Van kanonbouer tot sendeling. Van sterk man tot ’n verlamde mens wat nie meer kan praat nie. Niks in sy lewe het dieselfde gebly nie. Ook nie sy vertroue op God nie – dié het gegroei.

 

DEUR MARISKA SPOORMAKER

Met die intrapslag sien jy die groot rolstoel op die toegeboude stoep. “Dit was Joost van der Westhuizen se stoel,” sê Belinda.

Ek kuier by Alfred Paetzold (51) en sy vrou Belinda (50) op Jeffreysbaai. “Friends of Motor Neuron Disease het dit aan ons geskenk,” vertel sy. “Alfred is in Junie 2017 met dieselfde siekte wat Joost gehad het, motorneuronsiekte (oftewel MNS), gediagnoseer.”

Voor die diagnose het Alfred allerlei simptome begin ervaar, wat Belinda laat vrees het hy het ’n gewas op die brein. “Op daardie stadium was ons van Mosambiek af in Suid-Afrika om ons oudste seun, Christiaan, af te sien wat Amerika toe is om verder te studeer.

“Ons was in Pretoria toe Alfred moeilik begin sluk het. En toe sê ek: ‘Nou gaan ons reguit dokter toe.’”

Ná die verpletterende diagnose het die dokter bygevoeg dat hulle nie verder met hul sendingwerk in Mosambiek kon voortgaan nie.

“Binne tien dae het ons ons lewe in Mosambiek opgepak en na Suid-Afrika toe teruggekeer,” vertel Belinda.

En dit is hier waar hulle ’n slag goeie nuus gekry het. “Die dokter het gesê ons moet ons lewenspolisse noukeurig bekyk vir ’n klousule oor ongeskiktheid. En, jou werklikwaar, daar is dit toe! Ons het dit nooit eens besef nie.”

Die polisse het die Paetzolds onder meer in staat gestel om ’n huis op Jeffreysbaai te koop. En dis hier waar jy Alfred in die groot, gesellige leefvertrek aantref. In sy spesiale stoel met die “praatrekenaar” op die staander voor hom. Die “Joost-rolstoel” op die stoep is net vir uitstappies dorp toe.

’n Wonderwerk genaamd Kobus
Langs Alfred sit Adele Saayman, ’n tuisversorger wat vier oggende per week kom hand bysit, want Alfred is nou feitlik heeltemal verlam en volledig van ander se sorg afhanklik.

Hy bly praat oor wonderwerke. “In November 2017 het die dokter my ses maande gegee om te leef. Ek dink ek is al verby my vervaldatum. Ek bid en vertrou dat die Here my op die regte tyd sal kom haal.”

’n Verdere wonderwerk vir hom is die liefdevolle mense waarmee hy omring is. “Die Here het my sulke besonderse mense gegee wat my met baie liefde en omgee versorg.”

Alfred praat met sy oë. Hy en Belinda het die stem, wat die woorde op die rekenaarskerm uitspreek, “Kobus” gedoop. Dié praat Afrikaans.

Belinda verduidelik hoe Alfred aan hiér­die wonderwerk gekom het: “Alfred kon aanvanklik nog met sy duim en nog een vinger tik; dit was toe slegs sy spraak wat aangetas was. Later het hy moeg geword vir die Engelse stem wat deur ’n app op sy selfoon gewerk het.

“Hy soek toe rond op die internet en kom op hierdie Afrikaanse stem af. Inclusive Solutions het ’n hele pakket ontwerp vir mense wat nie meer kan praat nie.”

Net hier het die Paetzolds nóg ’n wonderwerk beleef: Die arbeidsterapeut wat die Afrikaanse stempakket aanbied, woon in Port Elizabeth, naby Jeffreysbaai.

“Alfred kon haar destyds self besoek en vertel wat sy behoeftes is.”

Nou dat die MNS sy verlammingsgreep só op Alfred verstewig het dat hy net sy oë kan beweeg, registreer die rekenaar dié oogbewegings. En Kobus sê wat Alfred wil sê.

Dit werk só: Onder die rekenaarskerm is ’n infrarooi sensor wat op die oog se retina ingestel is. Die betrokkene laat rus sy oë op, byvoorbeeld, die A op die sleutelbord. Dan “sien” die infrarooi sensor dit en tik A op die skerm.

Só skep Alfred sy sinne letter ná letter. Uiteraard is dit ’n lang, moeisame proses. En dit het soms tot gevolg dat Alfred in die rede geval word voordat hy “Kobus” kan laat praat.

Hieroor glimlag Belinda net. “Almal is nie so geduldig om op antwoorde te wag nie …”
Maar hoe voel Alfred daaroor om nie te kan praat nie?

Letter ná letter formuleer hy sy antwoord – totdat “Kobus” dit sê: “Dit is ’n groot frustrasie, maar ek leer om daarmee saam te leef.”

“Ek kyk terug op my lewe …”
Ek wonder hardop waarom daar nie méér genade vir Alfred en Belinda kan wees nie. Het hulle dan nie in 1997 hul onderskeie professionele beroepe – hy as meganiese ingenieur en sy as fisioterapeut – verlaat om die Woord te gaan verkondig nie?

Alfred begin dadelik om sy antwoord saam te stel.

Belinda vertel intussen dat Alfred by Denel gewerk het. Hy het kanonne ontwerp en gebou. Sy kyk na haar man, en glimlag. “Die kanonbouer het dus sendeling geword. Om mense se lewe aan te raak – nie met die krag van bomme nie, maar met die krag van die Woord.”

 

Alfred en Belinda het mekaar in 1987 as Tukkies tydens ’n sending-boukamp ontmoet. Hulle is in 1990 getroud.
Na afloop van hul studies het hulle agt jaar lank hul onderskeie beroepe beoefen voordat hulle oortuig geraak het dat die Here hulle na Mosambiek roep om daar sendingwerk te gaan doen.

Hulle het aangesluit by die sendingorganisasie New Tribes Mission, wat vereis het dat die egpaar een jaar lank in Engeland opgelei word. Daarna het hulle ’n jaar lank in Portugal gebly om Portugees aan te leer.

In 2007 het die Paetzolds na die noorde van Mosambiek getrek en in die stad Nampula gaan bly om verder aan hul Portugees te skaaf. En om die Here te vra om hulle na die regte plek te lei.
Hierdie adres was toe dié van die Yao-mense wat in ’n nedersetting in die verre noordweste van Mosambiek woon.

Alfred het eers met die hoofman en stamleiers gaan praat en gesê dat hy en Belinda by hulle wil kom bly, hul taal wil aanleer en vir hulle die Woord van God wil leer. Die leiers het ingestem en ’n stuk grond in die nedersetting aan die Paetzolds gegee.

Die Yao-mense is hoofsaaklik bestaansboere en woon in modderhutte met grasdakke. Daar is nie winkels naby nie, ook nie water- of kragtoevoer nie. Daar is wel ’n laerskool met drie klaskamers.

 

Belinda het hul drie seuns tuisonderrig gegee, en in die agtermiddae het sy mediese bystand aan die Yao-mense verleen. Sy het heelwat sukses behaal en baie mense goed gehelp. Dit het ’n sleutelrol daarin gespeel dat hulle hierdie mense se vertroue kon wen.

Alfred het Bybellesse opgestel wat by Genesis begin het. Hiervoor het hy ruim gebruik gemaak van Trevor Mcllwain se Firm Foundations-reeks, dit aangepas en in Yao vertaal. ’n Hele hand vol mense het hul geloof in Yesu Nkulupusyo-jo (“Jesus die Verlosser”) bely en in Januarie 2017 is die eerste elf gelowiges gedoop. Sedertdien het drie van hulle hierdie Bybellesse in ’n naburige dorpie aangebied. Ook daar is nuwe gelowiges gedoop.

Toe, in Junie 2017, word Alfred met MNS gediagnoseer.

“Natuurlik wou ek weet hoekom,” sê Albert deur “Kobus”. “Maar God is soewerein, Hy hoef my niks te verduidelik nie. Ons het ook by die punt gekom dat ons Hom heeltemal vertrou.

“Ek kyk terug op my lewe en sien hoe God in my en ons lewe gewerk het, tot in die kleinste besonderheid. Hy is getrou. Hy het ons tot hier gebring. Hy sal ons nie nou los nie. Hy het ’n doel met alles.

“Mense sê dat ek tot hul lewe spreek. Hulle sê die feit dat ek steeds glo ten spyte van die siekte, stel ’n voorbeeld.

“Die mense in ons kerk, die mense wat ons nuusbriewe of Belinda se blog lees, word deur ons voorbeeld aangeraak en bemoedig.”

Toe sê “Kobus” – en praat net met my: “Ek hoop dat jy vandag nie dieselfde sal huis toe gaan nie.”

Ek het nie. Dit was onmoontlik.

• Belinda se blog kan gevolg word by http://basicbelinda.blogspot.com
• Jy kan ook ’n e-pos stuur na alfred.paetzold@sim.org

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail