In swaarkry-tye soek ons soms tevergeefs na antwoorde. Dit ontstel ons wanneer ook God dan skynbaar swyg. Sy antwoorde kom egter dikwels in ’n ander toonaard na ons toe – as beloftes, versekerings. En ons kan dit gerus glo, want dit is in sy trou geanker, nie in ons (klein)geloof nie.

Deur Francine van Niekerk

Hier is ’n tiental antwoorde op vrae wat jy alte gereeld vra, al kom jy dit nie eens meer agter nie. Let op hoe vas dit staan, hoe onbeweeglik die oortuiging daaragter – en hoe jy nie gebore in staat is om iets daaraan te verander nie. Al sukkel jy ook dikwels om dit te glo …

1. God is lief vir jou

Dit is dié groot boodskap in die Bybel: God het ons lief. Dit is hierdie liefde wat Jesus daartoe gedring het om ’n grusame kruisdood te sterf – om ons te red, om versoening tussen ons en God te bewerkstellig.

En versoening bring ons per definisie naby aan Hom, teenaan – en dit is soos Hy dit wil hê, want Hy is lief vir ons.

Dit is inderdaad soms moeilik om te glo dat God regtig vir mý liefhet. Hier help die gelykenis in Matteus 18:12-14 ons: Die herder gaan soek sy weggeraakte skaap, en los eers die 99 ander wat steeds veilig in sy sorg is. En wanneer hy die wegloper kry, is hy bly oor hom. Selfs blyer oor hom, die wegloper, as oor hulle, die getroues. Só, sê Matteus, sê Jesus.

Só ruim is God se hart. Só groot is sy liefde vir weglopers soos ons.

2. God is getrou

God se plan vir sy skepsels is om ons te red, te lei en uiteindelik in volwasse, heel mense te omskep. Al maak ons foute en al rig die lewenstorms groot skade aan, gee Hy nie moed op nie. Hy sien nie af van daardie plan nie.

Paulus skryf uit die tronk: “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom” (Fil 1:6).

3. God bepaal die eindtelling

Wanneer ons na die wêreld kyk, lyk dit nie asof daar ’n liefdevolle God in beheer is nie.

Maar dit is soos óns kyk. Dit is alles “myns insiens”. Vir dié wat begenadig genoeg is om met geestesoë te kan kyk, hulle wat “agter die skerms” kan sien, is God se hand duidelik sigbaar.

Paulus verwoord sy oortuiging hieroor só: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is”
(Rom 8:28).

4. Al verstaan ek nie, verander God se beloftes nie

Jesus se doen en late op aarde was dikwels vir sy dissipels onverstaanbaar. Dit was eers later – ná baie swaarkry, pyn en vrees – dat hulle begin begryp het. Op ’n keer sê Jesus vir Petrus: “Wat Ek doen, begryp jy nie nou nie, maar later sal jy dit verstaan” (Joh 13:7).

Die lewe klap ons soms om onverstaanbare redes onderstebo. Waar is God dan? Hoekom gryp Hy nie in nie? Hoekom is sy optrede (of die gebrek daaraan) nie deursigtig, maklik verstaanbaar nie?

Om te bly glo dat daar niks aan God se beloftes verander het nie, dat dit steeds van krag bly, al maak niks nou sin nie – dít is ’n genadegawe.

5. God ken die detail van jou lewe

God het jou fyn aanmekaar geweef, sê die digter in Psalm 139:13. Hy ken elke detail van jou hart en jou persoonlikheid. Hy ken jou diepste vrae en sien jou vreemdste gedagtes.

Tog skrik dit Hom nie af nie. Inteendeel. God kén sy mense, Hy weet hoe ons is. Hy het ons lief, ten spyte van alles wat Hy van ons weet. Hy wil in ons hart tuisgaan, al is dit donker daar.

Jesus sê immers van Homself: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12).

6.God is genoeg

Ons het ’n lang lys behoeftes en ’n nóg langer lys begeertes. Dit voel dikwels asof daar ’n gat in ons siel is wat nie gevul word nie. Net Een kan dit doen. Net Hy bring genoegdoening. Sy Naam is nie verniet Voorsienigheid nie.

Hoor dan die psalmdigter se oortuiging: “Julle wat aan die Here behoort, dien Hom! Wie Hom dien, het geen gebrek nie. Selfs leeus ly gebrek en kry honger, maar wie die Here se hulp vra, kom niks kort van al die goeie dinge nie” (Ps 34:10-11).

En weer: “U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadi­ging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig” (Psalm 16:11, 1953-vertaling, my beklemtoning).


7. God is jou beskermer

Die lewenstorms kan jou in een van twee posisies dwing: Veg met alles wat jy het, of vlug vir al wat jy werd is.
En as jy moeg gebaklei is, sal Eksodus 14:14 jou bemoedig: “Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”
Vir diegene wat wil vlug, is daar ’n string bemoedigende Bybelverse – waarvan Jesaja 41:10 maar een is: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”

8. God sal jou nooit verlaat nie

Ons lees dikwels in die Bybel dat God oral is, en dat Hy naby ons is. Maar as die golwe jou lewensbootjie wil-wil omkeer, vergeet jy gou van hierdie waarheid. Daarom moet ons ons gereeld herinner aan Jesus se woorde aan sy dissipels, daardie dag toe hulle gedink het Hy gaan vir altyd van hulle af weg. Só het Hy hulle toe bemoedig: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20b).


9. Die Here is naby hulle met die gebreekte hart

As alles in jou stukkend en seer is, as jy soos ’n wanhopige drenkeling voel, dán … is jy op ’n goeie plek.
Want die Here is naby dié wie se hart stukkend is. Só sê die psalmdigter: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal” (Ps 34:19-20).

  1. Ons mag maar skreeu: “Help my!”

As ons God se beloftes op ons hart skryf, dit elke dag oor en oor vir onsself sê, word dit al hoe moeiliker vir die golwe van twyfel om ons onder te kry.

Wanneer ons egter op ’n plek kom waar dit moeilik is om God se beloftes te glo, kan ons saam met daardie man uitroep wat so tussen twyfel en geloof verstrengel was: “Ek glo … Help my waar ek nog ongelowig is” (Mark 9:24).

En wanneer ons dan só roep, kan ons hierdie lied in Psalm 28:6-7 met ons hele hart saamsing: “Aan die Here kom die lof toe, want Hy het my smeekstem gehoor. Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied.”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail