Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE

Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke vir Siebert (LUCA, 2021), wyk wel effens van haar gebruiklike werk af; dit bekyk die moeilike onderwerp van dwelmgebruik by tieners.

Die storie speel af in Somerset-Wes en vertel die verhaal van Katinka wie se man onverwags aan ’n hartaanval sterf. Sy bly agter om vir hul drie kinders te sorg. Haar seuns is op hoërskool en haar dogter op universiteit.

Te midde van haar eie rouproses en al die gepaardgaande aanpassings en uitdagings sukkel sy om die tekens te sien dat haar middelste seun Siebert ’n dwelmprobleem het.

LEES OOK: Aanlyn boek ‘laat jou nuut dink oor lewe, swaarkry, die Here’

Die boek word as “’n verhaal van genesing en hoop” beskryf. Elsa sê dat sy tydens die skryfproses soms ontoereikend gevoel het om juis oor dwelms en tieners te skryf. Maar, voeg sy by, sy beskou dit as ’n voorreg om oor dié dikwels hartverskeurende onderwerp te kon skryf, en by kenners te kon leer. Die gesinne met wie sy kontak gemaak het, het haar laat besef watter lang en uitmergelende pad dit is wat sulke mense moet stap. Haar lewe is egter verryk deur die eerlike gesprekke wat sy kon voer. Dit het haar hoop gegee dat die kwessie met die nodige sorg aangespreek kan word.

Die arendsvlerke-metafoor kom uit Jesaja 40:31 wat só lui:  “… maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

Dis ’n vers wat  vir haar ’n spesiale betekenis inhou: Een van haar seuns het dit ’n klompie jare gelede vir haar gestuur terwyl haar man vir kanker behandel is. Destyds het dit vir haar baie beteken, en nou het sy dit as sentrale tema in Arendsvlerke vir Siebert gebruik.

 LiG het met haar oor die boek gesels.

Hoekom het jy juis hierdie spesifieke boek geskryf? Wat het dit geïnspireer?

Lapa Uitgewers, wat onlangs die nuwe druknaam LUCA geloods het, het my ongeveer twee jaar gelede gevra om ’n storie oor verslawing te skryf, een wat hoop gee. Ek ken mense wat hierdie moeilike pad met hul kinders moes stap, en ek was aanvanklik skepties daaroor of daar werklik oplossings is. Of daar hoop kan wees. ’n Soeke na antwoorde het my uiteindelik geïnspireer om soveel moontlik oor die onderwerp te lees. En ek het weer van Jesaja se arendsvlerke onthou.

In watter mate het jou vorige boeke en die onderwerpe daarin hiertoe bygedra?

Arendsvlerke vir Siebert is ’n heel ander soort storie as wat ek voorheen geskryf het. Ek skryf gewoonlik liefdesverhale of inspirerende liefdesverhale. Maar soos die meeste van die stories wat ek skryf, is die huisgesin ook hier ’n sentrale deel van die hoofkarakter se ontwikkeling.

LEES OOK: Verskilmakers: ’n Moderne verlore seun se genadepad

Is dwelmmisbruik by tieners iets waaroor jy baie bekommerd is? 

As ’n mens kinders het, is jy maar altyd bekommerd daaroor. Ons kleinkinders word so vinnig groot … En met tegnologie wat met die druk van ’n knoppie gevaarlike wêrelde kan oopsluit, bly dié ouma op haar knieë. Gelukkig weet ek daar is altyd ’n Hoër Hand in beheer.

Hoe hoop jy sal dit mense raak?

My wens is dat die storie hoop bring vir gesinne wat hierdie pad saam met ’n verslaafde of geliefde moet stap. En ek hoop om mense aan te moedig om na antwoorde te bly soek. Nuwe studies oor die brein, byvoorbeeld, bring beslis hoop dat ’n oplossing tog moontlik is.

Wil jy mense deur die boek laat beweeg, of eerder laat besin?

Kinders se tienerjare is gewoonlik ’n baie besige tyd in enige gesin se lewe. Voeg daarby werksdruk, huweliksprobleme, ’n wederhelf wat sy of haar werk verloor – en dis baie maklik om nie dadelik raak te sien wanneer jou kind se gedrag verander nie. Maak tyd vir mekaar, eet saam. En kyk jou kind ten minste een keer per dag in die oë. Oor ’n etenstafel, as dit kan.

Vertel van ’n stukkie hoop in die boek.

Katinka vind weer liefde. Sy loop iemand raak wat kan ondersteun en liefhê. Verslawing het so ’n vernietigende uitwerking op ’n gesin, maar daar is altyd, maar áltyd, hoop.

Wat het jy in die skryfproses geleer?

Ek het weer besef hoe oneindig groot ons liewe Vader se genade is. Dit maak nie saak hoe diep en hoe ver jy val nie, Hy sal jou elke keer weer optel. Ek het ook besef hoe nodig ons mekaar het. Vriende wat jou in ’n moeilike tyd bystaan, maak die pad makliker.

Vertel iets oor die terugvoer wat jy reeds gekry het.

Ek is telkens in trane oor mense se hartseerstories, en ek besef hoe alleen ma’s en pa’s en geliefdes voel wat die pad saam met ’n verslaafde moet stap. Een leser skryf: “Jy weet nie hoe naby hierdie boek aan my huis was nie. Ek wens so my seun kon sy arendsvlerke gekry het, maar hy het sy engelvlerke gekry.”

Bestel boek hier.

  • Gaan kyk op Elsa se webblad www.elsawinckler.com om meer oor haar vorige boeke uit te vind. Enkeles is ook in Engels beskikbaar.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img