Daar kom ’n tyd, so in die middel van die winter, wanneer die Boland se wintergroen landskap skielik wit kolle uitslaan. Zanthedeschia. Oftewel aronskelke, varkore. Dit skiet orals in die veld op, veral naby waterslote en plaashekke.

So, pragtig gekelk in witter as wit, bly hierdie perfekte blom vir my ’n herinnering aan Jesus se beloftes in Matteus 6 oor God se voorsienigheid. Hoor dit: “As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?” (Matt 6:30).

Vanjaar se winter was besonder koud en nat. Die reën het dae aaneen geval, en ’n stappie in die veld het jou skoene swaar van die modder laat word. Maar wanneer ons verby ’n plaat aronskelke gestap het, het ek my elke keer daaraan verwonder dat dié spierwit blomme uit so ’n pappery kon groei. Die stille eenvoud van daardie regop stingel, en die ongekunstelde kurwe van die wit kelk, was in vrolike teenstelling met die plasse modder en slordige gras waarin dié blom gedy.

God se beloftes was ook hierin vir my sigbaar. Hy is die Een wat ons nuut en heilig maak, witter as sneeu. Ongeag in watter morsige omstandighede ons ons bevind.

Oor heiligmaking skryf die teoloog Johan Cilliers só: “Daarom is die wesenlike aard van heiligmaking dit: om telkens wanneer ons in ons lewe die bewyse van die sonde en die dood sien, dit te beveg, te besweer, weg te gee in die dood van Jesus. Heiligmaking is om werklik in die krag van sy opstanding te glo. Dit is immers dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het wat God ook uitoefen in ons wat glo (Ef 1:19-20).” (Uit: Die dag is vol genade, Lux Verbi, 1997.)

Jesus se krag help ons om te glo dat die lewe, wat nie altyd sonskyn en sierlike grasperke is nie, tog ook vol skoonheid is. Ten spyte van die modder en die slordige graspolle.

Ons kan nie altyd bepaal langs watter veld ons geplant word of in watter woesteny ons beland nie. Ons het ook nie eens, ten spyte van ons sorgvuldige vooruitbeplanning en ingeoefende vaardighede, beheer oor hoeveel reën op ons val of hoe morsig die modderpoele om ons is nie.

Maar ons kan besluit om te blom waar ons is, met ons oë op die Lewende Hoop gerig.

Ons kan besluit om te glo en te groei in die krag wat God in ons ingeskape het. Sy genade – wat ook krag en bevoegdheid insluit – is elke môre nuut, en elke dag beskikbaar.

 

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail