Sy geboorte is nie op ’n Kerskaartjie verewig nie. Boney M was nie die hemelse koor nie. Die krip is nie vir Hom ontwerp nie; dit was ’n gewone voerbak waaruit skape gevreet het. Hy was nooit “Liewe Jesus” nie, maar uit die staanspoor Christus die Here.

Deur Stephan Joubert

“Dit lyk dan nie soos op die Kerskaartjies nie!” sê die dame vir my.

Ons is in Betlehem, by Jesus se geboorteplek. Ek wil-wil reageer, maar sy gaan voort: “Ek het my dit heeltemal anders voorgestel. Hier is dan nie plek vir al daardie koeie en skape nie. En wat van die wyse manne?”

Voordat die spreekwoordelike wag voor my mond op aandag kan kom, blaker ek dit uit: “O, ja, en dan nog die little drummer boy met sy rampampam-pam. En die herders op die ope velde.”

Toe sy my onthuts aankyk, weet ek dat ek my voet behoorlik daarin gesit het. Ek sal dit op die een of ander manier moet uitkry.

Ek sê: “Kyk weer na die landskap hier in Betlehem – dit is die ene klippe, olyfbome en sand. Dit is woestynwêreld dié. Judea lyk regtig nie soos die Vrystaatse vlaktes nie.”

Steeds kyk sy my skepties aan. Effens teleurgesteld, verbeel ek my. Ek probeer verduidelik: “Die herders het hulle skape hier in die heuwels en tussen die klippe en die bossies laat wei. En hulle saans in grotte of in klipkrale laat slaap.”

Ek het weer besef dat ek saam met hierdie vrou en die res van die groep agter die skerms sou moes ingaan as ons die “regte Jesus” van die Nuwe Testament wou ontmoet.

Want dit is ’n feit dat Hy, Christus die Here, deur die eeue heen afgekoel is tot gerieflike, godsdienstige kamertemperatuur. Op vele plekke is Hy vervang deur ’n “Liewe Jesus” wat steeds suutjies in sy wiegie lê en slaap.

Hier word Hy omring deur vername besoekers met goue stralekranse om hulle kop, en engele wat in die lug ronddartel. Dit is g’n wonder nie dat iemand onlangs aan my gesê het dat hierdie “Liewe Jesus” hom kon help toe hy self nog “’n kindjie klein” was – maar nou is hy “’n kindjie groot”, terwyl Jesus klein gebly het …

 

Die regte Jesus

Die hartseer van dit alles is dat ons begrip van Jesus se geboorte dikwels bepaal word deur allerlei romantiese voorstellings. Deur verskillende Kinderbybels se uit­beelding van skoongewaste skape, engele, ’n ontwerperskrip en goedversorg­de eregaste.

Boonop hoor ons Bach se “Jesulein süss” in die agtergrond. Of Boney M se soetlike gedruis. Alles in ’n tjoepstille nag … terwyl ons ons trommeldik eet aan al die Kersfeeskos.

Feit is, Jesus het op ’n vreemde manier hier aangeland. Die eerste genooides na sy geboorte was nie celebrities nie; hulle het nie vir die A-span uitgedraf nie.

Hulle, die herders in Lukas 2, het trouens vir geen span gekwalifiseer nie. In godsdienstige kringe is hulle dikwels as onrein beskou. Die dae van koning Dawid as ’n glorieryke herder was lankal oor en verby.

Die destydse herders is nie eens as getuies in ’n Joodse hof toegelaat nie. Die stereotipiese beskouing van herders was dat hulle diewe en bedrieërs was, ook omdat hulle dikwels sonder toestemming met hulle skape oor ander mense se eiendom getrek het.

Baie herders was boonop voortvlugtend voor die gereg. Hulle het maande en weke aaneen in die veld en die woestyn gebly, en saans as dit donker was rondom hulle vure gesit. Herders het na hulle skape geruik …

Ek kan net dink hoe groot die herders geskrik het toe die engel kort ná Jesus se geboorte by hulle opgedaag het. “Ons kan nog vir die gereg vlug, maar definitief nie vir God se hemelse polisie nie!” het dit dalk deur hulle gedagtes geflits.

Toe hoor hulle die goeie nuus dat Christus die Here daardie dag vir hulle gebore is. Vir húlle. Die teken daarvoor was dat hulle ’n baba sou kry wat in doeke toegedraai is en wat in ’n krip lê.

’n Kind in ’n krip?

In ’n skaap se voerbak!

Kan dit wees?
Ek weet wat ék sal doen indien ek so iets beleef. Ek sal dadelik ’n plaaslike welsynsorganisasie bel, én die polisie en sommer ook die dominee. Daardie prentjie lyk net nie reg nie …Wanneer laas het jy ’n pasgebore babatjie in ’n voerbak tussen diere in ’n agterplaas sien lê?

Nee, nie een van ons wil hê ons pasgebore kinders of kleinkinders moet in ’n voerbak slaap waaruit die skape nog onlangs geëet het en wat steeds na hulle ruik nie.
Dit was ’n wêreld wat totaal onbekend was vir die rykes en die vooraanstaandes, en vir die vroom godsdienstiges.Maar vir die herders het hierdie prentjie sin gemaak. Dit was húlle Verlosser. Hy het húlle reuke aangeneem. Hy het in ’n wêreld opgedaag wat aan hulle bekend was. Die vreemde klanke en kleure van skape, grotte en voerbakke was hulle leefwêreld, doer ánderkant die doodlyn van die lewe.

 

Die Soeker

Jesus se vreemde aankoms verklap wie Hy is. En dit vertel ook vir wie Hy gekom het.

Dit is die evangelie. Maar toe het die kerkgeskiedenis Hom mos toegeverf met die kleure van ’n adellike babatjie, omring deur heiliges en edelmanne.

Jesus se aankoms het nooit só gelyk nie.

Soos Jesus hier aangekom het, só wil Hy Hom van die begin af laat ken.

Daarom stel die engele Hom nie daardie nag aan die herders as “Liewe Jesus” voor nie maar as “Christus die Here”. Die Kind in die krip is presies ook wie Hy later aan die kruis en anderkant die leë graf sou wees.

Jesus se aankoms vertel alles van sy roete om by stukkendes, verlorenes, randfigure, afgeskryfdes, eensames, sondaars en selfs godsdienstiges uit te kom. Hy was van daardie eerste dag af die groot hemelse sendeling wat aarde toe gestuur is.

Sien, dit is toe nie óns wat God se sendelinge is nie. Inteendeel. Ons is die wegkruipers, vandag nog. Sedert Adam en Eva se dae kruip ons vir God weg.

Ons is nie “seekers” soos wat sommige soeker-sensitiewe kerke glo nie; ons is ­“hiders”. God se Kind is die Groot Soeker. Hy bly op ons spoor, totdat Hy ons inhaal.

En wanneer Hy ons kry … gee Hy ons nie pak omdat ons so stout was om vir God te probeer weghardloop nie. Nee, Hy is die goeie Herder wat ons op sy skouers tel. Wat ons na sy Vader se kraal toe dra.

Jesus se soektog na God se vermiste aardse eiendom begin reeds by sy geboorte. Dit is geen wonder dat die herders se lewe daardie nag radikaal verander het nie: Nadat hulle God se Kind in die voerbak gesien het, het hulle teruggestap na hulle skape toe terwyl hulle God loof en prys.

Maar, nee, hulle het nie besluit om teologie te gaan studeer omdat hulle “voltyds” vir die Here wou gaan werk nie. Hulle het gekies om voltyds vir God te gaan leef. Daar tussen hulle skape.

Dit is wat gebeur met mense wat hulle trompop in Jesus vasloop: Hy keer hulle lewe op sy kop.

Hy verander my deur die manier waarop ek lewe, te verander. Nou is Hy nie meer een of ander veraf heilige wat ek elke af en toe in die kerk raakloop nie. Of die babatjie wie se geboorte ek in dié tyd vier nie.

Nou is Hy die Here van my lewe.

 

Sy nabyheid …

’n Ruk gelede moes ek iewers in Holland met ’n groep kerklikes praat wat bekommerd was oor hulle drasties krimpende kerke.

Toe herinner ek hulle aan dié woorde van die Europese teoloog Ernst Käsemann: “People and institutions do not like to be kept continually on the alert, and they have constantly devised screens to protect themselves from too much heat. In fact, they have even managed to reduce Jesus’ red-hot message, which promised to kindle a fire throughout the world, to room temperature.”

Inderdaad. Ons het vir ons ’n veilige, “kerklike” Jesus geskep. Die meeste mense kan Hom dus ná die feesseisoen rustig wegpak, saam met al die Kersversierings.

Maar Jesus laat Hom nie wegpak nie. Hy laat Hom nie afkoel deur ons vroom, godsdienstige termostate of ons flou tradisies nie.

Daarom sal dit goed wees as jy weer ’n slag agter die skerms van nóg ’n opgesmukte feesseisoen ingaan. Ontdek Jesus soos wat Lukas 2 oor Hom praat. Dan sal jy weer die vars nuwe geure, klanke en kleure van God se koninkryk beleef.

Laat toe dat daar in dié tyd ’n nuwe verhaal in jou lewe opstaan: die waarheid oor Jesus.

Dan sal jy elke dag sy koms en sy nabyheid vier, reg deur die nuwe jaar.

 

 

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail