Goeie vriende verdubbel jou vreugde en halveer jou hartseer. Só lui die ou gesegde. Ja, ’n ware vriend is goud werd, veral tydens die storm-en-drang-tienerjare. En ouers kan hul tienerkind help om betekenisvolle vriendskappe te smee – juis ook dié wat dalk daarmee sukkel.

DEUR SUSAN GOOSEN

“Mense hoef nie baie navorsing te doen om te besef dat goeie interpersoonlike verhoudings absoluut noodsaaklik vir jou kind se toekomstige geluk is nie.”

Só sê dr Pieter van Jaarsveld, skrywer van onder meer ’n Gelukkige kind: Bemagtig jou kind om positief te dink. Hy voeg by: “Een van die belangrikste emosionele vaardighede wat jou kind moet aanleer, is hoe om met ander mense oor die weg te kom en hulle te behandel. Dis belangrik vir hul sukses op skool, in die volwasse lewe, in romantiese verhoudings en in hegte vriendskappe.

“Positiewe verhoudings maak ’n kind gelukkig. Navorsing het uitgewys dat gelukkige kinders gesonder is, langer leef, beter verhoudings het, minder geneig is om depressief te wees, meer sukses op skool behaal, beter leiers is en ’n positiewer impak op ander mense se lewe gaan hê.

“Stres, byvoorbeeld, kan ’n baie negatiewe uitwerking op kinders hê. Goeie en gesonde verhoudings werk hierdie stres teë.”

Theresa van den Berg, ’n opvoedkundige sielkundige in Monumentpark, Pretoria, vertel meer oor die waarde van vriendskap vir tieners: “Tieners wil graag voel dat hulle tot hul portuurgroep behoort,” sê sy. “Maar hoewel hulle ’n groot behoefte aan tyd saam met hulle vriende het, is dit belangrik dat ouers steeds betrokke by hul lewe sal wees. Ouers moet ’n geborge omgewing skep en die regte waardes vaslê, sodat hul kinders betekenisvolle vriendskappe met die nodige selfvertroue kan sluit.”

Volgens Michelle Gevers, ’n heelbrein-konsultant in Pietermaritzburg, is baie ouers só besig dat hulle nie tyd het om gesonde waardes gedurende die tienerjare vas te lê en te beklemtoon nie. “Daar gebeur elke dag sóveel dinge in tieners se lewe waarvan die ouers nie eens bewus is nie …

“Met die druk van ’n knoppie ruil tieners nuus uit, ‘like’ mekaar se boodskappe, en vertel aan al wat leef en beef waar hulle hulle bevind en wat hulle doen of wat hulle eet. Baie van die foto’s wat hulle met ander deel, skep die indruk van ’n sorgvrye en opwindende lewe. Vir baie tieners wat hierna kyk, word dit die maatstaf waaraan hulle hulleself meet.

“Hulle bestee trouens baie tyd daaraan om, via sosiale media, hul eie lewe met dié van ander te vergelyk. Dit kan tot ’n gevoel van isolasie lei, en selfs tot ’n lae selfbeeld aanleiding gee.

“Dieselfde kan gebeur wanneer ander tieners negatiewe boodskappe aan hulle stuur of hul foto’s of ‘posts’ krities beoordeel.”

Vriendskapvaardighede

Pieter sê: “Kinders leer baie uit vriend­skappe. Hulle leer lesse wat baie belangrik vir hul latere verhoudings is.

“Goeie vriendskapvaardighede moet reeds in die kinderjare aangeleer word. As jy eers volwasse is, is dit baie moeiliker om goeie verhoudings te leer vorm. Dis soos om te leer swem: Dis makliker as jy jonk is.

“As negatiewe gedrag – soos selfsug of baasspelerigheid – eers gevestig is, help dit nie jy stuur jou kind na ’n kerkkamp om maats te maak nie. Die ouer moet die kind eers leer om self ’n goeie vriend te wees.”

Pieter noem ’n klompie belangrike vaardighede wat kinders moet aanleer:

  • hoe om ’n gesprek te begin met iemand wat jy nie ken nie
  • hoe en wanneer om ’n oppervlakkige geselsie na ’n dieper gesprek te stuur
  • hoe om kompromieë aan te gaan
  • hoe om konflik te hanteer
  • hoe om kritiek te gee én te ontvang
  • hoe om vertroue te behou
  • hoe om ’n emosionele band met ander te vorm
  • hoe om ’n verhouding pret te maak
  • hoe om verbale en nieverbale kommunikasievaardighede aan te leer
  • hoe om empatie en waardering uit te spreek.

Ander eienskappe wat belangrik is, is selfaanvaarding, respek vir ander (oor alle grense heen), geduld, aanpasbaarheid en die gewilligheid om nuwe dinge te probeer.

Michelle sê: “Ons kinders moet leer om eerlik met hulleself te wees. Hulle moet weet wie en wat hulle is en wat vir hulle belangrik is. Dit sal hulle help om ander mense met dieselfde waardes te identifiseer.

“Beklemtoon die waarde van vriendelikheid en omgee. Moedig gesprek aan. Besef dat daar ’n tyd gaan kom dat jou tieners makliker en meer gereeld met hul vriende gaan praat as met hul ouers. Hou daarom die kommunikasiekanale oop deur onder meer gereelde gesprek. Bied hulle die geleentheid om hul emosies te wys en hul menings te lug sonder om hulle te onderbreek of te veroordeel.

“Onthou: Ons wil ons kinders bemagtig om ’n goeie en gesonde verhouding te ken en te koester. Wees dan self ’n voorbeeld hierin.”

Help jou kind só

“Die pre-tienerjare en die tienerjare is ’n emosionele tydperk,” sê Theresa. “Kinders is onseker oor wie of wat hulle is en hulle beleef ’n warboel emosies. Baie hiervan kan hulle nie eens beskryf of ’n naam gee nie.

“Dis daarom belangrik dat ouers hul kinders van kleins af, en veral gedurende die tienerjare, help om ’n sterk selfbeeld te ontwikkel. Kinders wat oor ’n positiewe selfbeeld beskik, is nie so vatbaar vir negatiewe groepdruk nie en hoef nie tot enige uiterste te gaan om ander se aanvaarding te probeer kry nie.

“Gee volop erkenning vir wat hulle reg doen. Prys hulle eerder as om te kritiseer. En moedig hulle aan om te waag en te probeer. Vra uit na hul vriendskappe en gee leiding oor hoe hulle hul probleme kan oplos.

“Moedig hulle aan om maats te maak op al die verskillende plekke waar hulle kom. ’n Kind kan byvoorbeeld verskillende vriende by die rugby, die kerk en die dramagroep hê.”

Die liewe selfoon …

Selfone speel ’n groot rol in tieners se vriendskappe. Tieners bou verhoudings met behulp van hul foon. Dis vir hulle meestal makliker om ’n boodskap te tik as om dit hardop te sê.

Terwyl dit ’n vinnige en maklike manier is om te kommunikeer, moet tieners wel geleer word om krities na hul boodskappe te kyk. Om hulleself af te vra: Sal my boodskap, taalgebruik of foto aanstoot gee? Sien ek kans dat my ouers daarna kyk? Sal dit wat ek nou met die foon doen iemand anders se privaatheid skend? Sal dit ’n ander persoon negatief beïnvloed?

Nog wenke wat werk
  • Voorkoms en die regte kleredrag is baie belangrik vir die ontluikende tiener. Moenie die waarde van goeie higiëne, ’n moderne haarstyl en stylvolle klere onderskat nie.
  • Luister net soveel na jou kinders en hul ervarings en emosies as wat hulle na jou moet luister. Maak oogkontak.
  • Kinders sal baie oor verhoudings leer deur hul ouers dop te hou. Wees ’n rolmodel. Wys lojaliteit en omgee binne jou eie vriendekring.
  • Skep ’n veilige en gemaklike atmosfeer sodat jou tiener graag vriende sal wil oornooi. Sorg vir genoeg kos; tieners hou van ’n vol yskas!

Ons kenners

  • Theresa van den Berg is ’n opvoedkundige sielkundige in Monumentpark, Pretoria.
    Besoek haar webwerf www.theresas.co.za vir meer inligting of skakel 082 374 6876.
  • Michelle Gevers is ’n heelbrein-konsultant in Pietermaritzburg. Sy fokus op emosionele intelligensie en leervaardighede. Kontak haar by michellegevers@gmail.com of skakel 083 225 3300.
  • Dr Pieter van Jaarsveld is ’n bekende skrywer en konsultant. Besoek www.tandemtraining.co.za vir meer inligting. Sy boek, ’n Gelukkige kind: Bemagtig jou kind om positief te dink, is soos sy ander boeke by alle toonaangewende boekwinkels beskikbaar.
Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail