Bettina stap vroue se pad vanaf Bybelse tyd tot vandag

DEUR ENGELA DUVENAGE

Oudprokureur Bettina Wyngaard het vir jare haar kennis van die regstelsel ingespan om in die Anglikaanse Kerk voorbrand vir vroueregte te maak. Tussendeur het sy ook al naam gemaak as speurverhaalskrywer, en die skepper van vrouespeurder Nicci de Wee. Deesdae is Bettina voltyds skrywer, en ’n gereelde rubriekskrywer. Haar jongste boek is die nie-fiksietitel Onverskrokke vroue: Uitdagings en oorwinnings vanaf Bybelse tye tot vandag (Lux Verbi).

Dis nié ’n akademiese teks nie. Soos sy dit stel: “Onverskrokke vroue is ’n toeganklike besinning oor vroue se posisie met inagneming van die Bybel, die grondwet en hedendaagse samelewing.”

LEES OOK: Verskilmakers: ’n Moderne verlore seun se genadepad

Sy gebruik geskiedkundige en eietydse voorbeelde uit die Bybel, dagblaaie en vanuit onlangse regsake om in vyf kategorieë oor vroue en die kerk, hul rol in die arbeidsmark, binne families en die openbare lewe, en kwessies oor hul veiligheid te besin. Die regte van vroue, byvoorbeeld in terme van erfreg en onderhoud, word keer op keer belig – ook deur ongelukkige voorbeelde waarin dié deur die modder gesleep word. Van die onderwerpe is nie aldag maklik om oor te dink nie, soos kwessies rondom mensehandel en seksuele geweld. Die boek word afgesluit deur ’n lys van regsinstrumente wat die regte van vroue op internasionale én plaaslike vlak beskerm.

Bettina skryf so: “Wanneer ons rondom ons kyk en sien dat daar pogings is om vroue se regte weg te kalwe, kan dit voel of ons een tree vorentoe en tien treë agteruit beweeg. Ons ontwikkeling is ’n brose, breekbare erdekruik. Ons moet voortdurend waaksaam wees om seker te maak ons verloor nie die vordering wat ons maak nie. Maar ons mag ook nie vergeet hoeveel vordering ons al wel gemaak het nie.”

LiG het enkele vrae aan dié skrywer gevra.

Hoekom het jy juis hierdie spesifieke boek geskryf? Wat het dit geïnspireer?

Ek het al dikwels gewonder oor die naamlose vroue wat in die Bybel beskryf word. Wat is hulle storie? Hoe was hul lewe, waar eindig hul verhaal? Daarmee saam het vroueregte my nog altyd na aan die hart gelê. Dit het my laat wonder: As ek ’n lyn sou deurtrek van vroue in Bybelse tye na vroue vandag, hoe sou daai geskiedenis lyk? Het ons gevorder? Is ons nou beter daaraan toe as destyds? Onverskrokke vroue is my poging om daai vrae onder andere ’n bietjie uit te pluis.

Tot watter mate het jou dagtaak tot hierdie boek bygedra?

Ek put uit my ondervinding as prokureur en as skrywer, maar dis veral my ervaring as vrou en Christen wat my aangespoor het om pen op papier te sit – of dan vinger op sleutelbord.

Hoe hoop jy sal dit mense se harte raak?

Met elke boek besef ek dat mense dit deur die lens van hul eie ondervinding lees. My hoop is dat die boek gesprekke binne en buite die kerk oor die rol van die vrou sal verbreed en nuwe perspektiewe sal bied.

LEES OOK: KYK: Joernalis gee hoop vir seuns met ’n afwesige pa

Wil jy mense deur die boek laat beweeg, of eerder laat besin?

Noem my gulsig, maar ek hoop dat dit albei sal doen.

Vertel van ’n stukkie hoop wat in die boek vervat word.

In die afgelope jaar, midde-in die pandemie, is daar vir vroue groot voordele in die erfreg en arbeidsreg beding. Dit maak my baie opgewonde!

Wat het jy in die skryfproses geleer?

Onverskrokke vroue het baie meer nougesette navorsing geverg as my vorige fiksietitels. Ek moes my ore selfs meer as gewoonlik teen die grond hou om seker te maak ek bly op hoogte met ontwikkelinge. Ons moes in een of twee gevalle inderhaas nuwe beslissings wat gemaak is, of gebeure wat plaasgevind het, bywerk. Dit was vreeslik opwindend.

Vertel asseblief oor van die terugvoer wat jy daarop ontvang het.

Die boek is pas bekendgestel, en daar is dus nog nie baie terugvoer nie. Die terugvoer wat ek wel ontvang het, was baie positief. Mense het gevoel dat die boek nodig en tydig is. Amore Bekker (van RSG) het dit byvoorbeeld ’n wekroep genoem. Ek sien daarna uit om reaksie van lesers te ontvang.

  • Bestel Onverskrokke vroue hier of stuur ’n e-pos na bestel@bmedia.co.za
  • Wyngaard het die Jan Rabie Rapport-prys vir haar roman Troos vir die gebrokenes (2009) ontvang. Sedertdien tel Slaafs, Vuilspel en Jagter onder haar misdaadromans. Sy het regte aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img