‘Boere gaan uit hul pad om hoop te bring,’ vertel Ivor Price

Hy hou nie van twee keer kla oor dieselfde ding nie. Hy glo onwrikbaar in hoop en goedheid, aan terugploeg. Hy praat graag oor mense wat vir hom goed was, en hy vertel wat sy oë steeds laat rek.

DEUR ENGELA DUVENAGE

As Kraaifonteinse predikantseun het die bekende Ivor Price reeds in graad 9 aan Hoërskool Eben Dönges sy eerste koerantstorie in druk gesien. Sedertdien is hy met nie minder nie as drie ATKV-Woordveertjies bekroon – vir sy rubrieke en sy radiowerk. En dis verreweg nie al nie …

Sy doelgerigtheid en toewyding word in sy akademiese geskiedenis weerspieël: Daar is kwalifikasies in taalpraktyk aan die destydse Kaapse Technikon, en in mediabestuur aan die Universiteit Stellenbosch se sakeskool en by IAJ, die internasionale vereniging vir landboujoernaliste.

Hy is tans besig om, tussen spertye en redaksievergaderings deur, aan ’n meestersgraad in joernalistiek by die Universiteit Stellenbosch te werk.

Sy loopbaan tot op hede het vir vele hoogtepunte gesorg. Hy was onder meer ’n buitelandse korrespondent in Londen, en ’n SABC2-nuusleser. As aanbieder van twee inspirerende televisiereekse oor die Suid-Afrikaanse landboubedryf, te wete Landbouweekliks en Vir die liefde van die grond, het hy op sy innemende manier ’n soort profeet vir die plaaslike landboubedryf geword.

LEES OOK: ‘Ek vind moed en inspirasie in Bybel,’ sê 21-jarige wat boek uitgee om ander te help

Dié begaafde 41-jarige werk reeds drie jaar lank saam met sy boesemvriend Kobus Louwrens aan die hoogs suksesvolle Food for Mzansi-webplatform. Hier word stories oor mense in die plaaslike landboubedryf vertel. Terselfdertyd is daar ook raad en wenke vir beginnerboere.

Nie minder nie as sewe internasionale toekennings getuig van die gehaltewerk wat hulle hier doen.

Die liefde vir grond

Dié twee vennote se paaie het twee dekades gelede in Die Burger se nuuskantoor gekruis. Vroeër vanjaar is Hartstories van ons land se boere (Tafelberg, 2021) gepubliseer, hul stories oor die opdraandes én die suksesse van kommersiële en bestaansboere regoor die land.

“Ons wou doodeenvoudig stories vertel wat nog nie in biblioteke is nie, oor mense van elke kleur en geur,” sê Ivor.

In talle persoonlike gesprekke met Kobus het Ivor besef hoe hul onderskeie invalshoeke wesenlik van mekaar verskil.

Ivor vertel: “Daar is ’n groot verskil tussen my (en ’n groot deel van Suid-Afrika wat tot dusver by die landbounarratief uitgesluit was) se beskouing, en iemand soos Kobus se siening. Hy raak byvoorbeeld nostalgies as hy Laurika Rauch hoor sing: ‘Seën my ma en seën my pa, en my oom op sy plaas in Afrika.’

“En ek het die stemmetjie in my kop van my oorlede oupa wat gesê het: ‘Die enigste goeie boer is ’n dooie boer.’

“Ek wens soms dat ek Oupa kon bekendstel aan die wonderlike mense, die hartsmense, wat ek die afgelope klompie jare regoor Suid-Afrika ontmoet het. Dalk sou dit sy perspektief verander het.”

Dis die liefde vir grond wat landboumense saambind, sê hy. “Daar is iets aards, eg, eerlik daaraan. Hulle is toegewy aan Suid-Afrika op ’n manier wat die meeste van ons nié is nie.

“Die meeste boere het ’n sterk spirituele inslag. Hulle is geloofsmense, of hulle nou Christene of Moslems is. Hulle glo aan ’n Hoër Hand wat hulle lei.

“My mond hang oop as ek sien hoe boere paaie herstel en infrastruktuur oprig – klinieke, skole – en hoe hulle hospiese bou vir sterwendes aan kanker of vigs. Hulle gaan uit hul pad om hoop te bring. Dis meer en groter as in enige ander bedryf.”

“En dit is dít wat vir my van die landboubedryf uitstaan.”

Hy sug. “Baie Suid-Afrikaners sien dit egter nie raak nie. Dis omdat landbou hom so half op die kruispunt bevind van al die geskiedkundige seerplekke in ons land. Baie mense verwar landbou en boere met die dinge wat in die land verkeerd geloop het. Ons sien dit byvoorbeeld in die debatte oor grondhervorming en grondonteiening.”

Danksy etlike duisende kilometer op die pad tydens die maak van televisieprogramme besef hy die landboubedryf en sy mense is ’n wêreld waarvan baie nie weet nie, waarvan hulle behóórt te weet.

“Ons kos kom uit die landboubedryf. Wat jy vandag geëet het, is deel van die landbouwaardeketting.”

Om heling te bring

Ivor se skryftalent is deur sy laerskoolonderwysers raakgesien en aangevuur. Deesdae ploeg hy graag sy ervaring terug. Hy ondersteun ontluikende joernaliste by die plaaslike radiostasie in die Paarl, waar hy deesdae woon. Hy is ook peetpa vir sy vriend Kobus se kinders.

En dan is daar Food for Mzansi. Dis die ideale manier om, soos hy sê, heling te bring. “Dis tot dusver die lekkerste deel van my loopbaan, maar sekerlik ook die moeilikste.”

LEES OOK: Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

Dié webplatform bereik maandeliks meer as ’n miljoen mense. Dis wel bitter ver verwyder van die soort joernalistiek wat bloot op moord en doodslag en sensasie fokus. “Dis darem lekkerder,” sê hy, “om met die lewendes te werk. Om hoop te saai.”

Dis vir hom baie belangrik om mense reg te hanteer, om hulle te help om in hulleself te glo. “Die lewe deesdae is nie eenvoudig nie. Mense probeer om die grootste uitdagings van hul lewe te oorkom.”

Ivor vertel: “Ek het al genoeg beproewings deurgemaak om te weet ek is niks sonder geloof nie. Ek glo in die waardes van kindness, van goedheid en menslikheid, en om van jouself te gee. Ek het báie respek vir mense wat hierdie dinge uitleef.

Kindness het op ’n manier my geloof geword. Die ou, ou beginsels van geloof, hoop en liefde – dít is wie ek is.

“’n Mens staan ook makliker in die oggend op as jy iets het om aan vas te hou.”

Hy het wel min geduld met mense wat inklusiwiteit teenstaan, en met diegene wat meer as twee keer oor dieselfde ding kla sonder om iets aan die saak te doen.

En hy sug diep as hy oor korrupsie en agteruitgang praat. “Suid-Afrika is ’n mooi maar ’n gebroke land. Daar is baie mense wat hul hoop vir Projek Suid-Afrika verloor het.

“Ek verstaan dit, maar ek is ook ’n optimis. Ek glo dat ons land se mense die potensiaal het om die wa deur die drif te kry.

“Daar is iets aan Suid-Afrikaners wat ek nog nie op ’n ander plek in die wêreld gesien het nie. Dink net aan hoe ons humor gebruik. Ons moeilikste oomblikke beland uiteindelik as ’n grappie op Facebook. Dis ’n manier om trauma te verwerk, dink ek.

“Dit sê ook iets van die soort mense wat ons is. Dat ons mense is wat enigiets te bowe kan kom.”

Later stuur hy my ’n WhatsApp: “Hope is the last thing ever lost.”

Food for Mzansi

Ivor sê die span by Food for Mzansi (https://www.foodformzansi.co.za/) wil nie meningsvormers wees nie; hulle wil bloot mense se stories vertel en met ander deel. “In die stryd om klieks in die digitale media is dit so maklik om ter wille daarvan nuus uit te basuin wat mense polariseer. Ons trap versigtig daarvoor.”

Om raakgesien te word

Ivor, wat uit ’n familie vol predikante kom, wou vroeg-vroeg reeds joernalis word. Hy vertel: “Ek was bevoorreg om tydens my vormingsjare omring te wees deur mense wat my talente raakgesien en geslyp het.”

Juffrou Annie van Wyk by Petunia Primêr in Kraaifontein was die eerste om sy skryftalent raak te sien. Op laerskool was Kirby van der Merwe, vandag ’n gerekende skrywer en gereelde beoordelaar by skryfkompetisies, sy taal- en kunsonderwyser.

Hy was in graad 9 aan Hoërskool Eben Donges toe sy eerste artikel – oor tienerseks, nogal – in Die Burger se skolebylae verskyn het. Daarna het hy ’n gereelde bydraer geword. Ivor sê Michelle Marais, destydse redakteur van die skolebylae, het tot sy vorming bygedra. “Sy het ’n wonderlike vermoë gehad om kinders soos ek raak te sien.

“Dis belangrik om in mense te glo. Dit maak ’n verskil. Dit het ’n invloed op die gehalte van so ’n persoon se werk.”

Harde werk

Sy eerste werk was om koerante af te lewer. Hy was ook ’n winkelassistent. Ma Arthurine en pa Wilson (met sy aftrede ’n prediker by die African Methodist Episcopal-kerk in Bellville) het die waarde van harde werk aan hul vier kinders oorgedra.

“Hulle het ’n klomp individualiste grootgemaak,” vertel Ivor, die naasoudste. “Hulle het ons toegelaat om te wees wie ons wil wees.”Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img