Wat lesers sê

Toe ons daar opstaan en mekaar groet, herinner die Xhosa-vrou ons almal hieraan: “Die doringkroon op Jesus se kop was nie die laaste kroon nie. Hy het ook ’n oorwinnaarskroon ontvang.” Wat ’n inspirasie! En toe ek daar wegstap, was dit asof ek ’n helderkleurige reënboog sien, met God se genade en liefde aan die punt daarvan.

Annette van Tonder van Piketberg

Maar ek is nie bang nie. My Jesus genees. Ek sál nie vrees nie. Dankie, LiG, vir die great tydskrif wat jy is. Hier is soveel om my te help, te bemoedig en my ekstra “oemf!” te gee. Ja, ek lê met ’n glimlag in Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth, asof daar niks fout met my is nie. En ek geniet LiG.

Vicky Barnard van Port Elizabeth

Netnou maak ek toe my omgee-pakkie oop wat ons op die kamp gekry het, en ek kry ’n LiG-tydskrif daarin. En sommer heel aan die begin, by die redakteursbrief, glimlag ek breed toe ek die volgende lees: “Vriende wie se geloof (en twyfel) die lewe se toets deurstaan het, doen ook iets aan jou geloof. Ja, dit is dikwels ander se geloof wat jou help om jou oë op Jesus te hou. Vriende wat glo, help jou om die ware lewe te ontdek.” Hoe waar is dit nie!

Marcelle Ayres van Kraaifontein

Ná hierdie gesprek het my oë oopgegaan en ek het besef hoe geseënd ek is. Dat ek blakend gesond is, dat ek sóveel het om voor dankbaar te wees. Ja, daardie dag het my geleer wat die geheim van vreugde is: dankbaarheid en diensbaarheid.

Bettie Botes van Klerksdorp