Angsversteuring is ’n uitmergelende siekte. Mense wat daaraan ly, moet voortdurend bedag wees op die simptome wat soms sonder waarskuwing hul opwagting maak. Dan moet daar onverwyld opgetree word.

DEUR MARTJIE ROOS

Ek het reeds op skool angsversteuringsimptome ondervind, maar dis nooit reg gediagnoseer nie. Angs het my maag­spasmas besorg, in so ’n mate dat ek op ’n keer tydens ’n eksamen flou geword het. Dié maagspasmas het die laaste twee jaar in die hoërskool ’n groot probleem geword.”

Só vertel Martie Swanepoel, bekende joernalis, skrywer en tekstielkunstenaar. Haar skooldae was ’n beproewing. “Ek was vreesbevange vir ’n onderwyseres wat my geboelie het. My ma moes my dokter toe neem.

“Op universiteit het hierdie probleem kleiner geword, en toe ek as joernalis by Beeld begin werk het, nóg kleiner. Selfs al moes ek toe oor misdaad en onluste verslag doen. Ek dink dit was omdat die geweld nie op my persoonlik gerig was nie.

“Ek het egter wel ’n fobie vir winkelsentrums ontwikkel nadat ek oor bomontploffings daar moes berig. Vandag vermy ek dit steeds om inkopies te doen. En ek moet altyd weet waar die winkel se uitgang is.”

“Toe keer dit terug …”

Martie se angsaanvalle het ná ’n erge traumatiese ervaring in 2006 weer begin kop uitsteek. En sedert haar man Johan se dood in 2008 het dit verhewig.

Sy vertel: “Ek het toe ’n ruk lank by ’n maatskappy gewerk waar die baas ’n regte boelie was. Hierdie ervaring het psigiatriese behandeling geverg. Toe het ’n huisbraak, waartydens ek en my kind in die huis vasgekeer was, en ’n gewelddadige voorval by ’n skool waar ek ’n ruk lank skoolgehou het, die angs laat toeneem.

“Ek gebruik reeds sedert die vroeë jare negentig antidepressante, maar die angsbehandeling het eers ná die trauma in 2006 begin. Posttraumatiese-stressindroom is toe by my gediagnoseer. Ná veertien jaar het ek dit nog nie oorkom nie. Ek kry steeds nagmerries.

“Toe begin ek besef dat my aftreedatum nader kom. Omdat ek sedert 2008 as alleenma die pot aan die kook moes hou, moes ek bitter hard werk. Die vrees om beheer te verloor, was intens. Ek het van anti-angstablette geleef. My dokter moes my ’n paar keer vir uitbranding behandel.”

“Wanneer ek begin sukkel”

“Op die oog af lyk ek na ’n kalm mens. As joernalis kon ek moeilike spertye goed hanteer. Maar wanneer ’n situasie my persoonlik raak, het dit my ontsenu.

“Ek sukkel om aggressie te hanteer wat teen my gemik is. Ek kon byvoorbeeld Johan se vier hartaanvalle kalm hanteer, en selfs kalm bly wanneer my kinders seerkry – maar wanneer dit voel asof ’n situasie buite my beheer is en ek magteloos is, word ek intens angstig.

“Ek was in Tanzanië vir werk toe my werkgewer my bel met die nuus dat Johan ’n hartaanval gehad het. Die desperate gesoek na ’n vlug terug en die gebrek aan empatie waarmee ek in my nood te doen gekry het, het my histeries gemaak.

“Toe ek uiteindelik terug was en voor die intensiewesorg-eenheid se deur staan, was ek weer kalm.

“Die aand met Johan se dood was ek angstig toe ek hospitaal toe moes jaag, want ek kon nie die situasie beheer nie. Nadat hy gesterf het, het ’n doodse gevoel oorgeneem. Die verwerking van sy dood te midde van ’n werksituasie waar die baas ’n boelie is, het my uiteindelik in die hospitaal laat beland.”

“Ek kan dit voel aankom”

“Ek kan ’n angsaanval voel aankom. Ek begin bewe, ek sukkel met my asemhaling, ek kan glad nie logies dink nie, ek skarrel histeries rond. Die magtelose, eensame gevoel wat ek ondervind, is onbeskryflik.

“Ek kan dit nie wegdink nie. Ek probeer om dadelik ’n pil te sluk. Ek wil dan liefs alleen wees, op my bed onder ’n kombers gaan lê en slaap totdat ek beter voel. Niemand gaan my kalm ‘praat’ nie. Geen asemhalingtegniek of iets dergeliks gaan help nie. Ek moet my pilletjie sluk en alleen wees.

“Dan vermy ek sosiale media. Ek sal my ma of my suster of een van my kinders bel as dit nodig is. My lewensmaat Giel ken ook my angssimptome. Ná so ’n aanval is ek dae lank gewoonlik sielsmoeg.

“Allerlei kwellings en ’n getob kan tot my angsaanvalle bydra, maar ek probeer my gedagtes gewoonlik betyds van gevaarsones wegstuur.

“Maar ek het onlangs ’n angsaanval in ’n materiaalwinkel gekry bloot omdat niemand my wou help nie. Die personeel was onvriendelik en aanvallend – en ek het heeltemal uitgerafel. Ek kon dit nie eens regkry om my bankkaart te gebruik nie.”

“My mense en my beroep”

Martie vertel dat sy haar veral oor haar kinders en haar geliefdes kwel. En oor geld. “Maar ek sal nie vanweë so ’n kwelling ’n angsaanval kry nie. Dis gewoonlik ’n spesifieke gebeurtenis wat dit ontketen.

“My angstigheid gaan met sosiale interaksie gepaard. Ek was in verskeie sleutelposisies in my loopbaan en kan voor ’n spertyd doodkalm wees. Ek is goed met krisisbeheer in ’n werksituasie. Ek het met heelwat vername mense onderhoude gevoer en kon dit nog altyd goed hanteer.

“Ek was van kleins af ’n introvert, en joernalistiek het my gedwing om in ’n werksituasie sosiaal in beheer te wees.

“Maar dis die geselsies oor ditjies en datjies by skemerkelkies en onthale wat my laat voel het ek wou weghardloop. Ek het dit verduur omdat dit my werk was, maar ek het laat spaander sodra ek die kans gekry het.

“Met verloop van tyd het ek ’n sosiale fobie ontwikkel, en ek het sosiale geleent­hede begin vermy. Ek kan saam met pelle op my stoep kuier, maar ek sukkel met formele funksies waar ek met vreemdes moet praatjies maak. Dit maak my benoud.

“Deur die jare het ek ook ’n vreemde fobie vir ’n telefoon ontwikkel. Ek sal nie sommer iemand bel en ’n lang gesprek voer nie, behalwe as ek die persoon goed ken. Ek sal eerder ’n e-pos stuur, of ’n WhatsApp.

“Ek was ’n hele paar jaar lank ’n soort kluisenaar, maar dit gaan nou beter. Giel is ’n sosiale mens en ek voel veilig by hom.”

“Ek slaap soms sleg”

“Soms is ek ’n slegte slaper. Ek sal óf sukkel om aan die slaap te raak óf drieuur in die oggend wakker word. En dan jaag my gedagtes my rond.

“Ek het al alles probeer: hipnose, diep asemhaling, melk met neutmuskaat, musiek. Maar as my kop op hol is, kry ek dit nie stil nie. Die volgende dag is ek moeg. Gelukkig skyn die son dan, en dan lyk alles weer beter.

“Ek het nie ’n vrees vir nuwe projekte of uitdagings nie. Ek is ’n avontuurlustige entrepreneur en ek dink planne uit om te oorleef. Ek het vanjaar my eie onderneming, Martaki, van die grond af opgebou nadat die tydskrif Rooi Rose, waarvoor ek geskryf het, gesluit het.

“Martaki is juis gebore sodat ek nie met geld moet sukkel nie. Ek sal ’n projek met entoesiasme aanpak, en daarmee aanhou totdat dit werk. Ek gee nie maklik op nie en kan báie hard werk.

“Die afgelope drie jaar het die paniek­aanvalle egter toegeneem. Dis asof ek nie die slegte tyd in my laaste werkjaar te bowe kan kom nie. Dit was ’n intense jaar. Werkdruk, vrees vir aftrede, huis oppak, afskaal. Die onsekerheid van wat aftrede vir my inhou, was verlammend.

“Jy besef jou beleggings en ander geldjies gaan dalk nie genoeg wees nie. En ek dink die hele tyd planne uit om my finansies aan te vul.”

“My geloof is my anker”

“Angstigheid is ’n mediese probleem, dis soos diabetes. Ek gee nie voor nie. My gene en die letsels wat ek deur trauma opgedoen het, het my breinoordragstowwe uit balans geruk. Ek het medikasie nodig om dit weer in die regte balans te bring.

“My toestand is nie ’n skande nie. Ek praat daaroor. Ek is dankbaar as mense vir my bid. Gebed en geloof is juis my anker wanneer ek angstig is. Daarby gee God my ook genoeg verstand om te weet dat ek ’n mediese probleem het.

“Daarom sluk ek my pilletjies wanneer dit nodig is. Ek gee regtig nie om of mense dink ek is bloot ‘vol drama’ nie. Hulle ken nie my pad nie en het nog nooit ’n enkele tree in my skoene geloop nie.”

Martie Swanepoel, joernalis en entrepreneur.

Martie Swanepoel woon op ’n natuurbewaringsplaas in die Gouwsberge in Mpumalanga. Sy gebruik blare en hout om gedrukte motiewe op linne en katoen te maak. Sy vervaardig onder meer handgedrukte serpe, kussings, tafeldoeke en rokke. Haar handgemaakte ware kan by martaki.lappe op Instagram en Facebook gesien word. Dit kan ook aanlyn bestel word.

Jacques Botes is ’n geestesgesondheidpraktisyn in Pretoria. Hy sê daar moet ’n duidelike onderskeid tussen vrees, paniek en angs getref word.

“Vrees dra by tot die mens se oorlewingsdrang op daardie oomblik. Soos wanneer ’n leeu op jou afstorm. Angs is wanneer jy vrees vir die volgende aanval ervaar, en is dus op die toekoms gerig. Paniek is ’n oorweldigende reaksie wat skielik plaasvind en met akute emosionele en fisiese ongemak gepaard gaan. Bepaalde liggaamlike reaksies – soos ’n verandering in hartklop en asemhaling, onbeheerbare bewerasie en koors – kan tydens paniek voorkom.”

Hoe word hierdie dinge behandel?

Volgens Jacques is die beginpunt altyd ’n deeglike mediese ondersoek. Navorsing het uitgewys dat angs dikwels met ’n fisiologiese diagnose geassosieer word, byvoorbeeld abnormaliteite by die skildklier, komplikasies met spysvertering en migraine. Alle moontlike mediese oorsake moet eers uitgeskakel word.

’n Geneesheer kan medikasie voor­skryf om akute episodes te behandel, terwyl daar tegelykertyd sielkundige behandeling of psigoterapie toegepas word. Langtermynbehandeling kan kognitiewe en persoongesentreerde benaderings asook terapie insluit. Ontspanning-, asemhaling- en hanteringtegnieke kan ook voorgeskryf en aangeleer word.

“Maar onthou,” sê Jacques, “daar is verskeie soorte angsverwante diagnoses en daarom is dit belangrik dat die ondersoek deur ’n psigiater gedoen word. Ook die daaropvolgende behandeling is ’n saak vir so ’n spesialis.”

Verdere wenke om angs te hanteer

Jacques Botes beveel die volgende aan:

  • Tel jou seëninge! Wees dankbaar vir die klein, mooi dingetjies in die lewe.
  • Fokus op persoonlike en innerlike krag. En op die doelwitte wat jy wil bereik.
  • Probeer om “in die oomblik” te leef, om nie op toekomsvrese te fokus nie.
  • Kweek deernis en waardering vir jouself, vir ander en vir jou gemeenskap.
  • Probeer om die beste wat jy kán wees te visualiseer. En om ’n produktiewe, toekomstige “self” te skep.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail