Kan jy weer begin as jou huis voor jou oë afbrand? En as dit hoegenaamd moontlik is –
presies waar begin jy? Help dit om by voorbaat te weet dit is jou goed wat daar brand en nie jý nie?

DEUR JOHANNA VAN EEDEN

Dis net ná 12:00 op Woensdag, 3 Oktober 2018. Immanuel van Tonder, predikant, werk in sy studeerkamer in die pastorie van die NG Kerk Lynnwood in Pretoria. Sy vrou Monika is in die Kombuis doenig en hul seun Bernard (22) is elders in die huis.
“Terwyl ek werk, ruik ek iets vreemds,” vertel Immanuel. “Dis ’n eienaardige brandreuk, nie soos gras wat brand nie. En toe ek uitgaan, sien ek daar kom ’n rokie uit die huis se dak uit.”
Hy skree vir Monika: “Die huis brand!”
Sy skree terug: “Gryp die albums! Gryp die albums!”
Immanuel red foto-albums, twee lêers met dokumente, ’n kamera, ’n skootrekenaar en ’n skildery van Joe Joubert.
Die huis se alarm raas. Twee polisiebeamptes wat voor die huis sit en middagete eet, snel die Van Tonders te hulp. Daar word sleutels gegryp en motors word inderhaas verskuif. Die honde, Snoeshi en
Cozy, en papegaai, Jabulani, word uit die vlamme gered.
En toe is alles verby. Die brand wat weens foutiewe elektriese bedrading in die ingangsportaal begin het, het blitsig versprei toe die laag teer onder die dakteëls vlamvat. “Binne ’n kwartier was die grootste deel van die huis afgebrand,” onthou Immanuel. “En binne ’n uur – alles.”
Die Van Tonders het gestaan en kyk hoe die vertrekke se plafonne een ná die ander inplof. Voor hul oë het die huis waarin hulle elf jaar lank gebly het ’n puinhoop geword.
Terwyl die meeste mense se grootste nagmerrie voor hulle afspeel, het Monika, ’n dokter, iets gesê wat tot vandag toe by Immanuel bly: “Dit is ’n bevryding om nie aan jou goed verknog te wees nie.”
Hulle het inderhaas hul dogter Renate (20) in die VSA gebel – want terwyl die huis nog gebrand het, was die hele storie reeds op Facebook. Renate studeer in ’n sakerigting by die Universiteit van Louisville in Kentucky. “Ons wou nie hê sy moes op sosiale media sien wat gebeur het nie. Ons wou liewer self met
haar praat.”

’n Nuwe begin

In die ure, dae, weke en maande ná daardie verskriklike dag het die gesin onderskraging uit alle oorde gekry. “Daar was omgee van die eerste oomblik af,” vertel Immanuel. “Nie net uit die gemeente nie; uit die hele gemeenskap.”
Hulle het darem die gemoedsrus gehad dat hul huis se inhoud verseker is. Hulle het tydelike blyplek gekry, kon versorging vir die troeteldiere reël. En hulle kon van voor af begin.
Maar met wát begin ’n mens weer? ’n Tandeborsel, skoon onderklere, ’n ekstra stel klere?
“Ek hou nie van die uitdrukking ‘dis net wêreldsgoed nie’,” sê Immanuel. “Dit ís nie net wêreldsgoed nie; dit is God se gawes wat Hy aan ons geleen het en wat ons as rentmeesters bestuur.”

In baie opsigte was dit net nóg ’n hoofstuk van ’n nuwe begin wat reeds vroeër afgeskop het: Immanuel en Monika het albei verlede jaar 50 geword.
En baie van die besittings wat hulle in die brand verloor het, was dinge wat hulle destyds as  jonggetroudes ontvang het. “Ons was nou weer soos ’n pasgetroude paartjie: Dit was opwindend en eintlik groot pret om van voor af huis op te sit. Ons is opnuut verlief op mekaar.
“En dis interessant om nou te sien hoe ons smaak in ’n huwelik van 28 jaar na mekaar toe gegroei het!”
Die Van Tonders het uiteindelik hul intrek in die gemeente se ander pastorie geneem en dit in ’n Skandinawiese styl ingerig – met die klem op eenvoud, funksio naliteit, gehalte en lig.
Immanuel se gunstelingvertrek is sy studeerkamer. Dit bestaan uit twee ruimtes: een vir werk, en een dien as ’n ontvangsen meditasiekamer. Spirituele meditasie en teenswoordigheid (oftewel mindfulness”) is vir hom ’n daaglikse leefwyse.

“Genoeg vir een dag” 

Immanuel se filosofie is eenvoudig: “Wees ‘in die oomblik’ teenwoordig. Die Here is ‘in die oomblik’ teenwoordig. Ons kry genoeg gawes vir een dag op ’n slag.”
Hy vertel van ’n spesifieke meditasie wat hy voor die brand “omtrent veertig of vyftig keer” beoefen het. In dié sogenaamde “bergmeditasie” visualiseer jy ’n berg – die detail, die plantegroei daarop, hoe die son opkom, hoe dag en nag daar verloop, en die seisoenveranderings. Die berg staan in die aarde geanker, maar óp die berg is daar deurlopende verandering.
Dan begin die berg brand.
Deur teenswoordigheid en hierdie bergmeditasie kon Immanuel voor die brandende pastorie staan en weet: “Dit is ons goed wat daar brand, nie óns nie. Ek is geanker. Ek is gewortel. Dit gebeur óp my en nie mét my nie.”

Immanuel se belangstelling in meditasie en teenswoordigheid het reeds begin toe hy ’n student was. Daar was onder meer ’n boek oor spirituele intelligensie, en leiding van sy spirituele begeleier, suster Mary Fisher. Voorts het die werk van Jon Kabat-Zinn, wat teenswoordigheid aan die Westerse wêreld bekendgestel het, ook dié rykdom vir hom ontsluit.
Dit gaan daaroor om teenwoordig te wees, sê hy, en met meelewing. “Meelewing vir jouself. Liefde vir jouself. Sommige mense laat die Here toe om meelewing vir hulle te gee, maar hulle sukkel om meelewing vir hulleself te hê.”
Elke oomblik van teenwoordig wees is ’n oomblik om God te ontmoet. “My ‘prent’ van God is baie groot. Hy kan in en deur alles ontmoet word. Selfs die kruis. Juis die kruis. In die natuur. Deur ’n vreemdeling.
Deur kanker.”

“My beker loop oor”

Immanuel is op die Morgenster-sendingstasie in die voormalige Rhodesië gebore waar sy ouers sendelinge was. Hy was ses toe hulle na Suid-Afrika verhuis en hulle in Kemptonpark gevestig het. Later is hy na die Universiteit van Pretoria toe om daar in teologie te studeer.
Hy is ’n natuurmens. “Ek beleef vervulling deur bloot in die son te sit. Om op daardie oomblik te weet ek het niks méér nodig nie. Om die son te sien wat op ’n blaar val. Die skoonheid in die natuur laat my beker oorloop.”

Hy vertel hoe verbaas hy aanvanklik was oor mense se sterk reaksie op die brand; deesdae gebruik hy die verhaal in van sy preke.
“Ek dink dié gebeure het mense met hul eie verliese gekonfronteer en hulle oor hul identiteit laat nadink. Sommige mense se identiteit is aan ’n huis of ’n motor geheg. Maar ons identiteit lê tog nie dáár nie … ”
Vir hom was die brand ook ’n voorbeeld van verandering, wat deel is van die lewe. “As dinge nie erander nie, is daar fout. Swaarkry is deel van die lewe. Moenie verras wees as daar verandering is nie; dis  Normaal. Dis nie God wat teen jou draai of wat jou straf nie.”
Ná die brand het hy weer deur die puin gaan loop. Daar was regtig niks oor nie – behalwe ’n kleibeeldjie van twee Meksikaanse figuurtjies wat mekaar omhels. “Alles het verbrand,” sê hy, “maar die liefde het bly staan. Soos dit in 1 Korintiërs 13 geskryf is: ‘Die liefde vergaan nooit nie.’”
Is daar iewers in die Bybel raad oor hoe om nié materialisties te leef nie?
“Jesus se hele lewe was só,” sê Immanuel. “Onthou ook maar Psalm 23 se eerste vers: ‘Ek kom niks kort nie.’”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail