Gister plaas ’n vriendin, wat ek deur Facebook leer ken het, foto’s op haar tuisblad van die huis waaruit hulle ná 25 jaar trek. Dis die huis waar al drie haar kinders gebore is, skryf sy. Die huis waar haar gesin gevorm is. Waar hulle gelag en gehuil en geleef het.

Op een van die foto’s herken ek die stoep. En die voordeur en die trapreling. En ek weet, sonder dat iemand dit vir my hoef te vertel, hiérdie is my kleintydse huis. Ek herken die ingeboude boekrakke teen die sitkamermuur, die gekelkte lamp­skerms daarbo. Die konsertinadeur wat die sit- en eetkamer van mekaar skei. Die voorportaal se leiklipvloer. Die lang gang met sy drie kamers aan die linkerkant.

En ek is terug in my tienertyd. Hierdie huis is óns huis. Dis hier waar ek oefen vir musiekeksamens, waar ek lewenslange vriendskappe smee, waar ons tot laat in die nag oor die lewe praat en droom. Waar my geloof sy beslag kry. Dis die huis waaruit ons trek terwyl ek my matriekeksamen skryf.

Ek onthou die bokse in die vertrekke, die huis wat al hoe leër en onpersoonliker raak. Die voordeurklokkie wat soggens en smiddae én saans lui, die in en uit van vriende en gemeentelede wat kom groet.

Ek wat tussendeur ’n stil plek soek om te studeer. En dan: My skok en verslaentheid wanneer ek by die huis kom nadat ek my laaste vak geskryf het en die verhuisingvragmotor voor die huis sien staan.

Ek hoor weer die hol klank van my voetstappe in die gang. Ek onthou hoe ek roep. Ek sien die res van ons gesinnetjie waar hulle op bokse in die leë eetkamer sit terwyl ons huisraad uitgedra word.

Die stil, donkerbruin klavier. My skryftafeltjie. ’n Boekrak. Pa se lessenaar.

Toe die vragmotor laatmiddag ry, stap ek vir oulaas deur die leë vertrekke. Ek weet en voel: Dis nie meer ons huis nie. Alles wat dit ons s’n gemaak het, is weg. Die leë ruimtes verklap niks van die mense wat hier geleef het nie.

Deur die loop van jare het ek, elke keer wanneer ons trek, besef: Waar ek ook al gaan, ek neem my huis saam met my. Met al sy liefde, al sy vreugde, al sy verdriet. Al die ander, gewone dinge. En net soos wat dié huis volledig huis was, sal die volgende huis ook huis word vir my.

Op ’n reis deur Duitsland het ek per trein vanaf Marburg in die noordweste tot by München in die verre suide gereis. Oral langs die treinspoor was klein dorpies. Ek het gewonder hoeveel van hulle tydens die Tweede Wêreldoorlog verwoes is. Wat was elke ontheemde se diepste versugting?

Dalk net ’n dak oor die kop. ’n Venster met ’n uitsig op die berge, vir opkyk en moed skep. Of bloot ’n klein kamertjie met ’n kaggel, vir warmte en saamwees ná die oorlog se verskrikking.

Die klein detail maak nie regtig saak nie. Wanneer ’n mens werklik ontwortel is, word jy van beuselagtighede gestroop en met jouself gekonfronteer. Jy besin oor dit wat regtig betekenis aan jou lewe gee.

Jy vra jou af: Wat is belangrik? Wat nié? Wat neem ek saam? Wat laat ek agter?

In dié proses kom jy by jou kern uit. Jy vra die vraag: Wie is ek? Wat het ek nodig om te kan leef en om te kan oorleef?

Wanneer ons by daardie antwoord uitkom, kan ons ons oë in opgetoë verwagting op ons uiteindelike bestemming rig, met Jesus se belofte in Johannes 14:1 in ons gedagte: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek.”

DEUR LIZETTE MURRAY

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail