21 April 2021


DEUR SIMONE GAUCHE

Al sou die koronagolwe nie ophou nie
en die virus ons nooit verlaat nie;
Al sou masker dra nou die nuwe normaal wees
en hande spuit deel van ons alledaagse word;
Al sou die ekonomie nooit herstel nie
en ons swaarkry op ’n nuwe vlak beleef;
Al sou daar nuwe variante van die virus opduik
en die inentings nie doeltreffend genoeg wees nie;
Al sou ons kinders nooit weer ’n vyf dag-skoolweek beleef nie
en ons nooit weer groot byeenkomste kan hou nie;
Al sou ons nie weer in ’n kantoor kan werk nie
en ons nooit weer langtermynplanne kan maak nie;
Nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.

………………………………………………..

’n Bietjie meer as ’n jaar gelede het president Ramaphosa by ons kom besoek aflê vir ’n huisvergadering wat ons almal se lewe onherroeplik verander het. Nooit vantevore is ons vryheid so ingekort nie. Nog nooit is so baie van ons gevra nie. Ons troues, ons vakansieplanne, ons vergaderings, ons skole en ons lewe is eensklaps tot stilstand gebring. Ewe skielik het jy nie meer vir mense gevra wat hul naweekplanne is nie, maar eerder of almal by die huis gesond is.

Eers het dit gevoel asof ons deur ’n wetenskapfiksie-fliek ingesluk is. Maar dis nou een jaar later, en ons het gewoond geraak aan die vreemdheid om ons. Ons het geleer om in ons nuwe omstandighede te leef.

Ek het iewers gelees dat die mens se aanpasbaarheid een van die dinge is wat ons van diere onderskei. Ons vermoë om by ’n uiterste klimaat aan te pas, help ons om te oorleef. Daar is mense op ’n plek waar alles gevries is; mense in ’n woestyn. Mense leef op die hoogste bergpiek, en daar is mense op die kleinste eiland waar ’n vulkaan spu. Ons bewoon en bewerk. Ons maak ’n plan en ons pas aan.

In hierdie vreemde tyd het die mensdom weereens bewys dat hy kan aanpas. Ons het hande gevat om mekaar te help en saamgewerk om entstowwe te ontwikkel. Ons het dinge prysgegee om mekaar te beskerm en ons het baie oor onsself geleer.

………………………………………………..

Ten spyte hiervan is daar ’n vreemde gebrek aan vreugde wat ek ervaar as ek deesdae met mense te doen kry. Dis asof ons te bang is om opgewonde te raak, want dalk word dit wat jou opgewonde maak jou ontneem. Almal se emosies is net so effens afgeplat en daar is ’n “Gods-water-oor-Gods-akker”- houding. Ons is versigtig om te voel.

LEES OOK: Die mense langs jou pad is belangriker as jou lysie

Christene weet dat ons vreugde nie van ons omstandighede afhanklik is nie. HABAKUK 3 herinner ons daaraan dat vreugde ’n vrug van die Gees is. Dit kom van binne en borrel uit. Ten spyte van wat om ons in die wêreld aangaan. En al is ons onseker oor die toekoms.

Ons kan jubel en juig, want ons behoort aan ’n Vader wat getrou is. Hy gee ons nuwe krag. Wat ook al die omstandighede mag wees.

Mag jy in hierdie week hieraan vasklou, en vreugde vind, al kom wat ook al oor jou pad.

Uit die Woord: Habakuk 3

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die grondslag lê vir ’n gesonde, gelukkige gesin met gesonde, gelukkige kinders.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *