Tuesday, June 22, 2021

#5 As jy woema kortkom: prioriteite, tyd en ander kreatiewe maniere

6 Mei 2021

DEUR MARLENA DU TOIT

Kinders en tuiswerk en hul skool. Jou loopbaan, jou ouers. Geld.

LEES OOK: ‘Ek wil vroue nou help om seksueel gelukkig te wees,’ vertel bekende ginekoloog

Jou lewe draai toenemend om hierdie mense en dinge, en jy sien doodeenvoudig nie kans vir seks wanneer jou geliefde met groot verwagting oor jou lyf begin streel nie.

Na my mening lê die probleem by ons prioriteite. Lewensmaats moet altyd onthou waar ’n eggenoot, kinders, werk, familie en stokperdjies in die groter prentjie pas. Dit geld mans én vroue. Naas jou verhouding met jou Skepper, is die belangrikste verhouding wat prioriteit behoort te geniet dié met jou lewensmaat. Eers dan kom jou kinders, jou werk, jou familie en jou stokperdjies aan die beurt.

Om oor prioriteite te wil praat, waarborg dikwels ’n ongemaklike gesprek. Maar as jy bereid is om introspeksie te doen, kan ’n kopskuif wat prioriteite betref ’n groot impak maak. Natuurlik is daar tye in jul gesinslewe waar babas en kleiner kinders boaan albei ouers se prioriteitslys is. Maar dis belangrik om later, wanneer die kinders ouer word, weer jul fokus aan te pas.

LEES OOK: #1 Ontwykende orgasme? Dalk is dit onkunde

Soos die jare aanstap, is dit belangrik om seker te maak dat jy en jou geliefde mekaar bly koester. Sou dit wees dat julle nie (meer) dieselfde belangstellings deel nie,  of indien daar sekere soorte gedrag by jou maat is wat jou pla of wegstoot – byvoorbeeld alkoholisme of pornografie – gaan dit waarskynlik die grootste demper op jul liefdesvuur plaas.

’n Spesifieke tyd en ander raad vir paartjies

Emosionele en intellektuele intimiteit bly steeds vir vroue baie meer op die voorgrond as vir mans. En indien ’n paartjie bereid is om aan hul verhouding te werk, is die kanse baie goed dat hulle weer die vuur in mekaar sal opwek.

LEES OOK: #2 ‘Maar … ek is nie so grootgemaak nie’

Van die beste raad wat ek aan ’n paartjie kan gee, is om ’n spesifieke tyd af te spreek om intiem te wees – tyd vir gesels, tyd vir dinge saam doen, tyd vir seks. Tyd vir flikflooi-afsprake of vlerksleep, oftewel date nights. Maak doodgewoon jou dagboek oop en teken ’n afspraak aan. Veral oor naweke moet ’n paartjie daarteen waak dat die groter familiekring of ’n stokperdjie nie kosbare tyd met jou maat steel nie.

Om daardie een mens te wees wat elke dag deur ’n geliefde gekies word, is kosbaar. Dis van groot belang om te besef wat ’n voorreg intimiteit met dié persoon is. Hy of sy kies jou, en niemand anders nie. Sodra jy dit snap, sal jy intimiteit prioritiseer.

Maar hoe “maak” jy tyd?

Dit vra bloot ’n bietjie kreatiwiteit. Onthou jy nog hoe dit was toe julle uitgegaan het? Doen dit weer so. Soek ’n wegkomkans. Dit hoef nie duur te wees of ure lank te duur nie, maar dit moet gereeld gebeur. Reël met ’n vriendin om na die kinders te kyk. Bied aan om dieselfde vir haar te doen.

“Ons almal – vroue, mans en kinders – benodig ’n vars benadering tot ons seksuele opvoeding. Ons moet die reinheid van seks verstaan, maar ook weet dat outentieke seksuele plesier goed is,” sê dr Marlena du Toit, ginekoloog en nou ook seksuoloog. Foto: Lilac Photography

Maak beurte met jou geliefde om dié spesiale geleenthede te reël – as ’n verrassing. Stel jou geliefde aan jou wêreld bekend, aan die dinge wat jy geniet. En wees bereid om saam met jou geliefde die dinge te doen wat vir hom of haar lekker is. Sorg dat daar in dié tye gesels en gelag word. Bou doelbewus herinneringe.

’n Bietjie flirtasie sal ook nie skade doen nie. Gebruik woordspelings, of stuur vir hom of haar weer ’n liedjie wat vir julle betekenis het.

Ek moedig paartjies aan om regtig kreatief oor dié dinge te dink.

Seksspeelgoed: Verraad of oplossing?

Mense dink op twee maniere oor seksspeelgoed: Vir sommige paartjies is dit ’n oplossing; ander dink dis verraad.

LEES OOK: #3 Bekommer jy jou oor jou libido wat verdwyn het?

Myns insiens het dit beslis ’n rol te speel, maar nie noodwendig vir almal nie. ’n Goeie riglyn in dié verband is dat jou veiligheid en jou selfrespek voorkeur geniet. Albei maats moet gemaklik wees met die soort speelding wat aangeskaf word. Daar is verskeie aanlyn winkels waar oulike en interessante items beskikbaar is.

Onthou: ’n Speelding vervang nooit jou maat nie, maar dit kan tot groter plesier en nuwe ervarings aanleiding gee.

Daar is oulike en veilige seksspeelgoed, soos ’n penis-ring wat jy by kettingwinkels kan koop. ’n Verskeidenheid vibrators maak sensuele massering aangenaam, en ’n goeie waterbasis-smeermiddel kan baie plesier verskaf.

Uiteraard kan jou maat jou beste seksspeelding wees …

Daar is báie wat ’n paartjie sonder veel koste of risiko kan doen. Skep atmosfeer met kerse en musiek. Dink nuut oor seksposisies. En oor plekke in jul huis waar julle mekaar kan geniet. Kyk wat werk vir elkeen se lyf. Dit verander mos soos wat ’n mens ouer word.

LEES OOK: #4 Seksuele pyn

Dis belangrik om te weet dat jou hele vel ’n sensoriese orgaan is. Doodgewone aanraking kan baie eroties wees. Gebruik dit as ’n vertrekpunt en verken die moontlikhede. Stel vas hoe dit voel as jy en jou maat mekaar byvoorbeeld agter die ore aanraak, en in die holte van die nek. Of gebruik iets soos ’n veer en streel mekaar. Kyk hoe sensueel die ritme van streel-en-staak, streel-en-staak kan wees.

Dis verstommend om te beleef watter verskil iets so eenvoudig soos om mekaar te blinddoek aan jou sensuele belewenis maak. Dis pure opwinding.

Daar is oulike bordspeletjies beskikbaar – iets soos Monogamy, wat baie soos Monopoly werk, behalwe dat jy nie huise, hotelle of geld versamel nie …

Intimiteit is ’n werkwoord. Dit gebeur nie vanself nie. As jy sukses daarmee wil behaal, moet jy moeite doen en tyd daaraan afstaan. Jy moet kennis inwin as jy agterkom dat jy nie weet hoe en wat om te doen nie.

Julle moet dit inoefen. Herhaal. Probeer weer. En bowenal: Vind plesier in die intieme oomblikke wat jy met jou geliefde deel.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Previous article#4 Seksuele pyn
Next articleDie hemel is jou vaderland
- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img