Disleksie is ’n leergestremdheid wat hare op die tande van al die betrokkenes verg. Veral ook diegene wat probeer help. Maar die beloning vir hierdie vasbyt-in-liefde is groot.

Caroline Boshoff se wêreld het aan skerwe gespat toe die klasjuffrou haar op ’n dag onvoorbereide leeswerk laat doen het. Sy was in graad een.

Caroline, nou 18 jaar oud en in matriek in Port Elizabeth, onthou die angs van daardie dag soos gister. “Ek het eers probeer lees, maar ek kon nie. Ek het in trane uitgebars.”
Kort hierna is Caroline as disleksies gediagnoseer. “Die kinders het my baie gespot,” vertel sy.

Disleksie

“Kinders kan so wreed wees …”
Vandag is Caroline ’n leerder aan die Cape Recife Hoërskool vir Buitengewone Onderwys. Sy is ’n uitblinker wat al ver­skeie goue medaljes by wetenskap-ekspo’s ingepalm het. Verlede jaar is die eerste prys tydens ’n wetenskap- en ingenieurswese-skou in Kenia aan haar toegeken vir haar projek “Sakha Isizwe Ngmefundo” (“Bou die nasie deur vroeë onderrig”).

Van haar ander ekspo-take het hulpmiddels bekend gestel wat ’n kind met ’n leergestremdheid, of een wat uit sosiaal-benadeelde omstandighede kom, op dieselfde akademiese vlak as dié in die hoofstroom kan help bring.

 

Dit was nie ’n gelyk pad tot hier nie. Caroline is nie wonderbaarlik van disleksie “genees” nie.

Dit was haar ma, Mariechen Boshoff, ’n maatskaplike werker voltyds in diens van die Oos-Kaapse departement maatskaplike dienste, wat haar bygestaan het. En haar oupa, Tinus Marais.

En veral haar ouma Trudie, vir wie dit ’n lewensroeping geword het.

“My droom”
Caroline sê: “As ek nie ’n verhouding met die Here gehad het nie, en as my familie my nie so bygestaan het nie, sou ek nooit bereik het wat ek wel bereik het nie.

“Ek werk baie hard. En ek het ’n droom vir my toekoms. Ná matriek wil ek universiteit toe gaan en my as grondslagfase-onderwyser bekwaam. My droom is om leerlinge met leerprobleme te help.”

Hoe weet ek dis disleksie?
Ouma Trudie sê: “Ek gee geensins voor om ’n kenner te wees nie, maar ek en Caroline het al ’n ver pad hiermee gestap. Die beste is om professionele raad te kry voordat jy self probeer om jou kind die nodige onderrigbystand te gee.

“Dis wel belangrik om te onthou, dit het ek geleer, dat kinders nie almal op dieselfde tyd ’n ontwikkelingsmylpaal bereik nie. Maar daar is tog tekens …

“Van hierdie tekens kan insluit dat die kind nie aanwysings of opdragte kan onthou en/of in die regte volgorde uitvoer nie. Die kind sukkel om te konsentreer, is aandagafleibaar, sukkel om links en regs van mekaar te onderskei en verwar onder meer die b en d; T en J; p en g. Hy of sy ruil syfers 9 en 6 om, en skryf 21 in plaas van 12.

“Die kind toon geen begrip vir ruimtelike oriëntering nie, loop maklik in voorwerpe vas, raak verward in groepe, kan nie van die swartbord na sy of haar boek reg afskryf nie (die woorde ‘raak verlore’). Die kind werk stadig, kan nie lees, spel of wiskunde doen nie.

“Hierdie kinders besef hulle is an­ders, en is dan uitgelewer aan ander wat hulle spot en sê hulle is dom. In hul poging om aanvaar te word, word die disleksiese kind dikwels die klas se hanswors, of ’n moeilikheidmaker, ’n probleemkind en selfs ’n boelie. Die dilemma word dus net groter en groter.”

“Dit het vir ons gewerk”
Trudie vertel verder wat sy tydens haar bystand aan haar kleindogter geleer het: “Jy moet die disleksielyer se selfbeeld bou, alhoewel dit nie binne ’n dag of twee sal gebeur nie. Jy moet bereid wees om baie tyd en aandag aan só ’n kind te gee.

“Jy moet vasstel wat die kind se sterkpunte is, waarin hy of sy belangstel. Fokus dan daarop, ter wille van die selfbeeld. Elke kind het immers definitiewe sterkpunte. Sommige is vriendelik, behulpsaam, het empatie met ander. Sommige is musikaal of kunstig. Sommige is lief vir die natuur, diere, plante.

“Waak teen negatiewe opmerkings as die kind nie na wense vorder nie. Sê eerder dinge soos: ‘Ek kan sien jy het vandag gesukkel om die werk te bemeester; dit was seker baie moeilik. Maar as jy aanhou probeer soos vandag, sál jy die werk onder die knie kry.’”

Liewe ouers, moenie!
Ouma Trudie rig, uit eie ondervinding, die volgende waarskuwings aan ouers of helpers:
Die kind moet nooit gespot, uitgelag of voor ander verkleineer word oor foute en flaters nie. Sulke kinders word dan bang om hul eie stem te hoor wanneer hulle lees – soos wat met Caroline die geval was.

Moet nooit jou kinders met mekaar vergelyk nie. Om byvoorbeeld te sê: “Boetie is baie jonger as jy, en hý kan al spel en skryf en lees,” is van die mees vernederende dinge wat ’n kind kán hoor.
Hoewel jy jou kinders moet prys vir elke poging wat hulle aanwend om hul beste te lewer, moet jy waak teen goedkoop lof; dis niks werd nie.

Disleksiese kinders moet nooit die idee kry dat hulle ’n las is nie. Die ouers moet egter ook daarteen waak om die kinders nooit te wil dissiplineer nie, om hulle in alles hul sin te gee en om al die nukke en grille gelate te aanvaar. Onthou: Jy maak ’n kind groot wat ’n spesiale leerbehoefte het. Jy wil hê hy of sy moet as volwassene in elke opsig by die samelewing kan aanpas en inpas. Moenie iemand grootmaak wat deur almal verstoot gaan word nie.

“Só leer ek”
Caroline, wat ondanks erge disleksie ’n akademiese uitblinker by haar skool is, sê sy memoriseer haar werk met behulp van beelde en assosiasies.

“Ek werk báie hard,” vertel sy. “Jy kan al die geleenthede en hulp in die wêreld hê, maar as jy nie jou deel doen nie, gaan jy nêrens kom nie.”

Wanneer omstandighede dit vereis, sal sy nie huiwer om te sê sy is disleksies nie. Byvoorbeeld wanneer sy vorms moet invul. Dan sal sy al die inligting mondelings oordra sodat dit deur die ontvanger daarvan op die vorm ingevul kan word.

“Ek het ’n probleem, ja. Maar ek oorkom dit; ek bly nie in die probleem se skoene staan nie.“

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail