92-jarige wil steeds ’n lig in ’n donker wêreld wees

Wanneer sy haar 92 jaar op hierdie aarde in oënskou neem, besef Marthina Blom dat dit haar grootste vreugde was om te kon doen wat die Here van haar gevra het om te doen. Haar wens is dat haar getuienis ander mense sal aanmoedig om die Here Jesus te kies, om vir Hom te lewe en om Hom te dien.

DEUR MARTHINA BLOM

In die jaar 1955 het daar ’n groot verandering in my lewe plaasgevind. Ek was 23 jaar oud en ’n gereelde kerkganger. Al was ek aangeneem en voorgestel, het ek geen sekerheid oor my redding gehad nie.

Ek het aan ’n boekklub behoort en het maandeliks ’n klompie boeke deur die pos ontvang. Dit het van die Kaap gekom; ek het in Vereeniging gewoon. Toe ek op ’n dag een van die boeke oopmaak, val daar ’n traktaatjie uit. Die titel van die traktaatjie was: “Dit is volbring.”

Ek het altyd gedink Jesus moet nóg iets vir my doen. Hoe wonderlik was dit om toe te besef dat Hy alles aan die kruis op Golgota vir my volbring het. Dat ek niks meer nodig het nie.

Alles het nuut geword!

By ’n begrafnis van ’n familielid het die prediker gesê: “Jy moet só seker van jou saligheid wees dat jy nou vorentoe kan tree en sê: ‘Ja, Here, ek is gereed.’”

Ek het besef ek is nie gereed nie. Ek is verlore gebore en moet gered word. Toe ek weer by die huis was, het ek tot ’n groot sondebesef gekom.

Daar was wel nie ’n lang lys sondes nie, want ek het my hart vir die Here gegee toe ek maar nege jaar oud was, net ná my pa se afsterwe.

Maar, het ek besef, ná al die jare was ek steeds nie seker van my redding nie. Toe het ek op my knieë gegaan, my sonde bely, en die Here gedank. Op daardie oomblik het ek die versekering gekry dat my sondes vergewe is. En ek het besef my naam is in die Boek van die Lewe geskryf.

Dit was wonderlik om ’n nuwe skepsel te kon wees. Alles het nuut geword!

‘As julle sy stem hoor …’

Maar steeds het ek nie oorwinnend gelewe nie. Ek was soms te skaam om te getuig, en dit het my baie gepla. Ek het die begeerte gehad om heilig te wees en om God te verheerlik.

Twee jaar ná my bekering het ek weer ’n wonderlike traktaatjie ontvang, dié keer van ds Scheepers, ’n groot Godsman. Die opskrif was: “Die sondelys van die ongeredde en die sondelys van die geredde.”

LEES OOK: ‘God leef!’ vertel ma ná aanneemseun haar opspoor

Een hele week lank het ek elke uitspraak in Galasiërs 5:19-21 wat op my van toepassing was, bely en reggemaak. Ek het geglo en vertrou dat die Here my hart volkome sou reinig, ook van die ou mens se ongeregtigheid. Ek het my volkome aan Hom oorgegee.

Daardie naweek het ek by my moeder gekuier, en ná middagete is ek kamer toe en ek het die Here gevra om my te reinig. Twee tekse het by my opgekom: 2 Samuel 5:24: “En as jy ’n geruis van voetstappe in die toppe van die balsembosse hoor, moet jy gou maak …” Die tweede teks wat die Here gebruik het, was Hebreërs 3:15: “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie …”

In daardie oomblikke het die wonderlikste liefde my hele wese oorgeneem, en ek het geweet die Here het my hart met sy Heilige Gees gevul.

Roeping en tragedie

Ek het gevoel ek is tot kinderevangelisasie geroep, en ek het ná my opleiding by CEF (Child Evangelism Fellowship) die “Goeie Nuus Klubs” begin. Ek het dit aangebied tot ek 72 jaar oud was. Uiteindelik het ek ook in plakkerskampe gewerk om die evangelie aan kinders te bring. Daarna het ek mense opgelei wat by kinderevangelisasie betrokke wou raak.

Ek was ook uiters geseënd met twee goeie huweliksmaats. Ek was 64 jaar lank met my eerste man getroud voordat hy gesterf het. Twee jaar later is ek weer getroud. Ek het ses kinders, 12 kleinkinders en 13 agterkleinkinders.

’n Familiefoto sowat twee jaar gelede. Op die foto is Marthina en haar kinders, aangetroudes, kleinkinders en agterkleinkinders. Foto verskaf

Die groot tragedie in my lewe is die drie kinders wat ek binne agt jaar verloor het: In 2013 is my seun Martin Gunther, ’n teoloog, in Somerset-Wes in ’n motorongeluk oorlede. In 2014 is my seun Chris Gunther, ’n ingenieur, aan komplikasies ná ’n operasie oorlede. My jongste dogter Janet Swart is in 2019 deur ’n elektriese heining op hul plaas doodgeskok.

Ek het nog drie dogters – Carolien Bezuidenhout,  Petro Ochse en Helene Coundourakis.

‘Ons moet ’n lig wees’

Dis nou 64 jaar sedert my bekering. Ek woon in Highlands North in Johannesburg by my dogter Helene. Ek hou my besig met brei- en hekelwerk, ek lees baie, ek voltooi daagliks blokkiesraaisels. En ek luister na kerkdienste en bidure op my Webwoord-app. Ek doen ook steeds daagliks voorbidding vir siek mense en hulle redding.

LEES OOK: ‘Alles wat ek is, en hoe ek versorg word, is genade,’ sê kwadrupleeg

My grootste vreugde in die lewe was om te doen wat die Here my gevra het om te doen. Ek het geleer om elke dag op die Heilige Gees te vertrou. En om nederig, dankbaar en ontvanklik te wees. Ek streef daarna om altyd ’n getuie te wees, sodat God se Lig uit my sal skyn.

My boodskap aan lesers is op die Woord van God gebaseer. Ek wil hê my getuienis moet hulle aanmoedig om ook die Here Jesus te kies, om vir Hom te lewe en om Hom te dien. Ons moet ’n lig in hierdie donker wêreld wees.

God leer en lei my steeds om vir Hom te lewe en oor Hom te getuig. Ek hou vas aan Jesaja 43:10.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img