DEUR YVONNE BOOYSEN

Op 16 Maart 2020 het die normale gang van sake by Silwerkruin ACVV Huis vir Bejaardes in Wellington verander. Die tehuis is in die lig van COVID-19 gesluit vir alle besoekers en inwoners mag nie die perseel verlaat nie. Buiten vir noodsaaklike mediese afsprake.

Skielik is ons gebombardeer met inligting vanuit alle oorde oor operasionele standaarde en werkswyses waaraan voldoen moet word. Protokolle moet opgestel word teen die spoed van lig. Inwoners, personeel en familie moet ingelig word oor die plan van aksie. Ons is intens besig en beslis nié met ons normale pligte nie.

Na die verloop van twee weke begin dit voel of ons, ons ewewig herwin het. Die abnormale begin redelik normaal voel!

Yvonne Booysen (links), tehuisbestuurder van Silwerkruin, by Cynthia Theron (85). Die foto is vroeër vanjaar tydens Mnr en Mev Silwerkruin geneem. Foto verskaf

Daar vind daagliks personeel-siftingstoetse plaas voordat personeel toegelaat word om aan diens te kom. Daar is maatreëls in plek gestel wat inwoners en familie in staat stel om via telefoon – en video-oproepe kontak met mekaar te behou.

Daar word weekliks per e-pos met familie kontak gemaak om hulle op hoogte te hou met wat in Silwerkruin gebeur. Die talle oproepe en navrae word beantwoord want daar is begrip vir die kommer van families en vir die verlange en gemis wat inwoners ervaar.


Lees nog getuienisse hier.


Ons pas steeds sover moontlik sosiale afstand toe, want hoe versorg jy ʼn verswakte inwoner op ʼn afstand, en ons gebruik daagliks liters handreiniger, baie seep en water.

Daar is vele uitdagings in hierdie tyd:

  • Personeel wat gewoonlik van publieke vervoer gebruik maak is gestrand sonder vervoer en moet inderhaas ander reëlings tref.
  • Alle medikasie, kos en ander voorrade moet ontsmet word voordat dit die tehuis mag binnekom.
  • Die alkoholgebaseerde handreiniger was in ʼn stadium onbekombaar.
  • Daar is nie beskermende klere en toerusting gratis beskikbaar vir residensiële fasiliteite nie.
  • Daar moet konstant aandag geskenk word aan die psigologiese impak van die situasie op inwoners en personeel.
  • Daar moet ʼn plan van aksie wees indien die situasie verswak en strenger maatreëls in plek gestel moet word soos dat personeel moontlik moet inwoon en ʼn afsonderingsafdelings vir siek inwoners in te rig.
  • Hoe om kontak tussen baie siek/terminale inwoners en hul familie, sonder fisiese kontak, te bewerkstellig. Dit is vir my persoonlik die moeilikste van alle maatreëls om toe te pas.

Oorvloed seëninge

Daar is egter twee kante aan elke situasie.

Afgesien van die moeilike en uitdagende deel wat COVID-19 op ons pad gebring het, is daar ook ʼn oorvloed van goeie geleenthede en seëninge waarvoor ek opreg dankbaar is en bevoorreg voel om te kan ervaar.

Ek kan eerstehands die innerlike krag van ouer persone beleef. Dit stem my nederig om te aanskou met hoeveel grasie hulle hierdie moeilike situasie hanteer. Die oorgrote meerderheid gaan onversteurd voort met hul lewe. Daar is ʼn groep wat help met huishoudelike take. Ons koperware is met Brasso blink gepoets, handrelings word ʼn paar keer per dag met ontsmettingsmiddels afgewas en suiker, meel, vullissakke en seeppoeier word in kleiner pakkies verpak.

Inwoner van Silwerkruin

Alhoewel hulle familie en vriende verlang, skryf inwoner Susan Langenhoven (bo) positief vanuit Silwerkruin-tehuis: “Ons maak musiek en sing. Danspassies volg! Ons speel bordspeletjies. En ons bemoedig mekaar geestelik.” Foto verskaf

Daar is ʼn groepie wat middae help met die bak van koekies, muffins en paasbolletjies wat saans om 20:00 by tee bedien word om te vergoed vir lekkernye wat tans nie van familie ontvang word nie.

Inwoners word aangemoedig om gereeld die buitelug te geniet. Onder leiding van ʼn inwoner, ʼn oud-verpleegkundige, word daar op die stoep gekuier en na musiek geluister, rek-en strek-oefeninge gedoen en speletjies gespeel. Die aanskoue hiervan dien as intense inspirasie.

Personeel wat kom voorspraak maak vir ʼn inwoner wat net ʼn spesifieke soort koffie drink of baie lus is vir jogurt of vars vrugte gee my ʼn warm gevoel om die hart omdat dit my verseker dat ons slaag in ons doel om ʼn verhouding tussen inwoner en versorgers te vestig. Inwoners is nie net nommers of die een met hartversaking in kamer 1 nie – hulle is mense met unieke behoeftes wat sover moontlik in ag geneem word om aan hulle ʼn betekenisvolle lewe te verseker.

Die inwoner wat my bederf met ʼn snytjie dadelbrood wat sy by Silwerkruin se onlangse basaar gekoop het en by ʼn ander geleentheid indraf om net gou ʼn grappie vir my te vertel maak my bewoë omdat ek weet dat dit haar manier is om na my welstand om te sien. In ons klein gemeenskap is ons so besorgd oor mekaar. Wat ʼn voorreg om daarin te kan deel.

Een van die goed wat die inwoners die meeste mis naas hulle families se besoeke is vars vrugte. Daar is drie keer per week vrugte op ons spyskaart. Die beheerraad het die aankoop van ekstra vars vrugte vir nog vier keer per week goedgekeur. Die gemeenskap het bewus geword van die behoefte en skenk in oorvloed, appels, granate, nartjies, druiwe, koejawels en pruime. Die seun van ʼn inwoner skenk sedert middel-Maart gereeld lemoenkonsentraat sodat elke inwoner daagliks ʼn glas lemoensap kan drink. Ons het ook skenkings van gevriesde geregte van die Cape Epic-organiseerders ontvang nadat die fietstoer afgestel is. Patats, Paaseiers, massas Proteas en bederfpakkies met ʼn inspirerende boodskap vir personeel. Ook koekies en bemoedigende boodskappe van die NG Moedergemeente se kinderkerklede vir die ouer persone. Die gebare vul ons met ʼn diepe dankbaarheid teenoor hierdie ongelooflik ondersteunende gemeenskap waarvan ons deel is.

Kind wys briefie vir Silwerkruin

Stella le Roux wys die bemoedigende briefie wat sy aan een van die Silwerkruin-inwoners geskryf het. Foto: Conette le Roux

Op Goeie Vrydag het ds Bol Botha, ʼn inwoner, vir ons ʼn boodskap gebring voor middagete in die eetsaal waar hy en die Bester-egpaar die leë graf en kruise in ʼn rangskikking uitgebeeld het. Geen besige langnaweek nie. Dit is rustig, afgesonderd die atmosfeer byna heilig, vir my ʼn baie spesiale ervaring.

Daagliks om 11:15 stop almal by Silwerkruin dit waarmee hulle besig is vir stil gebed. Elkeen bid vir dit wat op sy hart lê, vir ons wêreld, land, dorp en vir Silwerkruin. Dit was ʼn inisiatief vanaf die personeel wat ek graag wil voortsit post COVID-19. Lesers wat in die gees by ons wil aansluit is welkom.

Bid asseblief vir wysheid vir diegene wat moeilike besluite moet neem en dat dit die regte besluite sal wees. Bid ook vir beskerming van inwoners en personeel teen die virus.

Terwyl ek werk speel een van die inwoners “Nader my God by U, steeds naderby …” op die klavier in die kerksaal. Ek weet verseker wat ook al kom dat ons in die Almagtige God se hand is en dat ons dag vir dag uit sy genade kan leef.

LEES OOK: Pa-wonde kán genees

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail