Op ’n keer het ’n vriendin be­skryf hoe die Here op ’n spesiale manier met haar praat. Sy het vertel van die proses waardeur God haar hart stukkie vir stukkie sag gemaak het sodat sy kon ervaar hoe lief Hy haar het.
Op ’n dag, vertel sy, het sy twee wit vlinders sien vlieg. En op daardie oomblik het sy God se allesoorheersende liefde ervaar – en dié fluisterwoorde daarby: “Elke keer as jy wit skoenlappers sien, onthou dat jy my geliefde is, dat Ek jou oneindig liefhet.”
Vandat ek Elizna se storie gehoor het, kan ek nie anders nie as om ook die waarheid van God se liefdeswoorde in mý hart te voel fladder wanneer ek wit vlinders sien.

Maar voordat ek geleer het om op hierdie manier na skoenlappers te kyk, was my gevoel teenoor dié fladderende klein diertjies heel anders as nou. Ek was trouens ’n bietjie bang vir hulle. Veral daardie groot bruines met die vaalgeel kolle wat soos oë lyk.
Pragtige ou goedjies! sal sommige mense dalk sê. Maar beslis nie ék nie!
Ja, ek weet daar is geen goeie rede waarom ’n mens vir iets so onskadelik soos ’n skoenlapper hoef bang te wees nie. Maar ék is. Steeds. Partykeer.
En as jy my sou vra waarom, sal ek jou ’n irrasionele rede moet gee. Sien, skoenlappers is tog so … stíl.

So is die liefde mos ook. Dit is baiekeer stil. So geruisloos wanneer dit in jou hart in vlieg.
En, sal almal weet wat dit al ervaar het, die liefde maak jou soms ook ’n bietjie bang. Bloot omdat jy nie weet waarheen dit jou gaan lei nie. Jy weet nie altyd hoe die een aan wie jy liefde gee daarop gaan reageer nie.
Tog hou ons nie op om lief te hê nie. Om liefhê te waag nie.
En ek wonder dikwels, vrese ten spyt, hoe vlak die lewe nie sou gewees het nie as ons sou kies om elke liefdesvlinder onder ’n bakhand weg te steek. Hoe dit sou wees as ons hulle vermy nie.
Ja, ons kies om lief te hê, al is daar baie op die spel – in ons huwelik, ons vriend­skappe, ons gesin, by die werk. En ons leer hoe om vir ons naaste lief te wees. Ons leer hoe dit is om liefde te bewys – en dan hoopvol terug te staan, met ’n ontblote hart, en op die reaksie te wag. Net om dan, ten spyte van die reaksie, weer so te kies.
Ons kán kies om so te leef, omdat God dit vir ons moontlik maak. Hy laat liefdesvlinders vlieg oor dié wat dit spontaan ontvang en hulle in die vreugde daarvan verlustig. Maar Hy laat vlieg hulle ook oor dié wat ongeërg daarby verby kyk, of gesteurd daarvan wegkyk. Hy laat sy liefde selfs vlieg oor hulle wat, bevrees, hul oë daarvoor sluit.
Maar omdat God ons eerste liefgehad het, kan ons ons lewe in liefde leef – téén die vrees-impuls in.
’n Lewe vol liefde maak ons bestaan die moeite werd. Dit is in daardie omhelsing van jou maat nadat jy (al weer!) onredelik was. In daardie “ek is jammer” wat jul voete in die rigting van versoening rig. Dit is in jou tiener se ongeërgde houding wat net-net nie ’n liefdevolle glimlag kan verberg nie. In ’n kollega se kompliment wat jou donderwolkbui in ’n sonskynstemming verander.
Dit is hoe wit vlinders vlieg. Ook om jou hieraan te herinner: “Jy is my geliefde. Vir jou het Ek oneindig lief.”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail