Baie ma’s het nie die kennis of ervaring om hul pasgebore kinders na behore te help ontwikkel nie. Hier is eenvoudige raad aan nuwe ma’s. En aan vroue wat ma’s bystaan in die groot verantwoordelikheid om kinders groot te maak. DEUR ANSIE GOUS

Laai die artikel in pdf-formaat hier af, en seën ‘n nuwe mamma met kennis.

Die aankoms van ’n nuwe, gesonde baba is meestal wonderlike nuus. Dié klein geskenk bring wel ook enorme verantwoordelikhede met hom of haar saam. Die geboorte is ook die begin van ’n baie belangrike verhouding, dié tussen ma en kind. Dit het uiteindelik ’n bepalende invloed op hierdie nuwe mens se toekoms­tige interaksie met ander mense.

Invloede en veranderings

Die ouers het ’n wydlopende invloed op hul pasgeborene én reeds op hul ongebore baba. En meestal weet hierdie ouers dit nie eens nie. Hulle behoort egter minstens van die volgende kennis te dra:

  • Ouers neig om onverwerkte probleme uit hul eie lewe op hul baba te projekteer – sonder dat hulle werklik daarvan bewus is. Dit gebeur veral wanneer ouers se probleemverhouding met hul eie ouers ter sprake is.
  • Onbehandelde angs, stres en depressie tydens swangerskap en die eerste jare van ’n kind se lewe het ’n langdurige impak op daardie kind. Dit word dikwels misgekyk omdat baie angs- en depressiesimptome – soos moegheid en ’n gebrek aan slaap – gewoonlik met swangerskap en vroeë moederskap geassosieer word.
  • Navorsers reken dat tussen 6% en 28% moeders ernstige nageboorte-depressie ondervind. Baie vroue word reeds tydens hul swangerskap depressief. Waar armoede en mishandeling boonop teenwoordig is, verhoog hierdie syfers dramaties.

 

Wanneer ’n vrou swanger is, beleef sy op een slag ’n klomp groot veranderings wat met haar liggaam, voorkoms, emosio­nele toestand, sielkundige welstand en al haar verhoudings te doen het. Die meeste hiervan word dikwels meer intensief tydens ’n eerste swangerskap ervaar.

  • In die eerste trimester van die swangerskap moet ’n vrou by al die fisieke veranderings aanpas. Sy mag teenstrydige emosies ondervind. Omdat die samelewing swangerskap idea­liseer, verswyg toekomstige moeders dikwels hul teenstrydige gevoelens.
  • In die tweede trimester laat die ongebore baba se beweging die swanger vrou besef dat dit ’n eie mens is wat in haar ontwikkel, maar een wat ook deel van haar bly.
  • Tydens die derde trimester ontstaan daar dikwels angstigheid oor die naderende geboorte en die besef dat verandering onstuitbaar is.
  • En dan kom die baba – en die vrou wat tydens haar swangerskap dalk gepamperlang is, moet nou eensklaps met minder ondersteuning oor die weg kom.

 

Ouerskap

Swangerskap bring vele uitdagings, nege maande lank; ouerskap s’n is waarskynlik meer, en dit duur beslis langer.

Hier is ’n klompie praktiese wenke om dié uitdagings te bowe te kom:

 

Vir jou liggaam

  • Jy gaan moeg wees. Delegeer take waar jy kan, en verminder nienoodsaaklike werk.
  • Eet gesond en gereeld. Probeer ook genoeg rus.
  • Moenie rook nie! Selfs wanneer ’n swanger vrou daaraan dink om te rook, versnel die ongebore baba se hartklop. Jou baba kry dan minder suurstof en dit kan sy/haar breinontwikkeling beïnvloed.
  • Vermy alkohol en dwelms.
  • Vermy harde musiek. Navorsing toon dat harde geluide tot gevolg het dat die fetus meer stres-senuoordragstowwe afskei.

 

Vir jou gees

  • Jy gaan meer emosioneel wees as waaraan jy gewoond is. Besef dat dit normaal is om teenstrydige gevoelens te hê.
  • Angstigheid oor hoe om jou baba groot te maak, is normaal. Buitengewoon hoë stresvlakke, veral in die laaste trimester wanneer die ongebore baba se brein vinnig ontwikkel, kan wel jou kind beïnvloed. Dit kan daartoe lei dat jou baba later in haar lewe meer vatbaar is vir depressie. Haal dus gereeld stadig en diep asem, en sorg dat jy gereeld ontspan.
  • Dink aan jou baba. Net soos jy ’n babakamer gereed maak, moet jy ’n kamer in jou hart gereed maak.
  • As jy en jou ma ’n ingewikkelde verhouding gehad het, dink daaroor na. Navorsing toon dat ouers wat die emosies in hul eie moeilike kinderjare doelbewus onthou, dit kan vermy om dieselfde emosies aan hul kinders oor te dra.
  • Praat met jou ongebore baba. Verbondenheid begin reeds in die uterus, en jou baba gaan jou stem binne die eerste 24 uur ná geboorte van ander stemme kan onderskei.
  • Speel gereeld musiek vir jou ongebore baba. Dit kan help om haar/hom ná geboorte rustig te hou.

 

Vir jou verhoudings

  • Dit is belangrik om met jou maat oor jul onderskeie gevoelens te praat, veral ook oor hoe julle verwag die baba jul verhouding gaan verander.
  • Mans beleef dikwels probleme omdat hulle voel dat hulle geen invloed op
    die vroeë grootwordproses het nie. Probeer jou man dus soveel moontlik betrek. Dit sal sy verbintenis met jul baba help bou.
  • Skep ’n goeie ondersteuningsnetwerk vol mense wat jou emosioneel kan ondersteun en prakties kan help. Dit sal ook grootliks daartoe bydra dat jy nageboortedepressie kan vermy.
Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail