 minute gaan verby en hy is weer terug by my bed … Wat hy sien laat hom werklik weer glo: 36,2 grade. So normaal as wat ’n mens kan kry. Nooit weer daarna was my koors hoër as 36 nie.  My toestand verbeter daagliks, maar ek is steeds uit soos ’n kers.

My ma bedank die dokter, ’n Indiese man in sy 20’s, wat die voorstel gemaak het vir die antibiotika. Maar hy sê net vir my ma: “Tannie, moet nie vir my dankie sê nie, sê vir God dankie, want wat julle hier sien is ’n wonderwerk.”

Na drie weke is ek steeds in ICU, maar my ouers moet terugkeer na hulle lewe toe. Hulle kan nie vir ewig by my wees nie.  Hulle neem swaar afskeid.  Langs my lê ’n Moslemvrou.  Sy vra my ma of sy vir my kan bid. My ma sê “Natuurlik!”, en net voor sy loop druk sy vir my ma R200 in die hand vir hulle padkos op pad terug Mosselbaai toe. Hulle nooi ook my ma-hulle om as hulle ooit weer in die Kaap kom, by hulle aan huis tuis te gaan.  Wildvreemde mense. My ma-hulle maak ’n draai by die rekeninge-afdeling om te probeer bepaal of hulle ’n lening sal moet aangaan om my mediese kostes te dek. Die vrou kyk, en sê hulle skuld nie ’n sent nie …. omdat ek “proefkonyn” was vir die antibiotika.  Tot vandag toe, het ek geen rekening van enige van die drie hospitale of dokters gekry nie. Vir die mense daarbuite wat Lotto speel – Dankie, ’n deel van julle geld gaan direk vir die befondsing vir die lugambulans en helikopter wat die staatshospitaal in ernstige noodgevalle gebruik.

Ek was die 2de Junie weer by my volle bewussyn.  Ek word oorgeplaas na die isolasiekamers toe.  Ek wil toilet toe gaan maar hoor die suster sê ek moet nie “worry” nie, ek het ’n kateter in.  Ek is verward, bang en deurmekaar. Ek kan nie stil lê nie en word weereens vasgegespe.  Dit is ’n trauma op ’n trauma.  Ek hoor net die suster sê: “Jou ma-hulle het gebel en stuur groete”.  Hoekom gee hulle nie die dekselse telefoon vir my aan of roep my nie, wonder ek. Ek kom agter ek kan nie opstaan nie en ek kan ook nie praat nie. Die arbeidsterapeute kom na my toe.  Hulle vat my albei aan die arms en sê ek moet opstaan. Ek kan nie.  Ek sak inmekaar, my bene en brein is afgesny van mekaar. Dit is super traumaties.  Gaan ek ooit weer kan loop? Niemand weet hoe lank ek so “verlam” gaan wees nie, maar gee vir my brein- en beenoefeninge wat ek in die bed kan doen. Na so vier dae kan ek darem al regopstaan en met die loopring loop tot by die deur. Maar ek is doodmoeg en kan nog geen woord uitkry nie. Ek kry papier en pen in die hande en skryf vir almal vrae en opdragte neer. Twee dae daarna kon ek met die loopring toilet toe gaan maar moet 3 keer rus tot by die toilet 50 m verder.

Die spraakterapeut kom by my. Sy kyk die buisvoeding-buis so, neem plate, en sê onmiddelik ’n dunner buis moet ingesit word want dit maak my stembande nog seerder.

Ek is bitter dors en het nog geen water in die hele tydperk gedrink nie. Sy sê ek mag elke vier ure twee blokkies ys suig. Ek kom agter, as die pols-monitor van my vinger afglip, gaan die alarm af en storm die susters in.  Ek hou die horlosie dop.  As my vier ure verby is, wikkel ek my vinger so snaaks, en dan spat daai stuk plastiek af … hulle storm in en dan ek kan “ys” met my lippe vorm.  Ek lewe vir daardie vier ure.  Later vorder ek in die gewone saal na drie telepels water elke twee ure. Hulle is bang die water beland in my longe en ek verstik.  Ek is vasberade om weer te begin praat.  Ek sê die alfabet in my kop en vorm dit met my mond en gebruik al my krag om die klank uit te kry.  Uiteindelik kry ek dit reg.  Ek is toe oorgeplaas na die gewone chirurgiese saal en word daagliks gemartel met inspuitings, bloedtrek en bloedoortappings. Steeds is ek op buisvoeding.  Die laaste twee weke is my vordering verbasend goed. Die dokters van ander pasiënte kom om my te ontmoet.  Ek loop alleen, net met die “drip stand” na die toilet toe en terug. My kateter en buisvoeding is uitgehaal en ek kan sagte kosse begin eet.

Ek kan net dankie sê aan God vir my genesing en vordering asook die mediese personeel wat meer as hulle plig gedoen het. Op 20 Julie word ek ontslaan maar moes weer ses weke later terug wees vir nog ’n week waar die galblaas en stent verwyder is. Dr Sali sê so ewe na hy die stent verwyder: “I do not want to see you again.” (Geen kwade gevoelens van my kant af nie).  Die dokters, hier en daar, lees my storie op die hospitaalverslag, en kan nie glo ek sit in lewende lywe voor hulle nie.  Die realiteit is, ja, ek is genees maar die herstelpad is 24 maande. Ek is nou eers vier maande op die herstelpad.  Ek glo ek sal dit “beat”.  Ek is mos meer as oorwinnaar in Christus wat my die krag gee.

Die ergste is die feit dat ek nog so bietjie sukkel met die loop en my armspiere is baie swak – ek laat val baie keer goed. Dit is frustrerend. Ek sukkel ook om te slaap want ek kry terugflitse. Te danke aan my kennis van Narratiewe Terapie verstaan ek dít waardeur ek gegaan het is trauma. En nou pas ek die stappe toe om my te help om dinge vinniger te verwerk.  Ek het onder andere ’n gedig geskryf (sien onderaan).

Ek wil van nou af praat van trauma-survivors in plaas van traumaslagoffers, aangesien dit steeds die slagoffer “lable”.  Feit is, ek het die trauma deurgemaak en het dit oorleef, ek het die dood se angel uitgepluk en ek gaan aan na dit wat gebeur het.

Jy is nie vir die res van jou lewe ’n slagoffer nie, maar meer as oorwinnaar in Christus wat jou die krag gee volgens die Bybel. Mag dié stuk almal wat dit lees, moed gee. Daar ís wonderwerke daar buite, en daar is altyd hoop.

Lewende water-gebede

Deur Madelaine Pretorius       

Geïnspireer deur: Die Heilige Gees

 

 Ek wou jou hê, maar hulle het gesê hulle het jou nodig,

Toe gee Ek jou terug vir nog ’n ruk.

Elke gebed wat na My toe deurgekom het,

Was soos skottels vol lewende water.

Ek moes my Engele stuur om jou te was,

Soms was Ek self daar om jou op te pas.

 

Ek wou jou heel teruggee, my kind.

Ek wou jou wonde vir jou verbind.

Met lewende water het Ek jou gewas,

En my Engele gestuur om jou op te pas.

 

Ses weke later sien jy weer lig.

Jy kry alles soos voorheen terug.

Al moes jy weer vooraf leer loop en praat,

Ek het geweet, deur my, is jy tot alles in staat.

 

Elke gebed was ’n skottel vol lewende water.

Elke druppel was op jou lyf uitgegiet.

Vandag is jy op die genesingspad, heelwat later.

Ek gee vir jou Genade, elke dag verniet.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail