Een somervakansie het ons vir familie by die see gaan kuier. Ek was nog op laerskool en was baie opgewonde omdat daar ’n hele spul maatjies gewag het met wie ek sou kon speel.
Ons familie het in ’n woonstel gebly, en ons jongspan was maar gedurig in en uit by die voordeur. Op ’n keer het ek en ’n maatjie besluit dat ons nou genoeg buite gespeel het; ons wou binne wees waar die grootmense is.

Ons is toe terug woonstel toe en ek het die voordeur oopgestoot. Maar ek was net ’n paar tree by die voorportaal in toe ek besef dat dit die verkeerde woonstel is. My maatjie was skielik skoonveld en ek het laat spaander – sonder om die deur toe te maak.
Ek het bly wonder of hulle sou kla. ’n Paar uur lank het ek in die vrees gelewe dat die bure sou kom sê een van ons het sommer in hul woonstel ingestap en toe nie eens die ordentlikheid gehad om die deur toe te maak nie …

Ek wonder nou wat ek daardie dag sou vind as ek wel verder as die voorportaal gevorder het. Dalk toe nie kwaai grootmense vol verontwaardiging omdat ’n kind hul huis ongenooid binnegekom het nie. Dalk sou hulle gaaf gewees het, my hartlik ontvang het, my gehelp het om die regte woonstel te vind.

Dit gebeur dikwels dat God vir ons sê: “Kom hier! Kom na My toe.”
In die Paasfeestyd klink hierdie uitnodiging sterker op as ooit. Hy nooi ons tot in sy heiligdom, tot in sy hart. Hy wys ons die Weg tot by Hom. Hy maak die pad tot by Hom oop.
In dié tyd leer ons opnuut dat die voorhangsel, dit wat God se magtige teenwoordigheid swaar en dig van ons afgesluit het, middeldeur geskeur het (vgl Matt 27:51).

En as ons nader gaan? As ons ons in sy teenwoordigheid bevind – wat sal ons daar kry?
Of moet ons eerder omdraai voordat ons waarlik by God tuiskom? Sal ons eerder huiwer in die voorportaal van sy hart omdat ons straf verwag?

Wat sal ons vind as ons al die pad tot by God se hart stap? Straf en teregwysing? Iets wat ons by ’n kwaai onderwyser kan verwag?

Nee! Ons ontvang liefde en redding en vergifnis van sonde. Ons kry lewe en vreugde, hoop en genade. En barmhartigheid, en ’n Redder wat ons swakhede ken.

Kom ons gaan dan! sê die skrywer van Hebreërs. “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb 4:16).

Kom ons gaan! Met vrymoedigheid. God se uitnodiging is ook vir ons.

Ons hier by LiG se gebed is dat jy in die stories wat ons in hierdie uitgawe vertel en die mense wat jy vandeesmaand hier ontmoet, jou eie vryheid in God sal ontdek. Sodat jy met groot vrymoedigheid in ons liefdevolle, reddende God se teenwoordigheid sal kan leef.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail