26 April 2021


Die 22-jarige Coenraad Heinz Torlage het onlangs die gesogte Sony-wêreldfotografieprys as studentefotograaf van die jaar gewen. Hiervoor gee hy alle eer aan die Here.

DEUR CONETTE LE ROUX

“Ek het min tyd daarvoor gehad, en om alles in die Here se hande te laat, was my enigste opsie. Hy het my gelei. Hy het deure oopgemaak wat ek nooit self sou kon regkry nie. Ek het nie eens meer die weer dopgehou nie, want elke keer dat ek vir die regte weer gebid het, het Hy dit gegee. Die wolke sou ooptrek, die reën sou ophou. En die son sou uitkom – soos ek dit nodig gehad het.”

“Om af te kyk op hierdie twee jong boere het my met nostalgie gevul omdat dit my aan my jeug laat dink het,” vertel Coenraad oor dié unieke foto wat hy vanaf ’n laaigraaf geneem het. Die foto is geneem nadat Olwethu, die plaasvoorman se seun, en HW, die boer se jongste seun, die hele dag saam beeste opgepas het. Foto: Coenraad Heinz Torlage

 

Dié finalejaarstudent van die Stellenbosch Academy of Design and Photography se reeks foto’s van jong boere in die plaasomgewing van Dundee, KwaZulu-Natal, waar hy grootgeword het, het die beoordelaars aangegryp.

LEES OOK: ‘My twee babas wat nie ’n tweeling is nie’

Die opdrag was om tydgenote uit te beeld en spesifiek hoe hulle die wêreld ’n beter plek maak. Coenraad verduidelik hy het besluit om jong mense te fotografeer wat hul lewe aan volhoubare voedselsekerheid wy.

“Ek het grootgeword met beeste, perde, donkies en hoenders,” vertel hy. “Boerdery is ’n intense beroep wat passie en onwrikbare toewyding verg. Boere kies hierdie lewe omdat hulle glo dat hulle ’n verantwoordelikheid het. Suid-Afrika is ’n onvoorspelbare land met ernstige droogtes, daar is veiligheidskwessies en ’n voortdurende debat oor grondbesit. Jong boere werk aan ’n regverdiger en billiker toekoms van volhoubare voedselsekerheid.”

 

Sanele is ’n bekroonde Brahmanboer, vertel Coenraad. Hier is Sanele by een van sy gunstelingbeeste wat hy “Sisi” noem. Foto: Coenraad Heinz Torlage

 

Hoewel Coenraad as plaasseun in KwaZulu-Natal grootgeword het, het hy altyd daarvan gedroom om in Stellenbosch te gaan swot. Aanvanklik het hy egter ’n ander vakgebied in gedagte gehad. “My plan was om een jaar lank fotografie by die Stellenbosch Academy of Design and Photography te studeer en om dan rekeningkunde aan te pak. Maar ná daardie jaar by die Academy, met ’n uitstekende lektor en ’n groeiende passie vir fotografie, was die moontlikheid om daar aan te bly eenvoudig te aanloklik.”

Behalwe die gesogte bekroning het Coenraad se inskrywing, wat as wenner uit 300 ander akademiese instellings wêreldwyd s’n aangewys is, waardevolle fotografietoerusting vir die Academy gewen.

Dié talentvolle jong fotograaf se droom is om uiteindelik nie slegs aan die kommersiële kant van die fotografiebedryf vasgevang te word in ’n poging om die rekenings te betaal nie. “Ek sal altyd graag projekte soos dié wil aanpak om die kreatiewe deel van my talent uit te leef.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *