Ons praat te gou, te maklik. Ons praat voor ons dink. Buitendien gebruik ons heeltemal te gereeld ou woorde en holruggeryde begrippe. Ons tong en ons taal kort ’n dringende bekering, ’n gans nuwe koers.

DEUR STEPHAN JOUBERT 

“Dit is jou onvervreembare reg om ’n gek van jouself te maak. Niemand sal dié reg ooit van jou wegneem nie.”

Ná jare onthou ek steeds hierdie brokkie studentewysheid. En ek herinner my meermale aan die Spreukedigter se woorde oor wyses en dwase en die tale wat hulle praat. Ek weet ek kan my te eniger tyd aan enige kant van daardie draad bevind …

 

Uit een mond

Ons taal is óf ’n wapen van massavernie­tiging óf dit is boumateriaal. Soms is ons woorde soos klippe wat op ander reën; ander kere is dit soos fyn silwer.

Want wysheid en dwaasheid is werkwoorde. Albei is dinge wat gebéúr! Wysheid is nie ’n permanente “toestand” nie; dwaasheid gelukkig ook nie.

Wysheid begin met eerbied vir die Here – en dit mond gedurig uit in ons taalgebruik. Ook dwaasheid lek, letterlik, oor ons lippe uit.

Vanwaar die dubbelslagtigheid? En hoe gebeur dit by ’n gelowige? Wysheid en dwaasheid durf tog nie so reg onder ons neus saamkloek nie. “Uit dieselfde mond kom lof en vloek … so moet dit nie wees nie” (Jak 3:10).

Wat moet gebeur om dit tot niet te maak?

Eenvoudig: Ons kort die Here se vuur op ons lippe.

 

Die Here se vuur

Jesaja 6 vertel ons hoe die Here Jesaja as profeet roep. Maar Jesaja sê dadelik: Nee!

Sy probleem? Sy mond wat taal voortbring waarvan die Here niks hou nie.

Maar die Here het ’n oplossing byderhand: vuur vanaf sy hemelse altaar om sy profeet se onrein mond skoon te brand. Presies die regte medisyne!

Toe die hemelse vuur op daardie merkwaardige dag op die kerk neergereën het, het gewone mense se lewe oombliklik verander. Nuwe taal is op hul lippe afgelaai. Van toe af het hulle begin om lewensveranderende woorde oor Jesus te praat.God se hemelse vuur is ’n tong-temmer. Pinksterdag onderstreep dit.

Dieselfde gebeur vandag nog wanneer die Heilige Gees se hemelse vuur ons dooie taal met ’n vars woordeskat vervang, en met krag.

God se lip-vuur lei tot nuwe taalvaardighede. Anders gesê: Die Heilige Gees se aanraking het tot gevolg dat jy nuut dink en anders praat. Hy leer jou om eers jou kop te gebruik voordat jy jou mond inspan.

Om te praat sonder om te dink, is immers dwaasheid. Moet nooit jou mond oopmaak wanneer jy kwaad is nie, want dan gaan jy die beste toespraak ooit lewer … wat jy vir altyd sal berou.

Hoekom is woede tog so welsprekend?

Eenvoudig: As jy kwaad is, verdwyn jou “denkende” brein. Jou kop kies vir ’n roete wat jou haastig na ’n veg-, vries- of vlug-posisie verplaas.

En wat staan jou te doen om dit te verhoed?

Neem asseblief Psalm 141:3 ernstig op en stel betyds ’n hemelse wag voor jou mond aan. Laat die Here jou woorde arresteer voordat dit jou lippe vir altyd verlaat.

En neem ’n vaste geloofsbesluit: Ek sal nooit oorhaastig op ander mense se onnadenkende opmerkings of aggressiewe woorde reageer nie.

Dit is ’n waardevolle voorneme. Moet nooit op die daad op ’n skerp e-pos, ’n goor SMS of ’n snydende opmerking antwoord nie. Laat dit links lê – vir ’n dag of so. As jy ’n dag of twee later steeds gebelgd voel, dink dan weer oor ’n gepaste reaksie.

Maar weet: Selfs al is jy reg, hoef jy nooit in ’n bekgeveg betrokke te raak met diegene wat jou afkraak nie. Jy hoef jouself nooit te verdedig nie. Stilbly is áltyd ’n goeie antwoord.

Nee, ons durf nie ons spreektaal prysgee aan ’n veg-, vries- of vlug-woordeskat nie. Sagte woorde help om woede te laat bedaar. Ons het die Here se bevrydende vuur in ons hart en op ons lippe nodiger as wat ons dink.

 

Wanneer woorde gif word

Paulus sê in Efesiërs 4 dat vuil taal geen plek in ons woordeskat verdien nie. Dit is vanselfsprekend. Maar dit gaan hier oor veel meer as sogenaamde kragwoorde – “negatiewe woorde” en hooplose taal is ewe gevaarlik vir ons geestelike welsyn.

Daar is neurowetenskaplikes studies wat beweer dat die skadelikste woord in die Engelse taal die woordjie “no” is. Wanneer hierdie “nee” vir so kort soos ’n sekonde lank voor mense se oë geflits word, stel hul brein dadelik streshormone vry, en dit onderbreek die brein se normale funksionering. Dit beperk logika, denke en gesonde oordeel.

Erger: Wanneer mense die woordjie “no” met ’n frons op hul gesig in ’n geselskap gebruik, het dit dieselfde ontwrigtende uitwerking op die toehoorders se brein. Die angs en irritasie word dan wedersyds.

Negatiewe taal is skadelik vir sowel ons kop as ons lewe. As ons nie hier ingryp nie, vergiftig ons onsself daarmee. Dan drink ons ons eie gif.

’n Onlangse Britse studie oor emosies het bevind dat 62% van die woorde vir emosies negatief is en slegs 38% positief. Ons is báie lief vir negatiewe taal …egatiewe taal is skadelik vir sowel ons kop as ons lewe. As ons nie hier ingryp nie, vergiftig ons onsself daarmee. Dan drink ons ons eie gif.

Ook in die kerk, van alle plekke. Kerkmense voer dikwels méér gesprekke oor alles wat verkeerd is as gesonde gesprekke oor dinge wat reg is.

Ons taal is ’n venster op ons siel. As ons gedurig negatiewe woorde en taal gebruik, verklap dit dat sake in ons binneste nie reg is nie.

Daarom moet daar ’n permanente “TOEGANG VERBODE!”-kennisgewing vir negatiewe denke en afbrekende taal in ons hart en gedagtes wees.

 

Gevra: ’n nuwe taal

Eintlik het ons nog niks vermag as ons bloot probeer om ongewenste taal te vermy nie. Ons kort ’n nuwe woordeskat, een wat opbouend is, wat God verheerlik.

Maar taalgebruikers is lui. Ons gebruik ou, bekende woorde oor en oor. As ons nie ’n nuwe, opbouende geloofstaal inoefen nie, gaan ons geloofslewe ook in holruggeryde taalgebruik verstrik raak. Dan is ons bloot besig om lewelose woorde en uitgediende begrippe te hersirkuleer.

William Shakespeare het glo meer as 1 700 nuwe Engelse woorde geskep. Paulus van die Bybel was ewe kreatief. Hy het gedurig nuwe woorde en konsepte van elders geleen – of sommer self geskep! – om innoverend oor God te praat.

In Efesiërs 1:18 bid hy byvoorbeeld op ’n sprankelende wyse dat die oë van ons hart deur die Here verlig moet word. In
2 Korintiërs 2:14-17 vertel hy dat ons deel is van Christus se “thriambos” of triomf­tog – ’n begrip wat hy aan die Romeinse leërs se alombekende oorwinningsoptogte ontleen.

Ook verduidelik Paulus hier dat ons Christus se “geurverspreiders” is – ander mense ruik ons uit!

In 2 Korintiërs 5:20 skryf Paulus dat hy God se “presbeus” is wat nou ’n beroep op mense doen om hulle met God te laat versoen. Hierdie begrip leen hy by die destydse diplomatieke wêreld. Hy sê dus dat hy in God se buitelandse diens is en dat hy die beste nuus denkbaar aan sy lesers bring.

Die tekstuur van Paulus se taal is so anders as dit wat ons dikwels in godsdienstige kringe aantref. Lees net ’n keer deur die brief aan die Efesiërs en kyk hoe dit van “oorvloed”-taal wemel:

Paulus vertel byvoorbeeld hoe God ons met elke denkbare seën in Christus geseën het. Hoe God méér kan doen as wat ons bid of dink. Hoe God wat skatryk in genade is, ons hiermee sal oorstroom.

Hierteenoor loop ons ons gedurig bloedneus teen kerklike taal wat altyd die klem op “te kort” en “te min” plaas. In preke, Bybelstudies en kerklike vergade­rings word daar gedurig vertel dat daar te min jongmense is, te min leiers, te min Geesvervuldes en te min lidmate in die kerk. Te min geld, te min betrokkenheid, te min lewe. God se oorvloed skiet hier altyd te kort. Die oorvloed is immer elders.

Nee, dit het tyd geword dat ons nie net ’n nuwe woordeskat aanleer nie, maar ook ’n heeltemal nuwe spraakpatroon. Paulus roep ons juis in Kolossense 3:17 op om ook ons woorde, soos ons dade, in ooreenstemming met Jesus se woorde te bring.

Ons leef tot sy eer en daarom praat ons tot sy eer. Dankbare taal en lofwoorde moet ál die ruimte op ons tong opeis. Dan brand die hemelse vure weer hoog – sommer hier op ons eie tong!

 

Só klink dwaasheid …

’n Dwaas se tong het g’n brieke nie. Dwase praat sonder om te dink. Hulle het ’n mening oor almal en alles – en hulle deel dit gratis uit. Almal binne hoorafstand moet dit aanhoor.

In ’n nuwe tyd versprei hulle halwe waarhede op sosiale media, sonder om ooit hul bronne se betroubaarheid te toets. Hulle bely graag ander mense se swakhede … namens dié mense én in hul afwesigheid. Anders gestel: Hulle skinder graag. Sagte taal en genesende woorde kry nooit ’n vastrapplek op hul tong nie.

Taal-trivialiteite

The Global Language Monitor bereken dat die Engelse taal tans 1 005 366 woorde bevat, maar dat die gemiddelde Engelse gebruiker slegs oor ’n woordeskat van 20 000 tot 35 000 woorde beskik. Waarvan hulle 2 000 tot 3 000 daagliks gebruik.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail