DEUR LIANA KOTZE

Verlede week kry ek ’n foto  (sien onder) van die plaas af. Die voëlnes het die windpomp tot ’n val gebring. Eerste gedagte was, dis droogte en nou val die windpomp ook nog. My gedagtes gaan op die tweespoorpad om te bepaal waar die windpomp gestaan het in die veld. Ek dink by myself, ek sou ook liewer wou val met al die ellende om my. Al wat ek kon sê is: “Druk die voëlnes deur die hamermeul, dis kos vir die diere.”

windpomp omgewaai

Foto verskaf

Die prentjie kon ek net nie uit my kop kry nie. Sondag sit ek en luister na die diens op TV, ons kerk moes die dienste opskort weens die virus. Daar waar ek vandaan kom word eredienste nie opgeskort weens die virus, die lidmaatgetalle is so min, as een nie daar is, dan is die kerk leeg. So sit ek en luister na die diens en die Skrifgedeelte lees: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”


Lees nog getuienisse hier.


Ons wil mos altyd sterk staan, ons merk maak, maar wat as ons val? Ek dink aan my vriendin wat drome gedroom het terwyl sy op haar bed in die kinderhuis gele het – plat op haar rug. Ek dink aan my kankervriendin wat weer tot stilstand geruk is, die kanker het teruggeslaan –

op hierdie stadium het sy nie krag om op te staan nie. Ek dink aan die droogte – en begin wonder of daar ooit weer lewe sal kan kom uit die dorre landskap – die bossies wat daar was het omgewaai. Ek dink aan my vriendin wat op haar knieë bly ter wille van haar kind om ’n huwelik te red. En dan wil-wil ek net opstandig raak, hoekom moet my moeder so sukkel om regop te kom, hoekom wil die liggaam nie saamspeel en net knak soos die windpomp?

En so besef ek hoe baie keer ons moet val, soms baie hard, die doel is groter as die val.

Ek besef nou die waarde van die woorde deur die Amerikaanse entrepreneur Roger Babson: “As ’n mens plat op jou rug lê, kan jy nêrens heen kyk nie, net op.”

Lees ook: My kankerpad: ‘Twee engele, vrees en God se liefde’

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail