#4 Seksuele pyn

5 Mei 2021

DEUR MARLENA DU TOIT

Hoe gemaak as jou geliefde se penetrasie voel soos messe wat steek of sny? Iets wat jou oop kerf? Daar is nou geen manier waarop seks genotvol kan wees nie, selfs al werk jy hoe hard daaraan.

LEES OOK: ‘Ek wil vroue nou help om seksueel gelukkig te wees,’ vertel bekende ginekoloog

Pynlike seks is baie meer algemeen as wat ons dink. Vroue wat pyn tydens penetrasie ervaar se pelviese vloer-spiere trek in ’n spasma saam, en dit maak penetrasie werklik pynlik en selfs onmoontlik.

Pynlike seks het vele oorsake, byvoorbeeld: skoliose, ’n spastiese kolon, blaasprobleme, ekseem,vaginale droogheid, infeksie en endometriose. Pyn ontstaan ook as gevolg van gedwonge seks.

Een probleem met pynlike seks is dat dit baie gou in ’n bose kringloop ontaard. Die spanning oor jou onvermoë om jou maat se penis te ontvang weens die pyn wat jy ervaar, het tot gevolg dat jou liggaam onwillekeurig tot ’n beskermende veg-of-vlug-reaksie oorgaan.

LEES OOK: #1 Ontwykende orgasme? Dalk is dit onkunde

Die gevolg is ’n spastiese sametrekking in die pelviese vloer, en dié spasma om die vaginale opening belemmer penetrasie. Dis in die meeste gevalle ’n onwillekeurige reaksie van jou liggaam om jou teen potensiële pyn te beskerm.

Sou die man dan penetrasie probeer, is dit moeilik, pynlik. Die brein maak ’n nota van die onaangename ervaring en liasseer dit as ’n bedreigende situasie. Die volgende keer verwag die vrou by voorbaat pyn, en dit skep spanning. Onwillekeurig trek die spiere selfs meer saam as voorheen, en penetrasie word nóg moeiliker, nóg pynliker.

Voeg hierby die emosionele skuldlas vanweë jou mislukking om jou geliefde seksueel te bevredig. Jy sien die ongeduld, die onvermoë om die situasie te hanteer, en jy voel soos ’n halwe vrou. Jy is nie goed genoeg nie. Jy ervaar skuld en skaamte en pyn, en jy bly stil daaroor.

Gaan soek hulp. Praat met jou dokter. ’n Omvattende gesprek om te bepaal wat die omvang van die probleem is, is die begin van ’n nuwe pad.

LEES OOK: #2 ‘Maar … ek is nie so grootgemaak nie’

By ’n bekwame en simpatieke medikus word daar oor fisiese en emosioneel aspekte gesels, want dikwels strek die impak van pynlike seks wyd. En spanwerk by die behandeling daarvan is belangrik. Dit vra samewerking tussen ’n dokter wat in seksuele gesondheid spesialiseer, en ’n fisioterapeut wat kennis het van die pelviese vloer. En dikwels ’n bekwame sielkundige.

Dis ’n tydsame proses, maar dit help om die uitdaging te verwerk en dit uiteindelik te oorkom.

“Ons almal – vroue, mans en kinders – benodig ’n vars benadering tot ons seksuele opvoeding. Ons moet die reinheid van seks verstaan, maar ook weet dat outentieke seksuele plesier goed is,” sê dr Marlena du Toit, ginekoloog en nou ook seksuoloog. Foto: Lilac Photography

Fisioterapeute wat in vrouegesondheid spesialiseer, en wat oor spesifieke kennis van die anatomie en die funksie van die pelviese vloer beskik, is van onskatbare waarde.

Fisioterapeutiese behandeling in dié verband behels die aanleer van ontspanningstegnieke deur byvoorbeeld diep, diafragmatiese asemhaling. Die omvang van die beweging van die heupe en die laer rug word geëvalueer en toepaslike pelviese oefeninge word aangeleer. Op dié manier vind kondisionering van die pelviese vloer geleidelik plaas. Bostaande beskryf in ’n neutedop wat fisioterapie kan regkry. Dié terapeute vorm ’n onontbeerlike deel van die span.

LEES OOK: #3 Bekommer jy jou oor jou libido wat verdwyn het?

Vroue wat deur ’n streng opvoeding gekondisoneer is om te glo dat seks sonde is, sukkel met skuldgevoelens, angs en skaamte. Hulle kan dikwels nie tydens seks ontspan nie. Sielkundige hulpverlening is nou van groot belang om hul denke hieroor trompop te loop, sodat hulle kan leer om met vars oë na die mooi van intimiteit te kyk.

Seksuele pyn kan ook ontstaan nadat jou sekslewe voorheen bevredigend was. Dis trouens nie ongewoon om later in jou getroude lewe pynlike seks te ervaar nie. Dit gebeur meestal weens fisieke oorsake, soos onbehandelde vaginale infeksie of ’n besering ná ’n baba se geboorte.

Dikwels word seks later in jou lewe ook pynlik wanneer die menopouse sy kop begin uitsteek. Soos wat hormoonvlakke verander, word die vagina se wande dun en droog. Seks veroorsaak dan klein skeurtjies in die vagina se uitgedunde epiteellaag, wat pyn tot gevolg het. En as dit onbehandel bly, selfs spasmas.
Hiervoor is ’n wateroplosbare smeermiddel of ’n hormoongebaseerde room in die meeste gevalle die oplossing.

Die belangrikste is om te onthou dat seks nie pynlik hoef te bly nie. Moenie hieroor stilbly nie; daar is hulp, en dikwels uit ’n verrassende oord. Selfs botoks – ja, die wondermiddel teen plooie – help vir hardnekkige spasmas in die pelviese vloer.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img