Net voor ek destyds universiteit toe is, het ek besluit om vir my ’n lappiesdeken te maak uit die baie oorskietlap wat in my ma se werkkamer rondgelê het. Toe, tydens die Desembervakansie, net voordat ek die grootmenswêreld van studentwees betree het, het ek die lappies begin uitsoek. Opgewonde, maar tog ook met so ’n tikkie angstigheid.

Ek het uit die magdom kleure en teks­ture klein vierkantjies begin sny en dit op ’n groot werktafel uitgepak. My twee ouer susters het gekom en help rondskuif aan die lappies sodat dit ’n mooi geheelbeeld gevorm het. En ons het begin stik om die vierkantjies aan mekaar vas te kry. My ma het later ’n netjiese voering vasgewerk … en ek is uiteindelik met ’n baie spesiale deken universiteit toe.

 

Daardie deken was die eerste ding wat jy gesien het wanneer jy my klein koshuiskamer binnegekom het. Saans, as ek in my bed lê, kon ek my verkýk aan die honderde blokkies – hiér ’n lappie uit ’n ou kerkrok, daar ’n deel van my broer se hemp. ’n Stukkie sitkamergordyn, ’n brokkie tafeldoek. Daar was lappies uit kussings wat eens op my jongste suster se bed was, lappies uit my pa se weermagbroek. Daar was selfs ’n stukkie van my ou skoolrok.

Soms het dit vir my gevoel asof ek my hele bekende wêreld met daardie lappieskombers kon toemaak. Dit was veel meer as bloot ’n kombers op my bed, dit het ek geweet; dit was ’n herinnering aan waar ek vandaan kom, aan die mense en gebeure wat ’n invloed op my lewe gehad het. Hulle wat my gemaak het wat ek op daardie stadium was. Dit was niks minder nie as ’n simbool van my wordingsjare.

 

Dalk het Josef ook so gevoel oor die jas met die lang moue wat sy pa vir hom gegee het. En dalk was die ou Joodse hoëpriesters ook so geheg aan die kleed wat hulle in die allerheiligste moes dra.

Miskien het Jesus iets van hierdie gevoel beleef toe Hy in die tempel die boekrol in sy hande hou, daardie eerste keer toe Hy aan die geleerdes uit die profeet Jesaja se geskrifte voorgelees het.

En waarskynlik het jy ook so ’n voorwerp in jou lewe wat vir jou ’n heenwysing is na iets groters en gewigters as die voorwerp self. ’n Familiebybel dalk, of ’n foto-album. Miskien ’n verslete teddiebeer. Maar in alle gevalle ’n voorwerp wat dien as ’n herinneringsteken – iets wat jou identiteit versinnebeeld, jou lewensuitkyk verklap, na jou geloof verwys.

 

Miskien hou jy nou so ’n teken in jou hand vas terwyl jy hier lees. Hierdie tydskrif, ja, wat tog veel meer as ink-en-papier is. Dalk laat LiG jou elke maand met ’n gevoel van … tussen-hierdie-blaaie-voel-ek-tuis! Dalk dien dit vir jou as ’n gereelde herinnering aan die feit dat God ’n werklikheid is, dat Hy in mense se lewe betrokke is en dat daar steeds mooi en goeie dinge in hierdie wêreld gebeur.

Hopelik is daar dan ook in hierdie uitgawe ’n artikel of ’n storie of ’n foto of ’n prentjie wat ’n lig laat skyn op ’n amperse vergete waarheid wat God lank gelede in jou hart kom neerlê het. Mag jy dit dan deel van jou lewe se lappieskombers maak. Mag dit een van vele herinnerings wees wat jou laat onthou wie jy is, wat jy glo en hoe jy moet liefhê.

En mag dit jou koester soos net ’n lappieskombers vol liefde dit kan doen. Omdat dit aanmekaargeweef is deur God se “jy-is-my-kind”-liefde.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail