Soggens se spitsverkeer. Die laatnagse rumoer in die straat voor jou huis. Die lewe agter ’n hoë muur. Dis die dinge wat jou na ’n plattelandse paradys laat verlang. Maar die werklikhede in jou lewe laat sulke drome bloot drome bly. Hoe nou gemaak?

DUER SUSAN GOOSEN

Die woord “platteland” roep idilliese beelde op van prentjiemooi sonsondergange, kinders wat kaalvoet in die straat speel, tuisgebakte brood, varsgeplukte groente. En al is daar diegene wat weet dat hierdie prentjie nie altyd die volle verhaal vertel nie, en in elk geval nie so rooskleurig is soos wat dit lyk nie, is daar vele stadsjapies wat hul daaglikse koffie-afspraak by hul gunstelingkoffiewinkel met graagte vir ’n rustiger bestaan sal verruil.

Die aantrekkingskrag

“Die stadiger pas op die platteland is be­slis ’n trekpleister,” sê Elizma van der Smit, ’n kliniese sielkundige in Klerksdorp. “Die omgewing, die vrede en die stilte help die plattelanders om stadiger te leef.

“Dit alles sorg dus vir baie laer stresvlakke. Mense leef in nouer kontak met die natuur. Hulle is meer bewus van die omgewing, die weer, die voëls.

“Baie mense vind ook aanklank by die plattelanders se soeke na en aangryp van gemeenskap, ‘community’, in hul omge­wing. Hulle geniet boonop die geleentheid om jare lange vriendskappe te smee. Wanneer daar nood is, kan jy op die ondersteuning van ’n hele gemeenskap reken. Die dokter ken jou naam, en al jou kinders s’n, én almal se kwale. Jy ken die maatjies, en hul ouers, in jou kind se klas. Daar is gewoonlik ook meer tyd vir die gesin, vriende en die breë gemeenskap.

“Die platteland is soms goedkoper en jou sosio-ekonomiese status maak nie soveel saak soos in die stad nie. Mense gee nie noodwendig om watter ontwerper se klere jy dra nie.

“Voeg daarby die oop ruimtes, vars lug, organiese produkte en die sterre op ’n helder aand, en die aantrekkingskrag is so helder soos jou weerkaatsing in ’n plaasdam.”

In teenstelling met …

Hierdie leefwyse staan in skrille kontras met diegene wat hul potjie in die stad moet krap. “Stadsmense beleef dikwels baie spanning as gevolg van die hoë sensoriese lading, sowel as die veiligheidsrisiko’s,” sê Elizma.

“Lang werkure lei tot ’n ongesonde leefstyl omdat mense minder oefen of ontspan, en meer dikwels kitskos eet. Lewenskostes is hoër, almal is blootgestel aan meer besoedeling. En daar is minder ruimte vir kinders om onbevange te kan speel.

“Baie tyd gaan verlore as gevolg van reistyd werk toe en terug. Daar is dus nie so baie gesinstyd beskikbaar nie.”

Natuurlik bied die stad ook vele voor­dele bo die platteland. “Die wêreld is hier op jou voorstoep,” sê Elizma. “Dink maar aan al die moontlikhede: museums, galerye, konserte, markte, feeste. En al die beroeps-, sport- en akademiese geleent­hede.

“Die groot winkelsentrums in jou omgewing beteken dat jy nooit ver na jou voorkeurprodukte hoef te soek nie. Boonop het jy toegang tot goeie gesondheidsorg en kan jy kies en keur tussen die beste skole vir jou kind. Jy leer ken mense van verskillende kulture wat jou lewe verryk en wat jou kan help om makliker oor die weg te kom met diegene wat van jou verskil.

“En jy beskik oor meer privaatheid as wat jy op die platteland sou kon hê: Daar is nie juis mense wat sommer ongenooi by jou opdaag nie. Of wat jou skeef aankyk omdat jy anders as hulle aantrek nie.”

Bring die platteland stad toe

In ’n bekende kinderverhaal oor ’n plaasmuis en ’n stadsmuis word vertel hoe die twee by mekaar gaan kuier. Hoe hulle leer hoe die ander een leef. En hoe elkeen sy eie omstandighede opnuut leer waardeer.

Die geheim, vind die twee muise uit, lê nie in waar jy woon nie, maar in wat jy van jou blyplek maak.

Die les hierin vir die stadsjapie is eenvoudig: Jy kan die vrede wat die platteland bring, ook joune maak. Elizma het ’n klompie slim planne hiervoor:

  • Bring groen plante na jou huis. Is die plek skraps? Vertikale tuine maak dit moontlik om jou eie plante en kruie binnenshuis te kweek. Geniet die kleure, geure en vars lug wat plante bring.
  • Tref die nodige veiligheidsmaatreëls, ja, maar kies om nie jou lewe in te perk omdat jy bang is nie.
  • Moenie in jou dop kruip nie. Moenie agter die hoë heining wegkruip nie. Glimlag vir ander en reik uit na diegene om jou. Knoop geselsies aan. Leer mense se naam ken – die dames by jou plaaslike supermark of die kassier by die plek waar jy weg­neemetes gaan haal.
  • Skep ’n klein gemeenskap van mense wat vir mekaar omgee. Doen moeite om jou bure en kollegas te leer ken, raak betrokke by jou kerk en jou kind se skool.
  • Doen moeite om gesonder te leef. Oefen, maak gesonde kos.
  • Maak tyd vir jou gesin. Maak saam kos, gaan stap saam, speel bordspeletjies. Sorg dat jul saamwees-tyd ononderhandelbaar is.
  • Sorg dat jul huis ’n ruimte is waar almal kan ontspan sonder dat julle elders hoef te gaan vermaak soek. Speel mooi musiek, steek kerse aan, drink saam warmsjokolade, eet tuisgebakte koekies.
  • Stel jou kinders aan verskillende kulture bloot. Praat positief oor mense wat van julle verskil en leer die kinders om hierdie verskille te waardeer.
  • Die groot klomp aktiwiteite oor ’n naweek kan tot gevolg hê dat julle nie in dié kosbare tyd behoorlik ontspan nie. Besluit saam om jul lewe te vereenvoudig. Dit kan beteken dat jou kinders naweke aan minder sportgeleenthede deelneem, of dat julle nie Sondae winkel toe gaan nie.
  • Benut naweke en vakansietye om die lewe buite die stad te verken. Kamp, gaan stap, besoek natuurtuine.
  • Wees meer bewus van wat om jou aangaan. ’n Verhoogde bewussyn van dit wat hier en nou gebeur, sal jou help om stadiger te leef, om produktiewer te wees, en gelukkiger.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail