‘Alles wat ek is, en hoe ek versorg word, is genade,’ sê kwadrupleeg

Twintig jaar gelede het Mynie Brits se lewe soos handomkeer verander: Sy was in ’n motorongeluk betrokke en is verlam gelaat. Haar huwelik het skipbreuk gely en sy het Kaapstad toe verhuis met haar twee kinders en ’n versorger. Deesdae het sy ook groot finansiële uitdagings. Maar in alles sien sy God se genade raak.

DEUR DEONETTE DE KOCK

Die eens aktiewe boervrou en kleuterskoolonderwyseres Mynie Brits (57) van Durbanville was op haar dag ’n Boland-tennisspeler en WP-netbalspeler. Sy was kunstig en het pragtige siernaaldwerk gedoen. Maar ná ’n motorongeluk in 2002 is sy as ’n C45-kwadrupleeg geklassifiseer.

LEES OOK: ‘Ek droom altyd ek loop weer’

Hierdie besonderse, diep gelowige vrou sê: “Ek vat elke dag soos dit kom, al klop die swart hond dikwels aan die deur.”

Dan dwing sy haarself om op te kyk, om te doen wat haar passie is: kuns.

Mynie leef haar passie vir kuns uit. Daar is fondse ingesamel en ’n spesiale stuk apparaat is ingevoer wat sy op haar kop plaas en waarmee sy, deur middel van allerlei kopbewegings, grafiese kuns op ’n rekenaar kan beoefen. Foto verskaf

Haar stem is sterk en helder as sy oor die verlede praat. “My eerste man, Henkie Jooste, was nege maande ná ons huwelik in ’n motorongeluk betrokke waartydens hy verlam gelaat is en ernstige breinskade opgedoen het.

“Ek het hom met sy rehabilitasie gehelp, maar ná drie jaar het ek ons huwelik laat ontbind. Tien jaar later is ek weer getroud. Ek en Christiaan Brits en ons twee kinders Ras en Katrienka was dolgelukkig op die plaas in Magoebaskloof in Limpopo.

Nadat Mynie tydens ’n motorongeluk haar nek gebreek het en verlam gelaat is, was haar enigste pleidooi aan God dat sy self haar kinders wil grootmaak. Foto verskaf

“Christiaan het egter ’n ander vrou ontmoet. En terwyl ons besig was om oor die toekoms te besin, het die motorongeluk plaasgevind waarin my nek gebreek is. My enigste pleidooi aan God was dat ek nie wou doodgaan nie. Dat ek self my kinders wou grootmaak.

“Ek was verpletter. Ek kon nie glo dat dit met my gebeur het nie. Ek was ook hartseer, kwaad. En bang, want ek het my onafhanklikheid verloor, asook die liefde van my lewe. Ek en Christiaan is geskei en die toekoms het soos ’n groot swart gat gelyk.”

Mynie en haar twee kinders het Kaap toe getrek waar hulle aanvanklik in Durbanville by haar ma ingewoon het. Haar gewese man het finansieel bygedra totdat die kinders 18 jaar oud was. Later het hul oupa ook gehelp. Familie en vriende het gereeld fondsinsamelings gehou sodat sy tuisversorging kon bekostig en self haar kinders kon grootmaak.

Ras, nou 25 en ’n ontwikkelaar van sagteware, en Katrienka, 22 jaar oud en ’n geleentheidsbestuurder, wou as jong kinders altyd weet wanneer hul ma dan gaan opstaan en het nie besef haar verlamming is permanent nie.

LEES OOK: ‘Ek fokus op die klein wonderwerke,’ sê kwadrupleeg op sy herstelpad

Mynie vertel: “Ek het die kinders geleer dat hulle by die nuwe omstandighede moet aanpas. Katrienka het my help bad en Ras het dikwels die katetersakkie help leegmaak. Ons het ’n baie nou band. En ons familie en vriende het ons gehelp om deur die aanvanklike trauma te kom.”

‘Dit vra soms ’n yslike krisis …’

Mynie vertel dat daar altyd twee versorgers by haar is. “Hulle moet my was en omdraai, ook snags, en elke twee-en-’n-half-uur moet hulle my lyf smeer. As ek te lank lê, daal my bloeddruk en daarom moet ek gereeld regop kom.”

Daar daag gereeld moeilike dae op. “Ek was altyd ’n bedrywige doen-en-gee-mens – nou moet ek alles ontvang. Ek was aanvanklik kwaad vir die Here, omdat ek reeds met Henkie se ongeluk soveel moes deurmaak. Totdat iemand by die Bybelstudiegroep vir my gesê het: ‘Maar Mynie, hoekom nié jy nie? Dalk wil die Here hê dat jy minder doen en meer tyd aan Hom afstaan.’

“Ek het toe baie nader aan die Here gekom. Voorheen het ek God nie behoorlik geëer en verheerlik nie, en sy Naam nie genoeg verkondig nie.

LEES OOK: ’n Muur van vuur om Kleinmond-dominee

“Dit vra soms ’n yslike krisis om jou tot die Here te wend. Ek het Hom gevra om my te vergewe. Ek het gesê ek is jammer dat ek Hom afgeskeep het.

“Want alles wat ek het, wat ek is, en hoe ek versorg word, is genade. Ek luister Sondae na ’n erediens op YouTube, en ek is daagliks betrokke by ’n Bybelstudie-WhatsApp-groep.”

‘Môre is nie in jou hande nie’

Deesdae woon Mynie saam met Katrienka en twee versorgers in ’n huis wat sy in Durbanville huur. Hier leef sy haar passie vir kuns uit. Daar is fondse ingesamel en ’n spesiale stuk apparaat is ingevoer wat sy op haar kop plaas en waarmee sy, deur middel van allerlei kopbewegings, grafiese kuns op ’n rekenaar kan beoefen.

“Finansieel-gesproke is ek die afgelope jaar volledig afhanklik van vriende én van onbekendes wat my bystaan. Ras help ook waar hy kan.

“Maar ek is ’n geseënde mens: Katrienka bly by my. Ek het ’n TV-stel en kan Netflix kyk. Ek het ’n elektriese rolstoel. En ek gee my versorgers werk.

“’n Mens beplan jou lewe so haarfyn … maar môre is nie in jou hande nie. Alles kan in ’n oogwink verander.

“Ek sukkel soms met angs, maar ek weet dat ek moet bly glo en vertrou. Elke dag kry ek genade van die Here. My toekoms is in sy hande.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img