#3 Dokter se winterpad met kanker: ‘Uiteindelik: een pienk blom’

DEUR ADRI COETZEE

Dis 18 Junie. My laaste bestralingsessie. Ek het die vorige week met ’n verkoue gesukkel en staan dié oggend met ’n nare hoofpyn uit die bed uit op. Maar die opgewondenheid om klaar te maak, is te groot om aan ’n kopseer aandag te gee.

Daar is ’n ou klok by die eenheid wat jy lui wanneer jou behandeling voltooi is. Ek het dit baie hard en duidelik gedoen. En ek is baie haastig huis toe. Die derde Covid-19-golf het Keetmanshoop getref en Leon moet alleen werk.

Maar toe ek by die huis kom, voel ek baie sleg. En ja, ek is toe Covid-19-positief. Die dag daarna tref dit my ma, en toe ook my skoonma. In die week waarin ek so hard probeer om gesond te kom sodat ek Leon kan help, word ek net nie beter nie. Ek bly kortasem. Dit was nie lank nie, toe moet ek en my ma en my skoonma suurstof ontvang. Ons al drie lê met binneaarse behandeling by die huis.

LEES OOK: #1 Dokter se winterpad met kanker: ‘Ek het gesorg dat ánder ’n mammogram laat doen …’

Nooit in die afgelope jaar se kankerstryd het ek aan doodgaan gedink nie, maar skielik het ek besef dat ek niks beter is as enige ander een wat aan Covid-19 gesterf het nie. Weer het ek met die Here begin worstel. Ek het Hom gevra: “U het my deur dié jaar gedra, U het my tot hier gebring – wat nou?”

Die Here het my aangeraak en ek het beter geword. Een ding wat ek in daardie tyd geleer het, is dat God oor lewe en dood beskik; ons lewe is nie in ons eie hande nie.

Dit was die moeilikste tyd in ons geneesheer-loopbaan. Die Covid-19-sterftes was nie meer syfers en statistieke nie; dit was ouma Rina, dit was ons buurman, dit was pasiënte met wie ons ’n lang pad kom. Daar was dae waarin dit gevoel het of God nie ons hulpgeroep hoor nie.

Louis L’Amour het in een van sy cowboyboeke ’n gesprek tussen ’n cowboy en ’n lid van een van die inheemse stamme beskryf waarin laasgenoemde aan die cowboy sê: “If I can ask God one last thing, I’ll ask Him to give me a big enemy.”

Waarop die cowboy verbaas reageer: “A big enemy? But a big enemy can kill you!”

Die ander man sê: “Yes, I know. But without a big enemy, I will grow fat and weak.”

Die lewe bied ons keuses. Jy het ’n keuse waaroor en hoe jy gaan dink, en hoe jy gaan reageer. Jy kan God en sy Woord ignoreer en op situasies reageer deur jou te bekommer, deur kwaad, hartseer of gefrustreerd te wees. Of jy kan jou denke beheer en hulle op God se wil gefokus hou.

Hoor Markus 10:27: “Alles is by God moontlik!”

Op 1 September, net mooi ’n jaar nadat ek die knop in my bors gevoel het, moet ek vir oulaas vir chirurgie aanmeld: ’n histerektomie, en die verwydering van alles in my wat “pienk” is …

LEES OOK: #2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

Ek het geweet dat ek nou oor die kruin is. Toe ek terug is by die huis, wys Leon my daardie Sondagoggend die mooiste pienk roos in ons tuin. Hy het dit laas jaar ná die diagnose vir my gekoop. Die roos se naam is “High Hope”. Ons het die hele jaar gesukkel dat dit moet blom.

En daar is dit toe. Uiteindelik: een pienk blom. Ek weet dit was God wat aan my kom hoop gee ná die uitmergelende jaar. Dit was sy manier om vir my te sê my winterseisoen is verby; die lente het aangebreek.

Vandag kyk ek op alles terug en sê: “Dankie, Here, vir die winterpad wat ek moes loop. Dankie dat U mý gekies het om hierdie pad te loop. Dankie vir al die lesse wat ek geleer het, en dankie dat U my gehelp het om soveel sterker anderkant uit te kom.”

Dit was nie maklik nie. Maar God het stewige stewels met dik sole voorsien. Ek kon groei in my verhouding met Hom. Ons gesin kon groei.

En ek dank Hom vir Leon wat my tree vir tree ondersteun en dikwels gedra het, wat trane afgedroog het, wat my bemoedig het. Ek dank Hom vir my seun Nico wat sy boetie en sy sussies ondersteun het. Nico was by ons toe hy eintlik in Stellenbosch moes wees. Ek dank Hom vir Jurgie met sy drukkies en omgee. Vir Karien wat soggens vyfuur opgestaan het om almal in die huis wakker te maak en koffie te bring. Wat kos gemaak het. Ek dank Hom vir Leandri wat my met ’n kombers kom toegooi het as dit 40 grade buite was, wat geduldig water aangedra het. Ek dank Hom vir die oumas wat kom help het, vir my twee sussies en my familie wat my ondersteun het. Ek dank Hom vir al die ander engele wat Hy oor my pad gestuur het.

Ons is almal op pad. Soms is die pad gelyk; dikwels loop dit opdraand. Daar is vele kronkels en etlike slaggate. Dit is wanneer ons paadjie onbegaanbaar lyk dat ons ’n oomblik lank tot stilstand moet kom, diep asemhaal en om ons kyk.  Tussen die tolbosse en in die kaal vlaktes is daar volop skoonheid. Ons moet dit net raaksien, en nie verbaas wees as ons dié skoonheid vind in die mense waarvoor ons die liefste is nie.

As ek vandag moet kies … kies ek weer dié pad. Want ek kan nie wag om die reënboog aan die einde te sien wat God my beloof het nie.

  • Het jy ’n getuienis wat jy met LiG-lesers wil deel? Stuur jou verhaal na lig@tydskrifte.co.za
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img