Elke Februarie, op my verjaarsdag, neem ek sjokoladekoek en melktert na die Hillbrow-vrouegroepie se byeenkoms toe. En elke Februarie, op daardie dag, vra die vroue my om weer die storie van my geboorte te vertel, sodat die nuwelinge wat intussen by ons aangesluit het dit ook kan hoor.

Só gebeur dit toe weer – daardie 27ste se oggend.

Ek glimlag en val weg: Ek is in 1959 in Berkeley, Kalifornië gebore. My pa het ’n beurs gekry om sy nagraadse argitektuurstudies daar in die VSA voort te sit nadat hy by Tukkies was. En hy en my ma het betyds getrou sodat hulle saam in Amerika sou kon studeer. My ma was ’n nagraadse kunsstudent, en dié twee arm studente het saans ander mense se kinders opgepas om ekstra geld te verdien. En sodat hulle Gunsmoke, ’n destydse televisietreffer, op die kassie kon kyk. ’n Eie televisiestel was hulle nie beskore nie.

Terwyl my ma my verwag het, moes sy na die Berkeley-staatshospitaal toe gaan vir haar gereelde ondersoeke. Op die dag van my geboorte het sy toe in daardie hospitaal gelê, en die verpleegster het haar gerus gestel en gesê die dokter is op pad. So tussen die kraampyne deur, sien my ma toe ’n baie groot swart man die kraamsaal binnekom. Hy het glo die mooiste Afro-haarstyl gehad wat sy nog ooit gesien het.

Die gawe dokter help my toe daar die lewe in – en op daardie dag in Februarie 1959 was ek die enigste wit baba wat in daardie hospitaal in Kalifornië gebore is. Almal daar het toe ook na my as die “white baby” verwys.

Dit is hierdie stukkie detail wat die Hillbrow-Bybelstudietannies altyd laat kraai van die lag.

Maar hierdie keer het ’n nuweling in ons groep, Nicolene, skielik in trane uitgebars. My storie was pas klaar vertel. Tannie Betsie het vir haar ’n koppie tee gebring.

En toe die tranevloed bedaar het, begin sy hortend vertel. “Ek weet nie eens wanneer ek verjaar nie,” sê sy. “Ek wens ek het ook ’n geboortestorie gehad.

“Tannie Alta, wat my grootgemaak het, het my vertel haar buurman het haar kom roep; sy moes na iets kom kyk. Sy het haar voorskoot uitgetrek en saam met hom buitentoe geloop. Op die hoek van Claim- en Kotzestraat wys hy haar na die sement-asblik. En daar, half onder koerantpapier versteek, lê ’n piepklein babatjie. Naelstring en bloed en slym en als. Dit was ek.”

Tannie Alta het die asblik-kindjie grootgemaak, al het sy reeds drie eie kinders gehad om voor te sorg. Daar was nooit geld vir verjaarsdaggeskenke nie, want tannie Alta het swaar gekry. Maar sy het op ’n dag voor die landdros gaan staan en gevra om die weggooikind as haar eie te laat registreer.

“Ek weet nie wanneer ek gebore is nie; ek weet nie wie my ouers was nie. Ek weet niks nie,” sluit Nicolene haar vertelling af. “Ek weet net dat my ma my in ’n asblik op ’n straathoek gelos het.”

Net daar het die Bybelstudiegroep besluit dat Nicolene voortaan saam met my sal verjaar. Op 34-jarige ouderdom kry die asblik-kind ’n geboortedatum. ’n Verjaarsdag, waarop sy kan koek eet en geskenkies kry.

Eendag, veel later, vertel ek Nicolene se storie by ’n damesoggend. Ná die tyd kom ’n LiG-leser na my toe met ’n koevert waarop daar bloot staan: “Vir Nicolene.”

Toe ek dit later aan haar oorhandig, skeur Nicolene dit oop en vind R3 000 se note daarbinne. En ’n briefie wat só lui: “Liewe Nicolene, ek is ook ’n weggooikind. Maar weet net dit: God gooi ons nooit weg nie. Gebruik die geldjie vir jou geskenk wanneer jy in Februarie verjaar. Liefde, D.”

 

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail